Die winter se suur op 'n koue wagbeurt
2011-06-04 14:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vir al die Kaap se goeie dinge boet ons weer in met ’n paar ander.
Die winterweer is maar een van daai goed wat jy sien as die suur saam met die soet. Ja, ek weet ’n mens fantaseer oor tamatiebredies, rooiwyn en kaggelvure en oor naweke kan jy jouself daaraan oorgee.
Maar wat doen jy in die week as jy in reën wat horisontaal waai na jou kar toe moet kruip? Of met die wasgoed wat al drie dae op droograkke hang en steeds plek-plek klam is?
Vir iemand soos ek wat in Pretoria gebore is en die grootste deel van my lewe in die Noorde deurgebring het – van Noord-KwaZulu-Natal, die ou Wes-Transvaal, Kimberley en Bloemfontein – was dit ’n aardigheid om hierdie grasgroen winters te beleef. Want vir my was winter iets wat ek in my geestesoog geassosieer het met klipharde, geelwit rugbyvelde effens uit fokus, nes daai ou Instamatic-foto’s.
Daardie skerp, vars koue wat soggens jou neusgate oopmaak soos wat Vicks nie kan nie. Daai byt in die ribbes en honde wat soggens stywebeen kom groet met sterte wat nog nie heeltemal ontdooi het nie. Net om ’n paar uur later, wanneer die son behoorlik opgekatrol is, lekker te begin opwarm. Dis dan dat jy gordyne oopgooi om die sonnetjie te benut voordat jy namiddag weer begin regmaak vir vanaand se koue.
Hier by ons, nie te ver van die see nie, is dit ongelooflik hoe min die temperatuur wissel. Dis in die middel van winter niks vreemd om te sien dat die kwik nie meer as 5 ° wissel tussen die dag en nag nie. En op ’n manier voel dit nie reg nie. Veral nie as jy jou diensplig in Bloemfontein gedoen het nie.
Dis moeilik om regtig te onthou hoe koud ons as jong manne daar gekry het. Die winteraande wat ons naby Hamilton se depot of op De Brug in sementwagtorings moes wagstaan in die SAW se (hopeloos ontoereikende) uniform is genoeg om my knie te laat pyn as ek nou daaraan terugdink. Jy onthou hoe jy gekettingrook het in ’n desperate poging om warmer te kry. Hoe jy pakke jelly babies geëet het. Snert met mekaar gepraat het. En hoe die ergste ding was om saam met iemand te beland wat nie eintlik wil gesels nie. Want wat die donder doen jy dan vir drie uur in daai vrek koue sementtoring?
Dan was daar wagdiens by die eenheid. As jy ’n swerfwag was, moes jy en ’n makker deur die basis “geswerf” het. Maar in die koue was die versoeking groot om soms by ’n bungalow in te glip en gou ’n warm beker koffie te maak voordat jy weer koers kies.
Stafsersant Tollie Myburgh het ons egter daarteen gewaarsku: “Moenie dat ek julle vang dat julle bliksems bungalows toe swerf nie. Of Wiekie die Viking op die TV gaan kyk nie. Ek kyk self Wiekie die Viking – dis ’n bliksemse lekker program. Maar jy’s ’n swerfwag, jy mag nie!”
In ’n stadium was dit so koud dat die kolonel gereël het vir ekstra komberse in die bungalows. Dis nou nadat jy reeds in jou sweetpak binne-in jou slaapsak geklim het voordat jy só onder die komberse ingekruip het. Maar in die kaal bungalow met sy teëlvloer en gordynlose vensters was daar nie wegkomkans van die koue nie. Dan was daar ook altyd een of ander simpel donder van ’n plek soos De Aar of Upington wat daarop aangedring het om die venster by sy bed oop te maak “vir ’n bietjie vars lug”.
Hulle het naderhand saans, ná roll call, sulke groot kanne warm sop voor die bungalows kom aflewer. Dit het jou met ’n effense uitdaging gelaat. Wil jy in die koue uitgaan om warm sop te gaan haal, of wil jy in jou bed (binne-in jou slaapsak, in jou sweetpak) lê en die kosbare hitte bewaar?
Soggens tydens parades het dit nie veel beter gegaan nie. Dit was soms so koud dat jy gewens het die korporaal strip sy moer en jaag julle om die paradegrond. Herhaaldelik, net sodat jy ’n bietjie kan opwarm. Maar ’n parade raak plek-plek nogal ’n stillerige affêre met elkeen wat iemand is wat ’n spreukbeurt kry. Dan staan jy met daai yskoue R4-geweer langs jou. Naderhand kan jy hom nie meer in jou regterhand voel nie. Jy dink hy is daar, maar jy sal moet afkyk om te bevestig – en dis natuurlik buite die kwessie as jy netjies op parade staan.
En dis net daar waar ek een oggend ’n slag hoor terwyl ek op parade staan. Die onmiskenbare slag van ’n R4 wat val. Gwa! Vir ’n oomblik het ek gedink: “Gmf, simpel donder wat sy geweer laat val…” Maar toe kry ek hond se gedagte en loer effens ondertoe. En sien dat dit ék, sktr. Jacobus L Kirsten (magsnommer 85450732 BG), was wie se R4 (reeksnommer 707 049 A1) langs hom op die paradegrond lê.
Toe buk ek maar af en tel hom weer op. Saam met die stukkies van my militêre selfbeeld.
- Rapport