Die reuk van afval en afvalligheid
2011-03-26 12:24
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek het die smaak van die donker Lindt-sjokolade behaaglik in my mond rondgerol en met my tong elke laaste hoekie in my mond gefynkam vir nog smaakplesier.
Ja, daar links aan die binnekant was nog ’n krieseltjie. O, die ekstase.
En dan net gou ’n sluk Kanonkop Pinotage. Ek suig die rooiwyn doelbewus deur my lippe sodat die geur daarvan as’t ware op my tong gemeenskap kan pleeg met die intense smaak van die donker sjokolade.
Maar dan voel ek iets spartel op my tong. Dis ’n vlieg! Ek spoeg hom terug in die glas, vervies dat hy my sjokolade-en-wyn-ekstase so skouspelagtig bederf het.
Daar is net een ding erger as om vir iets slegs te gril en dis om te gril vir iets waarvan jy eintlik baie hou. Dis soos om verneuk te word: Die skok is so groot jy sukkel om dit te verwerk.
So ’n paar jaar gelede gaan lê ek en ’n pel leeg op die Worcester-skou. Daar’s wyn, daar’s kos en daar is ons, met mae vol planne. Ná ’n rukkie begin ons wonder wat ons gaan eet. En toe besluit ons dat dit afval gaan wees.
Afval, vir diegene wat nie weet nie, is ’n ding wat met groot omsigtigheid benader moet word. Die Japanners eet ’n potensieel dodelike visdis genaamd foeghoe. Dis ’n groot lekkerny, maar soms sterf mense as die sjef dit nie behoorlik skoongemaak het nie. Vandaar die Zen-agtige Japannese gesegde: “Hy wat foeghoe eet, is dom. Maar hy wat nié foeghoe eet nie, is óók dom.”
Min mense het al volgens my wete doodgegaan van afval wat nie reg berei is nie, maar daar is tog ’n klein deeltjie van jou naïewe onskuld wat sterf as jy die dag agterkom daar is afval waarvoor jy tog gril.
Jy het dan so lank probeer om die fakkel hoog te hou vir afval. Saam gestry vir die voortbestaan van hierdie kultuureie kleinood. Voorbrand gemaak vir die behoud van dié stuk kulinêre identiteit.
Net om deur jou sintuie ingelig te word dat hierdie nommer nie gaan werk nie.
Die tantes by die ACVV-tent was so hulpvaardig. Ons was so bly om daar te staan en te help dat die ou mense ook kan voel hulle beteken iets. Dat hul moeite waardeer word.
Maar toe ek daai afval ruik, toe weet ek hier kom perde. Die eerste probleem was dat dit vaal-afval was. Nou die verskil tussen vaal-afval en kerrie-afval is omtrent soos die verskil tussen Herbie & Spence en Johnny Clegg. Nodeloos om te sê, is Herbie & Spence maar dun sover dit platinumplate aangaan. Dit help ook as jy régtig van Herbie en Spence hou. Maar diep binne-in jou weet jy dat as jy vir ’n oorsese besoeker afval wil aanbied, jy eerder die Johnny Clegg gaan voorsit.
En daar staan ons twee toe, gekonfronteer deur ’n vaal spul afval. Met ’n reuk wat my lighoofdig laat voel het. Dis nie ’n stink nie, maaind joe, dis meer ’n benoudheid. Ja, ek weet die lyn tussen benoud en hemels is fyn. Vat nou maar byvoorbeeld kaas. Gorgonzola is nou wel iets waarvoor jy in die donker ’n knuppel sal wil saamdra, maar wragtag, die reuk- en smaaklose Gouda is darem maar ’n epiese mors van melk en mense se moeite.
Dié afval se reuk het my laat wonder hoe ek myself skielik sou kon verskoon van die tafeltjie waar die tantes bestellings gevat het. Maar wegkomkans was min omdat ek in daai stadium so te sê die enigste klant was.
En toe sê ek maar: “Ag, maak dit twee afvalle, asseblief.’’
Asof in stadige aksie het die tannie die afval ingeskep. (Wel, sy was diep in die 70, so dit wás waarskynlik in stadige aksie.) Eers die een polistireenbakkie en toe die ander een.
Met ’n benoude glimlag het ek dit gevat, betaal en oorgeloop na my pel wat wyn-in-die-hand iewers met iemand gestaan en klets het.
“Dè, hier’s die afval,’’ het ek sonder veel oortuiging gesê. En toe ek die bakkie oopmaak, sien ek ’n swart haar in die afval. Nie ’n mens s’n nie. Maar een wat iewers van ’n skaap af gekom het. Dalk was dit sy wimper. Of van daai dik wolle op die stert. Ek het eintlik nie belanggestel nie.
Met die eerste hap het ek net weer besef wat ek eintlik lankal al geweet het: Nie alle afval is gelyk geskape nie. Trouens, sommige is gevaarlik. En dié een het ’n permit van die polisie nodig gehad.
My pel het self geskok opgekyk en geprewel: “Nee, o jirre…’’ En toe gooi ons maar die afval in die asblik.
Daarna het ons elkeen ’n Russian dog gekoop en geëet. Ek was nogal afgehaal. Ek wou so graag afval geëet én dit geniet het. Ek was regtig opgewonde oor die vooruitsig daarvan. Maar tussen die afval wat ek geken en geïdealiseer het en dít wat my gekonfronteer het, was daar, afgesien van die naam, eintlik geen ander ooreenkomste nie. Ek was nie net geskok nie, ek was ook onseker oor my eie oordeelsvermoë.
Dit het, as ek nou daaraan dink, gevoel soos om uit sien na demokrasie en dan gekonfronteer te word met die soort regering wat ons uiteindelik gekry het.