Hanlie Retief

'Reeva was 'n goeie mens'

2013-02-23 23:02

Hy was altyd daar vir haar. Sy sou hom eerste bel as sy in die moeilikheid is. Toe haar motor breek, het hý gaan help. Saans as sy uitgaan, was daar altyd eers die klop aan sy deur en haar vragie: “Lyk ek darem oukei?”
“My Johannesburg-pa,” het sy hom genoem.

En toe, laas Vrydag, was Cecil Myers ’n laaste keer vir Reeva Steenkamp daar.

Hy het haar lyk gaan uitken.

“Dit was vir my verskriklik erg; ek kon nie self terugbestuur huis toe nie.”

Reeva was soos ’n dogter in Cecil en Desi Myers se huis. Sy het sedert September by hulle in Glenhazel, Johannesburg, gebly, maar sy is eintlik al ses jaar lank deel van hul gesin, hul dogter Gina se beste vriendin.

Cecil het Reeva se pa die eerste keer ontmoet by haar begrafnis in Port Elizabeth. “Haar pa het my aan vriende voorgestel as Reeva se ‘Joburg-pa’. Hy’t aanhou dankie sê dat ek so mooi vir sy dogter in Johannesburg gesorg het, haar veilig gehou het.”

Hy lag wrang.

“Maar hoe veilig hét ek haar gehou... sy is geskiet.”

Twee beelde die afgelope week van twee pa’s op die uithoeke van dieselfde tragedie: Henke Pistorius reg agter Oscar in die hof, spanning en kommer duidelik op sy gesig.

En aan die ander kant, weg van die kameras, die private hartseer, verslaenheid en woede van Cecil Myers.

Cecil praat nou vir die eerste keer oor die tragedie.

“Ek praat, want dis orals net Oscar, Oscar. Maar Reeva is die slagoffer; haar stem moet ook gehoor word. Mense moet weet wie was Reeva Steenkamp.”

Die Myers het Oscar goed geken. Dis by hul voordeur waar Oscar die eerste keer die klokkie gelui het om Reeva uit te neem.

Dis uit dié voorstedelike huis waar die glansromanse ontwikkel het.

Die laaste keer wat Cecil en Desi van Reeva gehoor het, was laat die Woensdagaand, enkele ure voor haar dood.

Hy vertel: “Ek het hierdie ding met al drie kinders (Reeva en sy eie dogters, Kim en Gina): As hulle nie die aand huis toe kom nie, moet hulle SMS. Toe SMS Reeva: ‘Hi guys, I’m too ­tired, it’s too far to drive, I’m sleeping at Oscar’s tonight. See you tomorrow.’

“Môre het nooit vir haar aangebreek nie... Ek het snags nagmerries oor hoe bang sy moes wees. Kan jy jou índink hoe bang sy was?

“Dit was die laaste SMS van haar selfoon af, seker so tienuur, halfelf gestuur – gewoonlik die tyd wanneer hulle SMS.”

Vroegoggend het hulle die nuus gekry. “Gina was histeries. Sy’t begin skree in haar kamer: ‘Reeva is dood!’

“Hoe kan ek dit vir jou beskryf? Alles was in ’n waas daarna, die tydsverloop vaag.”

Cecil, Kim en sy seun David is na die Boschkop-polisiekantoor om die lyk te gaan uitken.

Dit was ’n chaotiese oggend. In die harwar het hulle verdwaal en toe hulle uiteindelik daar kom, moes hulle eers koes vir die media en toe hoor die lyk is verskuif na Bronkhorstspruit. Boonop het die patologie-professor die uitkenning uitgestel tot die volgende dag, want niemand mag haar lyk aanraak voor die lykskouing nie.

“Ons volg toe die speurder na Oscar se huis om Reeva se kar en besittings te gaan haal. Wat ’n nagmerrie.”

Daar’s verskrikking in sy stem.

“By sy huis was seker 20 polisiemanne. Ek het my kop by die voordeur ingesteek, baie bloed op die voorportaalvloer gesien en teen die trappe op.”

Hy onthou elke oomblik van die uitkenning, presies 10:40 daardie Vrydag.

“Ons het deur ’n glasvenster na haar gekyk. Sy het... jy weet...hoe lyk iemand wat geskiet is...

“Hulle’t dit probeer makliker maak vir ons. Gesê as ons teen die venster klop, sal hulle haar dadelik uitstoot tot agter in die trokkie waarmee hulle haar daarna Port Elizabeth toe geneem het.

“Gelukkig was my seun daar vir my, want ek het gebreek.

“Hoe sy gelyk het... sal vir ewig in my kop bly.”

Cecil verwyt homself, wonder wat hy kon gedoen het om Reeva veilig te hou, om dié tragedie te keer. Dit vreet hom op.

Hy’s oorbeskermend oor sy dogters, erken hy.

“Watter pa is nie? Ek haat dit as hulle saans alleen uitgaan. Maar wat kan mens doen? As ek my sin kon kry, het hulle nóóit saans uitgegaan nie.

“Dis vir my die ergste: Hét Reeva maar eerder ’n kans gevat en huis toe gery daardie aand...

“Ek moes haar terug geSMS het: ‘Ons kry jou halfpad, dan ry ek en Desi jou kar terug.’ Dan was sy nou veilig.”

Hy het gelees hoe dankbaar is die ouers van Samantha Taylor (Oscar se eksmeisie) dat hul kind dit gespaar is.

“Ek word rasend as ek dink dit kon Kim of Gina getref het.”

Net Oscar weet wat gebeur het, sê hy.

“Sý kan nie meer vertel nie.”

Hy skep asem. Sê driftig: “Die waarheid gaan uitkom. Wat ook al gebeur, of hy tronk toe gaan of nie... Hy kan brand in die hel. Sy gewete sal hom opvreet.”

Is hy oortuig dat Oscar skuldig is aan moord?

“Sy was my klein dogtertjie, en hy het haar vier keer van agter ’n toe deur geskiet. Een skoot is dalk ’n fout, maar viér keer?”

Cecil wil nie meer TV kyk nie. Word soggens wakker, gaan werk, probeer sy kop reg hou, dan konfronteer dit hom: “Hoof-opskrifte, plakkate – maar waar’s die opskrifte wat sê Reeva was ’n goeie, goeie mens?

“As Reeva in ’n vertrek ingestap het, was dit asof daar ’n stukkie son begin skyn. Regtig, ek oordryf nie. Sy was eenvoudig net so ’n soort mens. Wat ’n ordentlike kind...

“Haar loopbaan het net begin vlamvat.

“Ek het haar nog geterg sy’t ’n prokureur nodig om haar kontrakte te hanteer, toe terg sy terug: ‘Got it covered.’ Sy was immers sélf ’n prokureur!”

Nou is hy die eksekuteur van haar boedel. “Die hartseer wrap-up van ’n beeldskone jong vrou wat nog nie eens haar lewe begín het nie.”

Vir “pa Cecil” het Reeva altyd bederf met twee groot choc-chip-jogurts van Woolies. Sy het alte goed geweet hy is gek daaroor, lag hy. En vir haar, soos vir sy eie dogters, het hy altyd vinnig-vinnig voor groot dates gesê: “Jy lyk oes, gaan trek ander klere aan.” Of: “Mmm, ’n miljoen dollar. Geniet jou aand, maar wees versígtig.”

Enkele dae voor haar dood, onthou Gina, was sy in die kombuis doenig toe sy hoor hoe haar pa en Reeva gesels oor vrouemishandeling en Swart Vrydag.

“Reeva was vasbeslote om ’n verskil te maak, om mishandelde vroue te help,” vertel Cecil.

“Hoe ironies, die gewelddadigheid van haar eie dood. Waarvoor sy gestaan het, was toe die einde van haar.”

As Oscar nou oorkant hom sit, wat sou hy hom vra?

“Hoekom Oscar, hóékom het jy dit gedoen? Ek sal niks aan hom doen nie, want as als klaar en verby is, moet hy daarmee saamleef.

“Ek hoop hy kry ’n lang vonnis. Kry wat hy verdien.

“Mense gaan nou wegbly van hom af. Vroue ook. Hulle sal te vrekbang wees; geen meisie wil haar ar** afgeskiet hê nie. En as mý dogter met hom wou uitgaan, sal die pôpo die fên tref.

“Ek het ’n drukkersonderneming en ek het groot, geraamde foto’s van my en Oscar. Ek het hulle almal stukkend gebreek.

“Ek wil niks meer van hom weet nie.”

Hoe was Oscar?

“Buierig, dink ek. Baie gaaf en sjarmant met ons toe hulle begin uitgaan het. Toe’t hy nog altyd ingekom en kom groet.

“Maar toe hulle begin vas uitgaan, het hy haar net op- en afgelaai. Dis mos nie reg nie. Ek noem dit respek. As jy in ’n verhouding is en jy kom haal die ‘dogter’ in die huis, kom sê jy darem hallo.”

Cecil onthou hul eerste afspraak, kort nadat sy met Warren, haar vorige kêrel, uitgemaak het. “Sy’t Oscar vergesel na ’n sport-toekenningsaand. En van toe af wou hy haar nie uitlos nie. Hy’t haar aanhou pes, haar gebel en gebel en gebel.

“Oscar was haastig en ongeduldig en baie buierig – dís my indruk van hom.

“Sy’t vir my gesê hy druk haar ’n bietjie in ’n hoek. Sy voel ingehok. Ek het toe vir haar gesê ek sal met hom praat.

“Ek het toe vir hom gesê moenie jou opdring nie. Back off. Hy’t ingestem, maar sy gesig het my gewys wat hy dink: ‘Ag, hierdie ou praat nonsens.’ Hy hét dinge ’n bietjie laat afkoel. En toe begin hulle vas uitgaan en sy was ál meer by sy huis.

“Ek het eendag met haar gepraat oor Oscar se buierigheid. Sy’t my nie geantwoord nie.”

Die dag voor Valentynsdag het Cecil Reeva help kies aan foto’s wat sy vir Oscar in ’n raam wou gee as Valentynsdag-geskenk.

“Wat ’n Valentynsdag.”

Hy neem Oscar se getuienis dat hy en Reeva smoorverlief was op mekaar met ’n knippie sout.

“Ek dink sy was lief vir hom, maar dit was g’n gróót liefde nie.”

Was hy ooit bekommerd oor Reeva en Oscar?

“My antwoord daarop is geen kommentaar, en dis seker genoeg van ’n antwoord. Daar’s ’n donker kant aan hom. En al waarmee ons nou sit, is ’n groot leegheid.”

Eendag, as Reeva se kamer in die Myers se huis opgepak is, as tyd die verwyte laat vervaag het, sal daar steeds twee verwoeste lewens oorbly.

Die goue meisie en haar ster met die lemvoete.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
36 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 14-20°C Sunny. Mild. Pta: 3-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-16°C Sunny. Refreshingly cool. Bfn: 0-19°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-27°C Sunny. Mild. PE: 15-24°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Konsultante

Johannesburg CBD
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 000 - R35 000 Per Month

Konsultante

Randburg
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 000 - R35 000 Per Month

Afrikaans Sales People needed

Pretoria
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R10 000 - R15 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!