Hanlie Retief

Kom Dine by my

2012-12-16 00:05

In Rooi-Els draai jy links by die derde huis van die klipkoppie af na ’n spens vol kaapsche jongens, laas jaar se oes, gefles en góéd gebrannewyn.

Terwyl jy hap aan die beskonke druifbomme kyk Boetman die wolfhond jou beskuldigend aan met bejaarde oë.

En as die ou muurklok 12 uur dong, is Tannie Boerekos se skoene lankal uitgeskop en haar sinne vol smaak.

Dis hoe hulle Dine van Zyl noem, die jonges met hul nuutgevonde lus vir boerekos. Hulle vra haar: “Jy’s mos Tannie, Tannie... um, Boerekos?”

“Maar ek’s baie ander goed ook,” sê sy tergerig met die wegstap om te gaan koffie maak.

En herhaal haar ou sêding: “Ek kook, soms selfs in die kombuis!”

Die groot Boerekosboek, Dine se jongste resepteboek, het laas week ’n Gourmand-toekenning – die wêreld-Oscars vir kookboeke – gewen in die Suid-Afrikaanse afdeling. Die boek kwalifiseer om volgende jaar in die kategorie vir beste boek ter wêreld mee te ding.

“Nogal met die kos wat ons eet, ja, in die taal wat ons praat!” seg sy trots.

Sy lag haar slaphakskeentjies omdat die beoordelaars die boek in die kategorie “TV-glanspersoonlikheid” geplaas het.

“So nóú: Jamie Oliver poep in sy broek van banggeit! En daai Nigella? Sy kou naels, sy huil in haar kussing elke aand, ek is seker daarvan!”

Al daardie glans-aanbieders moet ’n slag ordentlike kos uit ’n rónde bord kom eet hier by haar op Rooi-Els, nooi sy.

“Regte kos wat jou vol maak. Want ’n man moet eet om te kan werk, ’n kind moet eet om te kan groei en ’n vrou moet eet om te kan vroulik wees.”

Die eerste kos wat Dine beïndruk het, was ’n kaastoebroodjie gedoop in koffie. Sy was nog loopneuskind.

“Jy doop hom en dan maak hy sulke geel kolle op die koffie soos die botter smelt. Dan sit ek swaaibeentjies en gesels lang stories met Kitty Julies.”

In daardie Robertson-kombuis met sy twee kokke – Dine se ma en hul huishoudster, Kitty Julies – het stories en grootword so rooi-ryp geword soos tamaties aan die stok in die Langebergse hitte.

Kitty was altyd daar, elke dag. Met haar toemaar-trose en hande wat na skottelgoedwater ruik, skryf Dine in haar kosboek Nog ’n stukkie. Op haar begrafnis het Dine in die kerkbank hartverskeurend gesnik oor daardie “middae se gesels in die kombuis... oor die vyeboommelk wat sy op my vratjie gesit het dat dit afval... oor ’n koel hand teen ’n koorsige kind... Ek huil... oor ek sonder Kitty so eensaam en verward voel.”

Troos het Dine nog altyd in die kombuis gekry.

Toe sy op 52 van haar man geskei is ná 15 jaar, het sy geen inkomste gehad nie.

Dit was vir haar die einde van die wêreld, sê sy eenvoudig.

“My lewe het stilgestaan in die huwelik. Ek het ophou glimlag. Ek het nie geweet waarnatoe nie. Regtigwaar in ’n toestand. Tot ek myself eendag in die spieël bekyk en sê: ‘Nou beter jy regkom.’”

Toe skryf Dine haarself gesond met haar boerekosboek Agter die lekker aan.

“Die skryf daarvan was vir my soos om terug te gaan in moedersvog. Daai gekoesterdheid om weer met mense te praat oor mooi goed soos patats.”

Soos haar jongste boek, het Agter die lekker aan in 2008 ook ’n Gourmand-toekenning gewen.

Dis haar pa, reken sy, wat haar pryse laat wen. Pon van Zyl. Die Robertson-kelder se legendariese wynmaker. Pon en NC Krone was pioniers met koue gisting en Pon was die eerste ou wat met ’n colombar-tafelwyn ’n prys gewen het.

Elke jaar met die hys van die parsvlag het Pon ’n toesprakie gehou vir die seisoenwerkers uit die ou Transkei.

So hoor sy hom eenkeer sê: As jy werk, moenie dit so doen dat jy hoop jou baas sien dit nie. Werk só dat jy ander kan roep en sê: Kom kýk my mooi werk.

Sy wip op en gaan haal haar boerekosboek. Klap liggies op die omslag, asof op ’n bababoud.

Groen oë nooi uit: Kom kýk my mooi boek...

“My pa is al lankal oorlede, maar daardie lessie dra ek met my saam: Werk altyd op jou mooiste.”

Sy hét. As kosboekskrywer, dokumentêre rolprentmaker, skrywer van die pryswenner-roman Slagoffers (2001). Dié boek, het Petra Müller gesê, het die hel teruggeskryf in Afrikaans – ’n hel in die lyf van ’n vrou tydens die Angola-oorlog.

Dis ’n stewige skeut patriotisme wat Dine in die 1970’s op die boerekos-wa laat beland het.

Waterblommetjiebredie, om presies te wees, vir die Vrydagaandklub.

“Ek en ’n groep vriende het beurte gemaak om Vrydagaande vir mekaar te kook. Daai dae was Franse cuisine baie gewild.

“Buitelandse kos. Ons het tot groenkerrie gemaak – ons tyd 30 jaar vooruit.”

Op die plaas by die Paarl waar sy die huisie in die uiltoring gehuur het, het waterblommetjies geil gestaan. Met háár eerste kookbeurt besluit sy: Vanaand eet julle waterblommetjiebredie.

“En toe’s daar deftige mense, jong, party van hulle is van Stellenbosch! En hulle vervreet vir hulle!”

Dit het Dine oor boerekos laat nadink: As jy waterblombredie, bobotie en skaapboud gemaak het, wat bly oor?

Die antwoord? Baie.

“Mense kan hulle tog so uitgee oor buitelandse kosse, maar jy moenie jou eie misken nie.”

En ons boerekos ís eie aan ons, knik sy. Dr. Hester Claassens se navorsing het bewys dat die sosatie soos ons dit vandag maak in die Kaap ontstaan het.

“Hy kom met ’n ompad van Europa af, waar die Perse dit in suurmelk laat lê het. Maar hier het ons druiwe, wyn – wynasyn.

“Ons sosaties het hier ontwikkel, dis die enigste kos met die aanspraak dat dit ’n egte samevloeiing van invloede is. Dis ons samebindende ding.

“Soos ons boereworswet, behoort ons ook ’n sosatiewet te hê.”

Die boereworswet bepaal dit moet 90% vleis bevat: bees, skaap, vark, maar nie wild nie.

En nie kalkoenlelle, kangaroebuidels of hoenderlieste nie.

“Net dan kan jy die plakker opplak wat sê: boerewors. En los tog al daai geuropkikkers en goeters uit. Sout is die wonderlikste ding op aarde, en ons het lieflike Weskus-sout, die Japanners is gaande daaroor. Hoekom deur jou nek betaal vir Maldonsout?”

Dan takel sy die grootste “onding wat Suid-Afrikaanse cuisine kón tref”: pakkiesop.

Niks befoes ordentlike boerekos soos pakkiesop nie. Die ergste, mense raak so gewoond aan “bruinuiesop” en “room van sampioen”, goeie kos “kort” vir hulle iets, sê Dine.

Sy gaan haal ’n paar stokou resepteboeke. Bo-op is ’n klein rooi boekie uit 1906, die oudste kookboek in Suid-Afrika: Oranje Kook- Koek- En Recepten-Boek Voor Zuid-Afrika door mev. D.J.H.

Daar lê hy in my hande: Mev. D.J.H. se kosbare, voosgelapte stukkie baanbrekerswerk.

Mense dra vir Dine resepteboeke van oral af aan, dikwels oumense se kookboeke wat al geslagte in die familie was.

Voorin is daar sinne soos: “Ek dra die kookboek aan jou oor, Lettietjie, ek weet jy gaan dit waardeer, uit die boek het my ou moeder vir ons baie lekker koekies gebak.”

“Lettie was die vierde geslag wat dit gekry het, en toe gee sy dit vir my.”

Sy tel nog een op, aanmekaargehou met repe kleeflint: S. van H. Tulleken se Die praktiese kookboek vir Suid-Afrika (1945).

“Hierdie vrou is my Elizabeth Davids.”

Aan haar toevertrou, ons koskultuur. So half terloops het ­Dine van Zyl ons kookboek-argivaris geword.

“Ek dink ek dra die fakkel.”

Sy’s ook al kosskrywer wat net oor boerekos skryf.

“Mense vra my hoekom bóérekos. Want jy moet iets hê om na terug te gaan. Om aan vas te klou.”

Mense sê vir haar sy laat hulle aan hul ouma dink. Dis vir haar ’n kompliment. “Dink net hoe moet jy voel as mense vir jou sê: ‘Oe, hoe verlang ek nou na Woolworths!’”

Presies twee jaar gelede lê ­Dine eendag op haar leerbank. “Asof in staatsie. Net mooi dié tyd rondom Kersfees. En die vakansie-families kom ons dorp in en braai op die stoepe. Toe’s ek lippe teen die klippe, want dis niks lekker om dan alleen te wees nie. En ek besluit: Nou soek ek ’n man in my lewe. Hy moet vir my ’n foto van sy 4x4 stuur, Afrikaans wees en lekker kan braai.”

Ja.

“Maar waar ontmoet jy mans? Op die rolbalbaan?” rol sy haar oë. “Op hierdie ouderdom het net ouer mans – die jongste was 72 – in my belang gestel. En hulle’t plastiekknieë. Ek sê toe vir die oom hy moenie so naby aan die vuur sit nie...”

En toe gaan soek Dine man op die internet. Sy vul die “inkopielys” in van moets en moenies. Ene Graham McCleland, ’n ingenieur, spring uit. “Hy’s net ’n 60%-pasmaat, want hy’s Engels, hy’t nie ’n 4x4 nie, maar hy’t dárem ’n boot,” grap sy.

Hý het gesoek vir ’n “homemaker”, onthou sy. “Wys jou, pasop waarvoor jy vra, want toe kry hy vir my – die oermoeder!”

Sy’t dadelik geweet (gee sy ’n vuispomp) dié man met die oop gesig kan haar gelukkig maak.

Daardie Aprilmaand is sy en haar 60-persenter saam Kalahari toe. “Ek het gereken as ons dít oorleef, kan ons aangaan. Ons het.”

Van internet tot sandkamp...

“Tot 100% geluk. Ek het my lag terug. Almal hier rond sê ek gloei deesdae.”

Op Rooi-Els, dié feestyd, het Dine van Zyl nie Krismisliggies nodig nie.

Sy’t haar man, sy’t haar boek, sy’t boerekos weer woema gegee vir die 21ste eeu.

Mooi gewerk, sou haar pa gesê het.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
7 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-17°C Showers late. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 1-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-25°C Sunny. Mild. PE: 10-26°C Morning clouds. Pleasantly warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!