Hanlie Retief

'Rus lekker, pa Koot'

2012-12-22 23:57

"My pa het my reg in die oë gekyk. Sjoe. Sy oë was so léwendig. Asof hy wil sê: Kry my hier uit. Hy kon nie praat nie, die suurstofmasker was oor sy gesig. Dit het gelyk asof hulle suurstof in my pa inbláás.

“Hy het my hand gedruk met daai klein bietjie krag wat hy in hom oorgehad het. En toe moes ek gaan.

“Dis nie hoe ek hom die laaste keer wou sien nie.”

Twee dae later, op Saterdag 15 Desember, is Koot van Heerden (64) – groot, joviale slot wat ­ligarugby vir Centurion gespeel het – oorlede.

En nou’s dit Dinsdagmiddag en Kurt is stukkend. Niks dans nou in daai bekende liedjiestem van sovele platinumtreffers nie.

Oormôre begrawe hulle sy pa.

Hy en Dunay het ’n paar dae kom wegkruip in ’n gastehuis in Muldersdrift. Om asem te skep. Om krag te kry.

Sy week voel vir hom onwerklik. Die een oomblik tree hy op voor vakansiegangers in Jeffreysbaai, die volgende oomblik staan hy by ’n kis. En daardie selfde aand wéér op die verhoog by Badplaas.

“The show must go on...”

2012 wil hy nooit weer oorhê nie.

Hy en Dunay is vanjaar dubbeld geslaan.

Dunay se pa, Barry Nortjé, is ses maande gelede oorlede, óók aan emfiseem. Op hul troue verlede jaar het Koot en Barry altwee daar gesit met hul suurstofbottels.

“Ná my skoonpa se dood het my skoonma al sy ekstra medisyne en suurstofbottels vir my pa gegee. Duisende rande se goed. En soos die lewe maar werk, het dié medisyne ’n groot rol gespeel om my pa se lewe te verleng.”

Wat ’n ironie: Dunay se pa se dood het sý pa langer aan die lewe gehou.

Ure nadat Kurt gehoor het sy pa is dood, moes hy by die Oesfees op Caledon gaan optree. Hy’t pas in die Kaap geland, toe bel sy broer hom met die nuus.

“Ek weet nie wat’s die ergste nie, om die doodstyding te verwag of nié te verwag nie. Ek het dit verwag, maar dis steeds so ’n skok. Dis so finaal.”

En toe ry Kurt maar Caledon toe, gaan “Voorwaarts Mars” hy, gaan sing “Lekker lekker” met ’n seer hart.

“Dis hoe ek sulke goed hanteer. Ek kan nie net stilsit en mope nie.”

Die moeilikste was die Donderdagaand nadat hy sy pa vir oulaas gesien het. “Ons het Kersliedjies gesing in die Dome. Met die eerste note van “Amazing Grace”, toe sláán dit my. Ná die vertoning is ons Comedy Club toe. Ek het heeltyd gesit en dink: Hoe kan ek hier eet en lag terwyl my pa stoei vir asem?”

Daardie nag in die Palazzo-bed in Montecasino kon Kurt nie ’n oog toemaak nie.

Daar in die donker het hy ánder nagte, lank gelede, onthou toe sy pa die seunskinders drie-, vieruur wakker gemaak het om boks te kyk. Gerrie Coetzee. Kallie-hulle. En Corrie Sanders, wat later ’n groot pêl geword en gereeld saam baars in Kurt se plaasdam gaan vang het.

“Nou óók weg. Wat ’n jaar...”

Sy pa was ’n bietjie van ’n legende in Centurion, sê hy aangedaan. “As jong man was hy Verwoerdburg se coolste ‘ouk’. Hy en my ma het op 20 en 17 hul eerste kind gehad, en toe kom ons ander drie so op ’n ry.

“Ons het daar in die ou Verwoerdburg grootgeword. Ek, my pa en my broer Darryn het in ’n stadium al drie in dieselfde rugbyspan gespeel.”

Die Steak & Ale-pub was vir sy pa soos ’n tweede huis. “Nes daai pub in die TV-reeks Cheers. My pa was ’n regular sonder om ’n dronkie te wees. Hy’t net altyd daar gesit en sy vriende baie, baie geniet. Omgegee vir mense. Moeite gedoen met almal. Bouer, loodgieter, vriend, dis wat hy was.”

Deur die jare het Koot ook vriende geraak met die kunstenaars wat daar opgetree het, soos Anton Goosen, Valiant Swart, Gian Groen en Karen Zoid. Dis nog ’n era wat dié jaar verby is: Sewe maande gelede het die Steak & Ale afgebrand.

Kurt wens hy kon nog één bier saam met sy pa gedrink het. Altyd wanneer hy teruggekom het ná ’n konserttoer en hy dwaal in die huis rond, het Dunay vir hom gesê:

“Engel, gaan drink gou ’n bier saam met jou pa.”

“En ek wens ek kon nog één game poker saam met hom gespeel het.”

Maandae, Kurt se dag vry, het sy vriende en pa altyd kom poker speel, dan maak Kurt vir hulle bunny chows.

Skoonpa Barry se laaste, moeilike maande het Kurt voorberei op wat op sy eie pa sou wag. Twee keer moes hy emfiseem se aftakeling aanskou, die lang, uitasem wag vir die dood.

“Die paniek in hul oë. Die gewigsverlies. As jy wil hoes, kan jy nie eens asem intrek nie. Ek haat die siekte. Ek háát sigarette. Al daardie vinnige los sigarette wat ek vir my gaan koop het by die motorhawens...

“Ek wil nie preek nie, maar hóór my: lós sigarette. My pa het 15 jaar gelede opgehou rook. Maar toe’s die skade reeds daar. Toe haal dit hom in.”

Hy sug moeg. Sy kop is suf vandag, sug hy weer, sukkel om sy sinne mooi uit te kry.

“Dit was ’n moeilike, moeilike jaar,” hoor jy weer.

Ook oor al die bankrot-stories.

“Weet jy hoe voel dit om straat-af te ry en jy lees op elke koerantbanier, op elke telefoonpaal: Is Kurt bankrot?”

Ná 20 jaar in die bedryf bel vriende hom en vra: Is jy en Dunay orraait? En jou geldsake?

Die bankrot-gerugte loop al maande, maar toe Kurt boonop verlede maand sy huis in Centurion én sy wildplaas verkoop, was dit olie op die vuur.

“Alles gaan 100% met my, maar dis glad nie lekker dat mense heeltyd so bespiegel nie. Hoekom sê mense sulke lelike goed oor my? Ek het hulle mos nie kwaad aangedoen nie?” vra hy gekwets.

“My loopbaan is nie besig om te fade nie; my nuutste CD het dan binne ses weke platinum gegaan. Maar die mark ís af en almal kry ’n bietjie swaar. Mense het nie meer soveel geld om shows te gaan kyk nie.”

Moedeloos: “Die koerante probeer al járe ’n skandaal oor my kry, maar dit gaan nooit kom nie; ek lei ’n gewone, normale lewe – ek’s net in die kollig.

“Ek is trots om te sê ek het ’n goeie sakebrein. Deur die jare het ek in goeie bates belê, maar ook slegtes. Ek raak nou van onnodige eiendomme ontslae.”

Hy’t sy spogplaas verkoop, sê hy, omdat hy nie meer daar uitkom nie. “Boonop is my voorman oorlede – en as jy nie ’n wildplaas ordentlik bestuur nie, is dit ’n bodemlose geldput. Ek het dit agt jaar terug vir R3 miljoen gekoop en nou meer as R6 miljoen gekry – nie sleg nie.”

Hy en Dunay gaan in die nuwe jaar by St. Johann in Oostenryk ski. Dis hul tweede ski-vakansie. Dunay vertel sy was die eerste keer maar traag om te gaan, “maar dis toe een van die mees romantiese vakansies wat ons saam gehad het”.

Einde Januarie tree hy in Nederland op, “en dan begin ons skiet aan The Dance, ’n fliek met Hollywood-akteurs waarvan ek die regie doen en die hoofrol speel. Ek dróóm flieks uit, so ek sien vreeslik uit daarna. In Maart vat ek en Dunay weer die pad Australië en Nieu-Seeland toe vir optredes.”

Hulle gaan tydelik in sy huis op Langebaan bly. “Volgende jaar wil ons ’n huis in ’n veiligheidsoord in Gauteng laat bou. En as dit klaar is, wil ons graag met kinders begin.”

Dis sy kinderjare wat Kurt geleer het om met geld te werk, vertel hy. Ná sy pa se tweede huwelik was hulle nege kinders in die huis. Hulle moes die rieme fyn sny.

“Daar was nooit genoeg geld vir my om op dinge soos skool-uitstappies te gaan nie. Ons kinders het dikwels by Checkers gaan trollies stoot vir ekstra geld. Ons was glad nie skaam daaroor nie, dis maar net hoe die lewe was. Daar’t ek geleer hoe belangrik geld is, dat niks van niks kom nie.”

Kurt was in st. 8 toe sy ouers geskei is. “Ek steur my nie veel aan sulke goed nie. Mens moet net gelukkig wees. Maar ek weet ek en Dunay sal nooit skei nie. Ek is té lief vir my vrou.”

Dis die countrysanger Lance James wat Kurt se verhoognaam uitgedink het. Sommer eendag in ’n hysbak, op pad na Kurt se heel eerste TV-optrede in 1990. Lance was soos ’n tweede pa vir Kurt. Hy kýk Kurt toe so in die hysbak en sê in sy tipiese Lance country-vibe Kurt van Heerden klink heeltemal te “loslappie” – wat van... Kurt Darren?

En... ’n ster is gebore.

“Maar ek’s glad nie skaam vir my Van Heerden-van nie. Nee. Ek is trots daarop, ek is Koot se kind.”

In Caledon se Oesfees-saal, daardie hartseer-aand, het Kurt spesiaal sy pa se gunstelingliedjie gesing: “Hemel op Tafelberg”.

Hy kon sy pa vóél.

“Die liedjie gaan oor als wat goed is. Daar’s goud in die koringlande, dit reën in die Klein-Karoo. En ek wou daarmee vir hom sê dis oukei, Pa, rus lekker. En geseënde Kersfees...”



Kurt Darren se ouers in hul jong dae.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
8 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 18-24°C High level clouds. Mild. Pta: 12-26°C Mostly sunny. Pleasantly warm.
Jhb: 11-21°C Morning clouds. Mild. Bfn: 11-24°C Sunny. Mild.
Dbn: 19-28°C Afternoon clouds. Warm. PE: 16-21°C Mostly cloudy. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

25% afslag op topverkoperboeke!

The Real Meal Revolution van Tim Noakes, Jeffrey Archer se Be Careful What You Wish For, Man’s Search for Meaning van Victor E. Frankl en nog baie meer titels. Koop nou!

Baie eiers in een mandjie!

Speletjie-pakkette: 2 Super Hits-speletjies vir R99, 3 Disney-speletjies vir R99 en nog meer + eksklusiewe pakkette vir toebehore – slegs beskikbaar op kalahari.com. Terwyl voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Tot 30% afslag op toestelle & huisware

Bespaar tot 30% op toestelle en huisware dié Paasfees. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou.

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

gobii se 7” Kleur LCD e-leser nou R399

Kry kalahari.com se topverkoperproduk vir slegs R399 en kry gratis e-boekkoopbewyse ter waarde van R120. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!