Die demokrasie is darem nie so sleg nie
2011-05-21 16:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Slegte herinneringe, nes ’n ongeleë wind wat iemand in ’n hysbak gelos het, hang nogal lank in die lug rond.
So het ek grootgeword met ’n bewussyn van die Ango-Boereoorlog. In die laerskool in Newcastle, in die noorde van KwaZulu-Natal, het ons voor pouses skelm sulke dik N.P.A. (Natalse Provinsiale Administrasie, oukei?)-liniale in ons sokkies gesteek om “Boere en Engelse” te speel. Eintlik was dit ’n afknouery tussen ons en die Engelssprekede leerlinge in ons dubbelme- diumskool.
In daardie deel van die land is daar talle geskiedkundige herinneringe van die oorlog. Schuinshoogte, Spioenkop, Majuba, noem maar op. Maar uiteindelik vervaag hierdie herinneringe en dan sit jy eendag voor die TV en jy betrap jouself dat jy gefassineer is deur William en Catherine se troue. En jy dink aan Tolla wat gesê het hy wil nie weet hoe dit moet voel om ongelukkig getroud te wees nie, want hy “is gelukkig getroud en dis al klaar erg”. En jy hou duim vas vir die twee.
Jy wil trouens saam ’n glas Pol Roger-sjampanje lig en hulle alle voorspoed toewens. Ongeag Paardeberg, die konsentrasiekampe, Gideon Scheepers en Jopie Fourie. Want hei, iewers moet jy aanbeweeg. Miskien het Pippa Middleton se agterstewe my laat besluit om die strydbyl te begrawe, wie weet?
En dis nogal iets waarmee ons Suid-Afrikaners sukkel. Dis of die stank van die verlede nie lekker wil wegwaai nie. En nét wanneer dit lyk of daar ’n vars briesie opgedaag het, laat loop die Mal Enema weer met iets stink.
Dis soos ’n stukkende rioolpyp onder jou slaapkamervenster – of jy nou jou oë toemaak of nie, die stank gaan nêrens heen nie.
Woensdag se stemmery het my nogal laat dink oor die demokrasie. En hoe die foutlyne van ons onlangse verlede dit moeilik maak vir ons demokrasie om behoorlik te kan funksioneer. Een van die groot uitdagings is dat ons regering nog nie besef het dat hy, wel, die land regeer nie.
Hy hóéf nie meer te struggle nie. Die bevrydingstryd is oor en verby. Hy moet nou regeer. Met ander woorde, hy moet aanvaar dat ons nou ’n demokrasie het.
Nog ’n kêrel wat sy Pol Roger-sjampanje geniet het, was Winston Churchill. Hy het ook die gawe gehad om slim sêgoed kwyt te raak. Oor die demokrasie het hy gesê: “The best argument against democracy is a five mi- nute conversation with the average voter.”
Ek dink hy was verkeerd. Dertig sekondes is eintlik al te veel.
Ek bedoel, die gemiddelde bestuurder weet nie eens hoe ’n vierrigting-stop werk nie. Hoe de hel weet hy wie die beste regering sal wees? En nou praat ons van opgevoede mense in ’n gevestigde woonbuurt.
Thomas Jefferson het weer gesê demokrasie is niks meer as mob rule nie waarin 51% die regte van 49% kan wegvat. Soms, as jy in daai moerlang tou by die stembus staan, wonder jy of dit die moeite werd is. Daardie tou, by the way, is so ’n agressiewe, toi-toiende klipgooi weg van die einste fietsrybaan wat comrade Tony Ehrenreich so gekritiseer het (die een wat tot sy groot spyt behandeling in ’n private hospitaal “moes” ondergaan).
Ek wil eintlik ook klipgooi en vullishouers omkeer. Maar ek het in die eerste plek nie genoeg ritme, stamina of geduld om vir ’n uur of twee op dieselfde deuntjie op te warm voordat ek dinge begin breek nie. Op skool was ek maar ’n swak bouler en ek hou ook nie daarvan om in groot groepe uit te hang nie. Boonop is ek kieskeurig oor die soort T-hemde wat ek dra. En dan is daar natuurlik die houers. Is hulle nie darem erg vuil nie?
Maar ja, ek bly moerig. Moerig omdat daar baie van my mede-Suid-Afrikaners is wat dink dis hulle reg om te sing dat hulle mense soos ek wil skiet. Ek dog dan ons het daardie nonsens in 1994 die rug toegekeer? Ek is moerig omdat vooraanstaande mense in ons land aan geen beter taktiek of argumente kan dink as oop k**huise nie. Wat van die gebrek aan vaardighede? Die krisis in townshipskole? Misdaad, enigeen? Nee, die beste waarmee die regerende party vorendag kan kom, is “die oop toilette”. En toe’s hy self daaraan skuldig – op ’n baie groter skaal.
Ek het gedink Hansie Cronjé se skelmstreke het my wanhopig gemaak. Of toe James Small in 1992 die bal aanslaan met ’n oop doellyn voor hom en ons verloor toe die toets teen die All Blacks met 27-24. Of elke keer as Ricky “Waar’s my emmer KFC?” Januarie vir die Stormers opgestuur word.
Maar hierdie stommiteit kry my nou onder. Ek drink nie eens meer baie nie, so besopenheid is nie meer ’n toevlugsoord nie. Ruk en rol veroorsaak dat ek die volgende dag styf is. Ek wil soos Jopie Adam wegvlug en iewers in die berge gaan bly waar ek koolkoppe, spinasie, wortels en die sterkste dagga bekend aan die mensdom wil kweek.
En toe lees ek nog iets wat Churchill oor die demokrasie gesê het: “Daar is al gesê dat die demokrasie die slegste vorm van regering is – dis nou afgesien van al die ander wat al probeer is.”
Met ander woorde, dit kon erger gewees het. Jou vrou kon soos prins Charles s’n gelyk het.
Een van die groot uitdagings is dat ons regering nog nie besef het dat hy, wel, die land regeer nie. Hy hóéf nie meer te struggle nie.
- Rapport