Hanlie Retief

Nie ’n takkie om te breek

2013-01-29 11:45

“Dalene Matthee is mos ook daar gebêre. By die kalander. Ons het haar geken?.?.?.” Nie ’n takkie om te breek Laaste houtkappers van Knysna-bos kap nie meer Hennie en Michal Zeelie. | Foto: Werner Hills

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Dis oë sonder agterdog wat jou groet by die paaltjieshek wat styf vasgewoel is met ’n ou stuk tou.

Gesigte vars, agter die verweer, agter die baardstoppels. Bosmanne. Michal en Hennie Zeelie.

Laaste houtkappers van die Knysna-bosse.

Ons gaan sit op boomstompe onder ’n koejawelboom.

Die broers sit hande op die knieë, regop, gemaklik, gewoond om so te sit.

Drie beeste vreet gras hier om ons. Kolletjie, Witkwas “en die derde een is net ’n kalf”, sê Michal. Michal is 59, Hennie 58.

“Dis nou 11 jaar wat ek en my broer hier in die losplankiehuis bly. Net ons twee. Al die anner is nou al weg; ons neef is ook al oor.”

Hul lappie grond is langs die Goudveld-staatsbos naby Rheenendal. Sonder krag, afgesluit van die wêreld.

Verlede jaar was hulle ’n paar oomblikke op die SABC2-reeks Shoreline, as laaste stemme uit ’n vergange era. Vergooi en verwaarloos.

Deesdae het die Zeelies ’n permit nodig om in die bos rond te loop, die bos wat hulle soos ’n agtertuin ken.

“As jy nou deur die heining klim, moet jy betaal. Voorheen het ons sommer ingegaan en hout gaan saag en water haal by die fontein. Nou’s die bos vir ons toe.”

Nou’s hulle vasgekeer tussen bunny huggers en holistic horse riders van die arty Rheenendal Ramble, teenaan hierdie bos, waar hulle soveel koninklike kalanders laat val het.

Michal: “Onse oupa Michal-hulle was die eerste houtkappers. Uit 1885 se dae. Ons is die nasate.

“Toe ons opgeskote raak, onse staan kry, het ons op Bramekraal gebly. “Hendrik Vonk was oorlede pa se bynaam. Skraal soos ons, maar hy was ’n haastige man.”

Hennie gaan haal ’n foto’tjie uit die huis. Wys stywevinger. Werkershande, sien jy.

Hulle ken die vat van ’n byl, die vou om ’n treksaag.

“Dis oupa Michal en ouma Jacoba onder die akkerbome op Bramekraal, en onse ma se suster Cornelia en onse ma Maria Magdalena.”

Hy raak weemoedig.

“Ai.” Dik blokke ysterhoute en kalanders en stinkhoute het Oupa-hulle met ’n span osse die klippad af Knysna toe gekarwei, vertel Michal.

“Smôrens halfvier is ons op pad. Af met die ou Phantompas, en onder by die ou rooi brug is dit eers ’n uitspanning, dan drink die oumense koffie.

“Dan is dit deur die drif anderkant uit na die fabriek óf by Parks óf by Thesens.

“Ons het ook begin kap toe ons jong laaities was. Ons het súlke blokke gesaag. Hiérdie hoogte,” wys hy.

“Ja. Ja.” Nou hoe kap mens ’n boom? “Nee jy vat ’n gewone byl.” Hy soek in die hoop vuurmaakhout rond.

“Waar’s die byl nou? Jy tjip hom, tjip hom voor,” beduie sy hande.

“En dan saag jy hom agter met die treksaag. Jy kyk op na die kroon toe. Jy meet hom, kyk: gaan die wind hiernatoe of daarnatoe.”

Vir die Zeelie-broers het ’n boom nog nooit verkeerd geval nie.

“Ou ­George Barnard, hy’t ’n Dodge-lorrie gehad, hy’t ook so bos gewerk.

“Net hier op die rug, toe kap hulle ’n ysterhoutboom. Hulle’t nooit gesien bo in die boom hang ’n los stuk tak nie, en toe ou George die boom trek, val daai stuk tak hom middeldeur. Net hierso,” druk hy teen sy borskas.

“Toe hulle die tak uit hom trek, toe spring die bloed uit.”

Hy’s dood? “Hy’s dóód, ja.”

En daar’s Jan Plan gewees.

“Hy was nie heeltemal all there nie.

“Die middag laat, toe wonder hulle: Hoekom kom Jan nie aan nie? Sy pa dink: Ag wat, hy bly seker maar vanaand in die bos, slaap daar by die skerm; hy’t mos kos by hom.

“Die volgende dag kom hulle daar, huh-uh, hy is nie by die skerm nie.

“Oulaas kry hulle hom by Krisjan-se-Nek, waar die boom hom vasgelê het. ’n Week lank het hy daar gelê. Al vol brommers.”

Wanneer was dit? Die Zeelies raak vagerig. Seker ook so... tussen die 18de en die 19de eeu, ja. Krisjan-se-Nek.

“Dalene Matthee is mos ook daar gebêre. By die kalander.

“Ons het haar geken; sy’t saam met ons rondgegaan, was baie hierso in die bos gewees. ’n Goeie vrou. Ja. Ordentlike vrou gewees. Mooi maniere gehad.”

Hennie: “Sy’t mos die boeke ook geskryf. Nee,” skud hy kop, “ons het nie die boeke nie. Die mense het. Daar gaan vakansietye baie mense na haar graf toe.”

Dit was ’n klómpie jare terug wat hulle laas ’n olifant gesien het.

“Hier was vyf of sewe.”

By Kom-se-Pad, laas, lê ’n ysterhout platgetrap deur olifant se kind – so half in ’n drifkloof af.

“Jy sal sweer dis ’n bulldozer soos hy afgeskuif het in die kloof. Hy’t mos naels nes ’n hond; hy grawe gate ok, nes ’n hond.”

Self was die Zeelies nog nie so naby die grootvoete nie. Huh-uh. Nee. Hulle trek hul lywe sommer skraler by die blote gedagte.

“Kyk, die makkes is orraait, maar die wíldes, huh-uh. As hy staan en slaap, dan kan jy maar sággies verbygaan.

Maar jy moet watch: As hy sy ore eers beginne roer, dan moet jy pasop – nou, nou gaat hy jou skil.”

Hy flap met sy hande. Een grootvoet, ou Aftand, het die heinings by Kruisfontein altyd so staan en aftrap.

“Hy’t tussen die huise geloop; die mense het hulle nie gesteur aan hom nie. Hy was naderhand mak gewees. Wild, maar mak. Hy’t met ’n kruiptrekker gaat moeilikheid soek en toe hy hom omtiep, breek sy tand af.

“Daai ou Breytenbach het Aftand geskiet terwyl hy in die inheemse bos staan en slaap het. Toe gaat begraaf hy die ivoor op Saasveld. Hulle maak mos klavierklawers van daai tanne.

“Dit was amper moeilikheid gewees. Breytenbach is toe hier weg, vinnig terug oorsee.”

Hulle begin lag en vertel van ou Ernst Koeke wat so hoog in ’n mik geklim het om van ’n olifant weg te kom, hy sit toe daar vas en huil.

“Hulle sê vir hom spring af. Maar dan gaan hy hom doodval, sê hy. En dán? Later sê hulle vir hom: ‘Oukei raait, hou nou vas nes ’n kat, dan kom jy agteruit af.’ En daar’s die ou toe onder.”

Voel hulle nie soms hartseer om die bome af te kap nie?

Michal: “Ag nee, as jy hom moet werk, moet jy hom werk. Vir die geld,” vryf hy sy vingers teen mekaar.

Maar dis nie meer soos daai jare nie.

“Ons was jongmanne toe die staat die bosse oorgevat het. Toe bosbou die boswerkers tot niet gemaak het. En toe, nou ja.”

Boswerk is al jare verby vir die Zeelies. Hulle doen los werkies. Tuinwerk. Maak balke, deure en venster­rame vir vakansiehuise.

“Soos ons nou hier sit, mag ons nie ingaan bos toe by daai hek nie. Dan kom die bosopsigters: ‘Waar’s julle permit?’ As jy nie een het nie, o dan: ‘Kom, kóm,’” wys hy, “‘kóm, ons gaat jou toesluit.’”

Daar klim ’n hol hartseer in Hennie se stem. Die gemoed raak stroewer hier onder die koejawelboom.

“Húlle met die groen klere aan. Laat hulle net sien jy’t ’n takkie afgebreek, of ’n jong boompie uitgehaal. By die hof voor die landdros – help nie jy stry nie – dis nét jy, jy’t hom uitgetrek. Nie ’n boete nie, hulle sluit jou toe.”

Die Zeelies raak stil. Al wat jy hoor, is die voëls in die bome en die beeste se kalm gekou. Tarzan die hond verskuif sy nek in die ketting. Sug. Swartpotte staan en prut in die kookskerm. Mirragete.

“Ons gaan maar so aan soos die oumense se staail,” verduidelik Michal.

Winters en somers sit hulle hier, dag vir dag. Hulle’t kapok hier sien verbytrek in 1972. Droogtetye, geil tye. Só sit hulle dag vir dag. Michal en Hennie.

Van byle weet hulle, nie van megabytes nie. Van pikstele en grawe en bobbejane wat smôrens die vyebome kom plunder. Nooit vrou gevat nie.

“Ag néé wát,” kom dit gelyk. Loer vir mekaar en lag sonder dat jy tande sien. Maar daar wás mooi nooientjies.

“As ons Saterdagaande gaan dans, ja. Was lekker gewees. Baie gedans, ja. Dan speel ou Pieter Koen-hulle viool en kitaar.

“Dan maak hulle heuningkarrie en jy het lawwigheid. As ’n ou hom nie gewoond is nie, hou jy nie op agter daai lekkergeit aan nie.”

Hy het nog ’n bietjie karriemoer in die huis, sê Hennie en verdwyn vol belofte die donker huisie in, kom terug met ’n lapsakkie en wikkel dit los, eerbiedig amper.

Onderin lê ’n paar krummels karriemoer. Lawwigheid.

Sy duim kry plek in sy pyp. Hy stop hom bedrewe, trek die Lion-vuurhoutjie, suig. Dié pyp het hy op 17 gekry.

“Ek het hom al verloor. Dan dink ek: Jou gaan ek nie weer kry nie. Maar later tel ek hom weer iewers op.” Grinnik.

“Dan sê ek: Nee, jy weet van my; jy kruip vir my weg.”

As die broers siek word, drink hulle sommer bosmedisyne, vertel Michal.

“Gansies. Dis soos gal, so bitter. En bergboegoe vir verkouente en jig en sulke goete. Vernaam as jou maag pyn.”

“Ons stel ons nie aan om dokter toe te gaan nie,” knik Hennie. Hulle praat saam-saam, pruttel soos ’n koffiepot op die vuur. Wat onthou hulle van hul ma?

“Haar hart. Sy was ook maar ’n vrou gewees.”

Nadat sy soggens haar huiswerk kant en klaar het, dan vat sy haar bitter koffie en gaan skoffel in die groentetuin.

Kort-kort gaan sy binnetoe, kyk hoe rys die brooddeeg. Knie af, maak toe, gaan skoffel verder.

“Dis haar ding daai gewees.”

Sy oë raak ver, sy ma se onthou kom lê in hom.

“Ons eet nog so die aand, toe vra sy ek moet vir haar iets doen. Vat daai groot waskom, gooi water in, maak hom lekker lou, sê sy. Ek moet haar voete was.

“Sy’t my dit nog nooit gevra nie. Maar ek doen dit toe. Daarna drink sy bitter koffie en eet ’n toebroodjie en sê: ‘Ai, nou’t ek lekker koffie gedrink en toebroodjie geëet,’” onthou hy die stukkie detail.

“Ons lees uit die Bybel, en onse ma sê sy dink altyd aan ons twee. Oukei Ma, good night, lekker slaap.

“’n Rukkie later word ek wakker. ‘O, my kinders,’ roep sy, ‘ek het nou so ’n bittere pyn.’

“Ek hardloop uit na haar broer. Hy kom sommer in sy pajamaklere, hy trek net boetse aan. Ek hardloop deur die kloof, roep haar suster en swaer.

“Maar toe haar broer daar kom, ag, sy staar so, toe druk hy haar oë toe. Hulle vat ’n kombers, gooi dié oor haar. Liewe Jesus het haar kom haal.”

Hy sluk droog.

“Dís darem gou gewees.”

Maria Magdalena Zeelie (58) is begrawe in ’n swarthoutkis wat haar seuns vir R560 gekoop het, R10 afslag vir kontant.

“Sy’s gebêre in Bramekraal, ja. Onse ma.” Die middagson sif deur die blare, laslap die grond in lig en skadu. Langsaan kan jy amper hoor hoe haal die oerbos asem. En die twee broers sit hul vredige sit.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
6 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 18-24°C High level clouds. Mild. Pta: 12-26°C Sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 10-22°C Sunny. Mild. Bfn: 10-25°C Mostly sunny. Pleasantly warm.
Dbn: 19-27°C Morning clouds. Mild. PE: 17-23°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!