Hanlie Retief

'n Boer se plan

2012-11-17 23:48

"Dinge gaan rof hier. Dis chaos. Dit voel weer soos in 1976.”

Die ironie loop dik in daai sin.

Want tóé was Trevor Abrahams ’n jong struggle-rebel, toe’t hý die klippe gegooi. Hý was een van die belhamels in die Ceres Sekondêre Skool wat klasse ontwrig het. Boesak-bekeerling.

En nou is Trevor Abrahams aan die ander kant van die plaasdraad.

Laas Woensdag toe Ceres en Wolseley brand, het Trevor ook rondgehol om brandslange in plek te kry, sy Checkers-nektariens en uitvoer-pere op pad na Duitsland en Rusland te probeer beskerm vir wanneer die onrusstokers sý plaas teiken.

“Al die boere is in die spervuur. Wit, swart, opkomend, gevestig – die stakers is vir almal kwaad.”

Trevor is een van ons land se voorste opkomende boere. Voorsitter van USAAA (United South African Agricultural Association). “Suksesverhaal” is die etiket wat die departement van landbou van die Wes-Kaap hom gegee het; hy en sy mentor Robert Graaff (sir De Villiers se kleinseun) van Graaff Fruits werk klopdisselboom saam.

Trevor’s Farm, buite Ceres, is ’n voorbeeld van hoe dinge reg kán loop.

Jy sien Trevor in die Checkers-advertensie as die breëbors-boer wat saam met die fraai huisvrou koer oor gehalte.

Trevor het laas week se plaasonrus vrygespring, maar sy twee buurmanne, albei Koekedouw-beginnerboere, het groot brande gehad.

“Dis nie lekker vir ’n boer om te kyk hoe ’n koringland afbrand nie. Jy kan niks maak nie, dis soos ’n vuurhoutjie in ’n hooimied. Al die harde werk, wég. Pakstore, vragmotors...”

Dis Donderdagoggend op ­Trevor’s Farm. Hier’s alles rustig, maar in die verte hang die rook oor Prince Alfred Hamlet se boorde.

“Jy sit hier op jou plaas en jy’s onseker. Emosioneel. Die seun wat sy lewe verloor het, die Wolseley-boer wat aangerand is – dit skok jou, want dit kan met jou ook gebeur.

“Ek het my ma en dogter gisteraand op die dorp laat slaap.”

In tye soos dié, sê hy, keer ou wrokke terug. Werkers onthou die goed wat jy aan hulle gedoen het. En skielik wonder jy: Het jy jou mense altyd regverdig behandel, het jy omgegee vir hulle as daar nood is...?

“Jy neem alles amper in oënskou.”

Daar’s dieperliggende goed hier ter sprake, sê hy. “Jy kan dit lys onder have en have nots.”

En Trevor, 39 ha en al, is al 12 jaar lank ’n have.

“Ek word so geposisioneer, ja. Wat dit vir my makliker maak, is die feit dat ek al baie vir opkomende boere gedoen het.”

Vandag praat hy “in my persoonlike kapasiteit”, net as boer, benadruk hy. En hy praat versigtig, want “dit maak net onnodige probleme”, sê dié lang man in Crocs. Daar’s nog iets van ’n onnie aan hom: 18 jaar voor die skoolbanke is nog nie mooi weggeboer nie.

“Laat ek dit pront stel: Ons sit nou nog met die pyne van ná-1994. Die stadige pas van transformasie. Die opkomende boere is verdraagsaam, hulle verstaan daar’s nie altyd genoeg geld vir grondhervorming nie. Maar die ánder komponent, die plaaswerkers, het vergete gebly.

“Plaaswerkers is ’n tydbom, sê ek lankal. Hierdie situasie kon voorkom gewees het as die regte besluite lankal geneem is.

“Wat ons nodig het, is ’n sterk nasionale vakbond vir plaaswerkers. Dan’t jy ten minste ’n meganisme wat net een keer ’n jaar dalk vir klein ontwrigtings sorg, maar sonder brand en moord.”

Daar is ’n gees van ’n bevryding onder die plaaswerkers – hulle wil bevry word van hul omstandighede. Nie net lone nie, sê Trevor, maar ook kwessies soos behuising.

“Plaasafsettings en verblyfreg is ’n woede waaraan plaaswerkers nooit werklik uiting gegee het nie. Nou’t alles opgevlam.

“Dit bevestig Human Rights Watch se verslag dat die omstandighede van die plaaswerkers totaal verskil van die mooi prentjie wat aan die buiteland voorgehou word.”

Daar was kwaai kritiek op die verslag – dat dit enkele uitsonderings tot norm verhef?

Al die Ceres-boere sal jou die paar vrot kolle hier kan wys, knik hy. “Maar op minstens 80% van die plase gaan dinge goed.”

Dus ly 80% van die boere nou met hierdie stakings onder die enkeles wat hul werkers onbillik behandel.

“Dis hoekom ek die gevoel van 1976 kry: An injury to one is an injury to all.”

Dinge is erg gepolitiseer, voeg hy by. “Ek dink persoonlik dit word woes in die raadsale uitbaklei: Om die Wes-Kaap te behou of om die Wes-Kaap terug te wen.

“Ons sal nou sien wat die politieke spin-off is vir elkeen wat politieke voordeel hieruit wil trek.”

Soos Marius Fransman (Wes-Kaapse ANC-voorsitter) met sy opruiende uitlatings?

“Ek ken nie die konteks nie. Iets moes vir Marius baie kwaad gemaak het toe hy gekruide woorde gebruik het teenoor mense in die landbou.”

Sulke uitlatings in ’n plofbare situasie is in enige konteks onverantwoordelik?

“Ek wil liewer nie daarop kommentaar lewer nie. Ek’s ’n ANC-ondersteuner en dis vir my moeilik om vir ’n comrade te sê: ‘Jou uitlatings was onverantwoordelik.’ Ek kom uit die struggle-kamp, sterk politieke uitsprake is nie vir my vreemd nie.”

Trevor het 40 plaaswerkers in diens. Sy vaste werkers verdien tussen R90 en R200 per dag en seisoenale werkers R80. Dis R10 meer as die minimum loon wat die arbeidsminister in Maart vasgestel het.

Dié vasstelling kon toe nie steek hou nie, sê hy. “Met die styging in lewenskoste en voedselpryse, én aftrekkings soos werkloosheidsversekering, krag en huurgeld, is R70 ’n onbillike dagloon.”

Die werkers eis ’n verhoging na R150. As ’n kleinboer met ’n omset minder as R5 miljoen sal hy nooit daarby kan uitkom nie, sê hy.

“Maar met ’n paar veranderinge in die nasionale begroting en as die supermarkte en uitvoerders hul kostestelsel aanpas, is dit nie so vergesog nie. Om dit van die boer alleen te verwag, egter wel.”

Hy’t sy sommetjies gemaak, sê Trevor, en hy kan by R120 uitkom, maar dan verhoog hy sy risiko’s – soos om nie meer sy boorde voorkomend te kan spuit nie.

Volgens die minister se ooreenkoms mag boere geen tugstappe doen teen betogende plaaswerkers nie.

“Dis ’n ongemaklike situasie.

“My buurman by La Voure mag nou geen kwade gevoelens hê teenoor sy werkers wat sy boorde gebrand het nie. Hoe vertrou jy weer jou werkers, hoe kan jy dieselfde goedhartigheid hê? Dis goed wat jy maar net in stilte moet verwerk.”

Nog ’n ironie: Op die ou end ly die werkers, want die stakings sal onvermydelik tot afleggings lei.

“As ons meer gaan betaal, sal ons moet koste snoei. Jy kan nie ’n liter diesel meer maak nie, maar jy kán met minder mense klaarkom.”

Dalk, net dalk, is hierdie krisis die begin van die oplossing, mymer hy. Dalk lei dit tot arbeidstabiliteit in landbou. “Want een of ander tyd sóú die ding ontplof het.”

Sy selfoon lui. Dis sy dogter wat wil weet of die paaie veilig is.

Trevor het op ’n vrugteplaas in die Ceres-omgewing grootgeword. Sy pa was onderwyser by die plaasskool. Later, by UWK, was Trevor in die middel van elke politieke onlus.

Altesame 18 jaar se onderwys op Ceres het gevolg en by die einste Ceres Sekondêr waar hy so ’n belhamel was, was hy later skoolhoof.

“Ek was daarna nege jaar in die vleisbedryf. Toe het grondhervorming begin en ek het begin boer op gehuurde munisipale meentgrond.”

Sy eie stukkie grond was ’n droom, daar was altyd maar kleinhoewe-advertensies op sy yskasdeur geplak.

Een vir een het die deure vir hom oopgegaan.

Toe ’n nuwe dam by Ceres gebou is, het oudmin. Kader Asmal waterregte vir opkomende boere gereserveer – en só het Trevor sy eie stukkie grond bekom. By die opening van die dam het hy namens die nuwe boere ’n toespraak gemaak. Robert Graaff, beïndruk deur Trevor se poëtiese woorde, bied toe aan om sy mentor te wees.

“Sir David Graaff en spesifiek sy vrou, het vir Robert gesê: ‘Help vir Trevor, dis deel van die Graaff-familie se visie.’”

Graaff het Trevor met als gehelp van kennis tot trekkers tot lidmaatskap van ’n klub wat eksklusiewe nektarienvariëteite bekom.

“Ons het twee beginsels vasgemaak: Sy raad was verniet, maar vir die res moes ek betaal. En van my kant af: Hy moes nie gunsies verwag wat hom sou bevoordeel omdat ek ’n swart boer is nie.”

Al die opkomende boere in die distrik het mentors gehad, maar die groot verskil vir Trevor was die R1 miljoen wat Graaff Fruit rentevry aan hom geleen het.

“Anders sou ek seker ook, soos soveel ander, dit nie kon maak nie. Dis maar dreun en kreun en fyn werk, maar vandag het ek 39 ha onder steenvrugte.”

Altesame 12 jaar, ’n droom, ’n mentor en sukses. En twee seuns, albei met ingenieursgrade, wat ook nou gaan betrokke raak. Min mense het hom ’n kans gegee, glimlag Trevor Abrahams. Maar hy kón, met ’n graaf in die een hand en ’n Graaff in die ander.

En die Abrahamse se nooit-opgee-hardkoppigheid. En, terwyl ons kyk na Prince Alfred Hamlet se brandrook daar ver, voeg hy by: “Jy moet ’n baie sterk geloof hê. Boerdery is ’n geloofsaak.”



Trevor Abrahams, die vrugteboer in Checkers se TV-advertensie. | Foto: Checkers


Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
11 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-21°C Morning clouds. Mild. Pta: 8-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: 4-16°C Sunny. Cool.
Dbn: 13-23°C Morning clouds. Mild. PE: 11-23°C High level clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Spesiale aanbiedinge vir Moedersdag!

Bederf Ma met dié ongelooflike spesiale aanbiedinge wat haar hart sal laat vermurwe. Koop nou!

Parfuumwinskopies vir Moedersdag!

Bederf Ma met spesiale parfuumwinskopies en geskenkpakke vir Moedersdag. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Oefen sonder dat dit ’n plaas se prys kos

Tot 30% afslag op alle toerusting vir joga, om jou fiksheid te verbeter en jou spiere sterker te maak. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

RYOBI-gereedskap

Gee uiting aan jou innerlike DDS-geesdrif met RYOBI-gereedskap. Koop nou!

Gewilde nuwe flieks

Frozen, The Hobbit: The Desolation of Smaug, Thor: The Dark World, Leon Schuster: Schuks! Your Country Needs You en nog baie meer. Koop nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!