Wanneer malwees die dag sin maak...
2011-02-12 15:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die meeste van ons is geleer dat jy nie lag vir malles nie. Dis seker net goeie maniere. Maar die grens tussen normaal en, wel, om ’n bietjie “af” te wees, is ook maar ’n fyn en subjektiewe een. Want wie van ons het nie maar ’n ou krakie in die mondering nie?
Wys my ’n 100%- “normale” persoon en ek wys jou ’n briljante akteur. Want ons almal Polyfilla maar van tyd tot tyd die krakies toe. En dis seker, paradoksaal genoeg, normaal.
Ek praat van mense wat régtig ’n paar varkies kort.
Daar is iets fassinerends daaraan om ’n régte malle in aksie te sien. Hul waansin het ’n sekere poëtiese suiwerheid, ’n vreeslose uitbundigheid wat ons gewone mense nie net ’n bietjie ongemaklik laat voel nie, maar ook aan die dink sit.
Hier in die Kaap, aan die onderkant van die Heerengracht, is daar ’n stapelgek swart man wat kaalvoet rondloop met sakkerige klere. Hy kyk heeltyd na ’n denkbeeldige punt waar ek en jy niks sien nie. Hy’s rusteloos. Hy wieg nou en dan vorentoe en agtertoe. Begin in ’n rigting stap en kom weer ná ’n paar meter tot stilstand, waar hy dan weer ’n rukkie vertoef.
Die mense aanvaar hom as ’n deel van die omgewing. Die afgelope week sien ek hom staan en wieg ’n paar meter van ’n paar netjies geklede kantoorwerkers wat ’n dampie slaan voor hul kantoorgebou. Die werkers gaan aan asof hy nie bestaan nie. En vir hom bestaan hulle waarskynlik ook nie.
Of dit nou koud of warm is, hy doen sy ding. Ek het al gewonder waar hy slaap, waar sy kos vandaan kom en wie sy familie is.
Net ná Kersfees sit ek en Mevrou in ’n trem in Lyon. ’n Skralerige, donkerkopvrou klim op. Ook nie lank nie, toe begin sy uitsaai. Omdat ek nie Frans kan praat nie, dag ek eers sy kla oor iets. Dalk het iemand langs haar gepoep of op haar inkopiesak gaan sit, wie weet?
Maar gaandeweg kom ek agter sy’s nie lekker nie. Die relaas styg ’n hele paar desibels en sy kom net nou en dan op vir asem. En so hou dit aan vir ’n paar stoppe. Naderhand begin ek staar. Sy’t dieselfde oordrewe lyftaal as dié van Afrikaanse dramastudente.
Die mense ignoreer haar. Maar dis verniet. Want sy begin skree in mense se gesigte. Langs ons staan ’n ou. ’n Mens kan sien hy raak gatvol vir haar geskree. Dan roep hy hard uit: “Madame, soyez bon!” (Mevrou, gedra jou!) Maar hy kon net sowel oor Adam Smith se teorie van die onsigbare hand met Julius Malema probeer praat het.
En tog probeer hy haar vermaan, want sy raak al hoe meer histeries. “Soyez bon, madame, soyez bon!” Dan stap hy nader en herhaal sy vermaning. Iewers knak iets in die waansinnige vrou. Sy begin slaan en krap na hom terwyl sy histeries gil. Almal kyk nou na die gedoente.
Die trem stop en sy storm uit en begin histeries op die mense op die perron te skree. Die man stap terug na sy plek langs ons. Sy hand bloei waar sy hom gekrap het. Ek en Mevrou giggel senuweeagtig. Die man vra om verskoning. Hy hoor ons is nie van daar nie. “I am Spanish, you know…” probeer hy sy intervensie verduidelik. A, die Latynse temperament. Ons beduie dis orraait, hy’t tog net die orde probeer herstel.
’n Ruk daarna doen ons ’n bergrestaurant aan op die hange van ’n skihelling bo die dorpie La Clusaz in die Franse Alpe. Ek sien ’n paar rugbyballe en dit blyk dat die eienaar ’n groot rugby-ondersteuner is. Ons begin dadelik gesels oor ons gedeelde liefde.
Twee dae daarna besluit ons om wéér die “rugbyvriendelike” restaurant te besoek. Toe ek instap, maak ek toevallig oogkontak met ’n ouerige man by die toonbank. Iets in sy oë lyk vreemd. Ons gaan sit en ek bestel ’n bier.
Ek kyk weer na hom. Hy’s geklee in tradisionele Alpynse drag: Stapstewels met dik sokkies en ’n knickerbocker, oftewel broek wat net onder sy knieë vasmaak. Hy dra ook ’n baadjie en das. Niks abnormaal nie. Dan merk ek die skeepskapteinhoedjie op. En die verkyker aan sy nek. Effens vreemd, dink ek.
Langs hom staan ’n groot rugsak. Die kop en nek van die een of ander houtdier steek by die rugsak uit. ’n Stuk dik tou hang ook uit. Toe ek toilet toe stap, sien ek Tintin au Tibet lê los in die rugsak.
Toe ek terugkom by die tafel, vra Mevrou my of ek gesien het wat die man so pas gedoen het: Hy’t die doppe van die een of ander neut gebrand en sy gesig daarmee begin swart smeer. Sowaar, sy gesig was vol swart strepe!
Die mense het sy blik begin ontwyk. Hy’t al hoe onrustiger begin rondloop, heen en weer voor die kroegtoonbank. Skielik het twee jongerige ouens by die deur ingekom. “Bonjour, Capitan!” het hulle gelyk hardop gegroet.
Iewers is iets in hom geaktiveer. Hy’t omgedraai en na die volgepakte bergrestaurant gekyk, pen-orent gestaan en kliphard soos ’n skeidsregter se fluitjie begin blaas: “Prrrrrrrrt! Prrrrrrrt! Prrrrrrrrr!” voordat hy onsamehangend goed begin skree het wat na militêre bevele geklink het.
Ons is kort daarna by die deur uit, stomgeslaan deur dit wat ons so pas aanskou het.
Ek dink baie aan die man van Heerengracht, die mal vrou van Lyon en die capitan in die bergrestaurant. En in ’n stadium het ek besluit dat dit eintlik goed is dat daar sulke mense tussen ons is. En wil jy weet hoekom? Want hulle laat jou ’n bietjie beter voel oor jouself.
Die relaas styg ’n hele paar desibels. Die mense ignoreer haar. Maar dis verniet. Want sy begin skree in mense se gesigte.
- Rapport