Om van vrees weg te hardloop
2011-05-07 11:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wat doen jy as jy vreesbevange is? Jy trek jou tekkies aan en jy hardloop daai vrees in sy moer in, dís wat.
In so mate dat ek gister die Twee Oseane-halfmarathon voltooi het.
As ek eerlik moet wees, is dit nie regtig ’n prestasie om 21,1km te hardloop nie. Nie eens as jy 42 is nie. Maar die afgelope Vrydag het ek iets besonders gevier: Agt maande sedert my hartaanval. Ek is nie ’n hartaanvalslagoffer nie. Ek is ’n hartaanvaloorwinnaar.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek is allermins smug, soos hulle in goeie Afrikaans sou sê, want die afgelope agt maande was ek baie keer bang en onseker oor wat in my borskas aangaan. Die geringste hartklopping of steekpyn het my aanvanklik benoud laat voel. Maar mettertyd leer jy om daarmee saam te leef, soos met so baie ander dinge.
Jy leer as’t ware jou liggaam van voor af ken. Dr. George Sheehan was ’n Amerikaanse hardloper wat talle essays oor hardloop geskryf het. Hy was waarskynlik ook die ou wat die psigiese stryd en euforie van hardloop die beste verwoord het. Een van sy wyshede was: “Geluk is iets anders as plesier. Geluk het te doen met sukkel, met uithou en die bereik van ’n doelwit.”
En dis wat ek die laaste paar maande ervaar het: geluk. Toe ek 11 dae ná my ontslag uit die hospitaal my tekkies aangetrek het om te gaan stap, het ek ’n ligte angsaanval gekry. Dis nie maklik vir ’n man om te erken dat jy ’n angsaanval gekry het nie. Dis mos ’n swakheid, sien. Ek was ’n parabat en ons ouens kry nie sulke goed nie, reg? Angsaanvalle is vir, wel, vroue en mense wat Noot vir noot kyk. Toe die ontnugtering. Ja, selfs ouens wat snags met militêre toerusting uit vliegtuie spring, kan angsaanvalle kry. Hoe’s daai vir humble pie?
Maar ek het deurgedruk in die dae, weke en maande daarna en geleidelik het my krag en stamina teruggekeer.
Wat meer is, ek het in die proses ’n beter mens geword. Wel, dis wat die hond sê en ek volstaan daarby.
Ek is depressie gespaar – anders as so baie ander hartaanvalslagoffers – omdat ek begin oefen het, glo ek. Die oefening is soos my eie instrumentepaneel: As ek die dag ’n effense benoudheid ervaar en ek kan steeds 8km hardloop sonder enige ongerief, wéét ek die pyn was psigosomaties. ’n Snaakse ding gebeur ook naderhand. Hoe meer jy hardloop, hoe minder raak die drogpyne. Jy kry jou lewe stuk-stuk terug. Die vrees begin wyk. Jy begin weer jou eie lyf vertrou, hoe moeilik dit ook al aan die begin is.
Daar is onlangs kanker ge-diagnoseer by my groot vriend, die skrywer en avonturier (en geoktrooieerde rekenmeester, maar hy’s half skaam daaroor) Johan Bakkes. Dit gaan goed met die bliksem en toe ek hom ’n week of twee ná sy operasie bel, het hy al klaar weer aan ’n bietjie Jack Tar-rum geteug. Die operasie was ’n groot sukses en ek dink Ou Grote gaan nog vir ’n hele ruk saam met ons wees. Wel, ek hoop jy gaan, anders gaan daar sommer groot moleste wees.
So kry ons elkeen ons knocks in die lewe. Mense is in motorongelukke. Kinders gaan te jonk dood. Vroue, ma’s kry kanker. Pa’s kry hartaanvalle. Dis die lewe. En hoe ouer jy raak, hoe meer gebeur dit in jou portuurgroep. Soos my skoonpa op ’n slag half gatvol opgemerk het: “Daar gaan deesdae mense dood wat nooit tevore doodgegaan het nie…”
Dís hoekom ek gister daai 21,1km gehardloop het. Om, terwyl ek nog kan, namens so baie ander vir die dood ’n vet, uitbundige middelvinger te gooi. Om, in die woorde van Breyten Breytenbach, uit my longe te kan skree: “Dood, jou hoer!” Om vir ander mense te wys dat ’n terugslag net dít is: ’n terugslag. Dis nie ’n vonnis nie. Dat as jy trauma beleef, moet jy weet dat ook dit verby sal gaan. Dat daar weer ’n dag sal kom dat jy besef dat, hoewel dinge verander het, dit nou ook oukei is op ’n ander manier as waaraan jy eens gewoond was.
Ek het ook aan my liewe ma gedink wat nie meer met ons is nie. En my vriend Gerrit wat net 34 somers gegun is. Aan Rodney Mitchell wie se draad op 39 een oggend skielik geknip is. En al die ander mense wat nie dieselfde tweede kans as ek gekry het nie.
Prof. Tim Noakes het dié stryd as volg beskryf: “Jou lyf sal jou wil oortuig dat daar geen regverdiging is om aan te gaan nie. Jou enigste hoop is dan om op jou geestelike krag staat te maak. En dié funksioneer gelukkig onafhanklik van logika.”
Wat verklaar hoekom ek vanoggend soos ’n ou ballie by die trappe af moes skuifel.
“GELUK IS IETS ANDERS AS PLESIER. GELUK HET TE DOEN MET SUKKEL, MET UITHOU EN DIE BEREIK VAN ’N DOELWIT.”
- Rapport