Namibië: My Afrikaanse en Afrikaner-hart se ánder (lekker naby) lêplek
2010-07-17 11:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
So twee weke gelede het ek ’n naweek in die dorpie Koës, in die suidooste van Namibië, op die westelike rand van die Kalahari, deurgebring.
Nou, daar is ’n paar dinge wat jy van hierdie wêreld moet weet: Eerstens gaan dit met jou daar broekskeur as jy ’n geheelonthouer is. Dit moet al die stof in die lug wees, want net water gaan nie sommer van die droogheid in jou keel ontslae raak nie. Tweedens, vegetariërs begin met ’n agterstand in daardie geweste, want die naaste wat ek aan slaai gekom het, was die vroue van die Namibiese Vrouevereniging (NVV) se beesvleislasagne. En derdens ondersteun almal die Blou Bulle.
Trouens, dis amper soos die Bosveld, net met ander nommerplate.
Hierdie parallelle gaan selfs verder.
Want hierdie geweste is meer Afrikaans en meer Afrikaner-vriendelik as die meeste dele van Suid-Afrika.
Wat baie mense al genoop het om te verklaar dat as die ANC eendag ’n Zanu-PF op ons gaan trek, hulle eenvoudig Namibië toe gaan emigreer.
Hierdie lighartige praatjies oor emigrasie verbloem natuurlik ’n dieper pyn – een wat amper elkeen van ons wat nou familie in die buiteland het, mee sal kan identifiseer. Want as daai mense vertrek, wéét al die betrokkenes dat hulle van daardie oomblik elke sekonde, elke uur en elke dag van elke week mínder van Afrika en Afrikaans sal wees.
Gestel nou jy móét Suid-Afrika verlaat (en die blote gedagte daaraan gee my die horries), waarheen sou jy gaan? Het jy al ooit aan Namibië as bestemming gedink? Want dis nogal nie so ’n slegte roep nie. Ja, die ekonomie is kleiner en hulle is nou nie juis ’n kragreus in wêreldrugby nie, maar daar is ook pluspunte. Dinge soos die feit dat dit ’n bleddie mooi plek is. Dan is dit ook goed om te weet dat daar so min mense daar is dat selfs indien almal vir mekaar die moer in raak, hulle mekaar steeds die meeste dae sal misloop, selfs al loop soek hulle na mekaar.
Dan is dit ook ’n land met ’n historiese lêplek vir Afrikaans. Van die Namas, die Rehoboth Basters en die Afrikaner-boere en -sakemanne, tot by die Ovambo-grenswagte en polisiemanne wat jy teëkom. Feit is, as jy kyk na pogings van ’n regering om eensydig die amptelike taal te verander (na Engels), is Namibië seker een van die wêreld se mees skouspelagtige mislukkings.
So, daar is dalk selfs hoop vir Stellenbosch.
Om die waarheid te sê, Namibië is só Afrikaans dat my een aangetroude Duitse familielid volgens my vrou Duits praat “met ’n Afrikaanse aksent”.
Maar miskien is die interessantste van alles die feit dat selfs jong Afrikaanse Namibiërs besef hoe ’n lekker land hulle in woon. In die ou dae van Suidwes-Afrika het dit só gewerk: Jy maak skool klaar en gaan studeer dan in “die Republiek”, oftewel Suid-Afrika. En dan het jy in die meeste gevalle nooit weer teruggekeer nie. Só het SWA deur die jare altyd die room van sy jong Afrikaners verloor aan sy groter en ryker buurland.
Maar sedert Namibiese onafhanklikheid in 1990 het dinge begin verander. Nes die ou Suidwes-boere nie meer sonder meer in die Kaap kon kom aftree nie en gevolglik groot huise in Swakopmund gebou het – wat daardie streek ’n groot ekonomiese hupstoot gegee het – was dit nie meer so maklik vir Namibiërs om sommer in SA te begin werk nie.
Veral nie as jy wit was nie.
En in 1994 het Suid-Afrika sy eerste demokratiese regering gekry. Een wat kort daarna met regstellende aksie begin en dit sodoende nóg moeiliker gemaak het.
Die uiteinde was ’n onverwagte meevaller vir Namibië. Daar is vandag in die dorpe oor Namibië heen beduidend meer jong Afrikaners as, kom ons sê, 20 jaar gelede. Ja, hulle kom studeer steeds in Suid-Afrika.
Maar dan gaan hulle weer terug “huis toe”. En só het Suid-Afrika se verlies Namibië se wins geword.
Getallegewys sal wit Namibiërs, nes in Suid-Afrika, nooit ’n faktor wees nie. Maar vanweë hul ondernemingsgees dra hulle ruim by tot die voorspoed van Namibië. Of die regerende Swapo dit nou wil erken of nie is irrelevant – dis daar vir elkeen met twee oë wat al Namibië besoek het om te sien.
Dan is daar die ander punt: Namibië het nie ons weersinwekkende vlak van geweldmisdaad nie. Die ergste is dronkes wat oor naweke deelneem aan die gebruiklike messteek of iemand wat ’n geliefde saam met iemand anders in die kooi betrap – normale, alledaagse goed, dus.
Ek is ten minste een keer per jaar in Namibië. Om te gaan jag, om my aan die eindelose horisonne te verkyk, om familie te sien, om helder sterre in die pikswart naghemel te bewonder, om my te verlustig aan die gerusstellende reuk van ’n skaapkraal en, die meeste van alles, om my oor te gee aan die genot van hoe lekker en ongekompliseerd dit daar is vir my as Afrikaanssprekende én Afrikaner.
Dis of die stowwerigheid en isolasie van Namibië ’n natuurlike demper plaas op die “tendencies” so eie aan ons eie regerende elite. Want kyk, swart motors lyk maar bra triestig in sulke stowwerige wêreld en die blouligbrigade sal binne ’n week ál hulle X5’e rol op daai grondpaaie. Boonop dink ek die manne in Koës dink ’n Breitling is dalk ’n soort Duitse boorgatpomp.
En as ’n 28-jarige beenkop wat nie eens ’n plank kan saag nie aanhoudend ’n klomp luidrugtige snert in die Koës-hotel sou kwytraak, sal iemand hom kort voor lank ’n oorveeg gee.
In kort, dis my soort plek.
- Rapport