Div het kleur uit sport gelei
2011-10-15 13:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
O, die pyngedagte, dit brand soos ’n pyl in my. Ons rugbydroom is nou verby…
Op Facebook het iemand sy pyn oor die Bokke se nederlaag teen Australië met hierdie lawwerige verwerking van Totius se gedig verwoord.
Vanoggend, ná die Wallabies en die All Blacks klaar gespeel het, sal ons waarskynlik weer die seer van verlede Sondag voel. Ons sal bly glo ons sou die wenner van vandag se stryd kon klop om teen Frankryk in die eindstryd te speel.
Dié droom lê aan skerwe.
Al wat oorbly, is om die juweeltjies tussen die verbrande hout te soek en daarin troos te vind.
Een hiervan is die mens Peter de Villiers, die man wat aanvanklik as die “regstellende afrigter” beskou is, en wat baie eerder vir sy snor, kwinkslae en pittighede onthou sal word.
Juis omdat hy beskou is as ’n transformasie-aanstelling, het hy in moeilike omstandighede begin en is sy sukses in tye van voorspoed aan Jake White se nalatenskap toegeskryf.
De Villiers het ook die politici soms kwaad gehad. Soos toe hy oor die Blou Bul Bees Roux gesê het hy “veroordeel (hom vir) die daad (die doodslaan van ’n metropolisielid)”, maar steun Roux ten volle.
Ongeag sy foute kry hy in my boeke ’n groot regmerk as ’n waardige eerste nie-wit afrigter van die land se nasionale rugbyspan. Sy span kon netsowel vandag nog in die resies gewees het vir die Groot Kroon.
Op sy kerfstok is daar ’n Drienasies-oorwinning in 2009, ’n reeks-oorwinning oor die Leeus, en hy was die eerste Bok-afrigter wat die All Blacks in Dunedin kon klop.
Bartel Pieterse skryf op die brieweblad vandag De Villiers het op die regte tyd op die verhoog verskyn om die giftige angel van kleur en rassespanning uit te roei. Dis waar.
Met hierdie toernooi – eintlik in sy hele termyn – was daar weinig twispunte oor wie wit en wie swart is in die Springbok-span.
Selfs verlede naweek toe Beast Mtawarira weggelaat is, het niemand iets daaroor te sê gehad nie.
Die grootste debatspunt was eerder oor watter speler – albei wit – op haker moes begin.
Diversiteit van sportspanne sal in ons land altyd belangrik bly. Sommige mense wou byvoorbeeld meer van Gio Aplon en Juan de Jongh gesien het. Albei is egter jonk en gaan nog baie kanse kry.
Maar dalk het die debat oor verteenwoordiging op nasionale vlak al aanbeweeg en stem almal nou saam dit is iets wat eerder op die vlak van die Super14, Curriebeker en laer vlakke, selfs al op skoolvlak, genoeg aandag moet kry. En dat die beste span, ongeag kleursamestelling, vir die land diens behoort te doen.
De Villiers behoort dus hiervoor nog ’n regmerkie te kry. Hy was van die begin uitgesproke oor sy beleid om nie af te wyk van meriete as enigste maatstaf nie. Hy het geweier om te glo dat, ongeag die getal swart spelers, die land nie trots is op die span nie. En dit is so.
Al het ons Wêreldbeker-drome misluk, is ons steeds trots op die wyse waarop die Bokke gespeel het, asook op die dissipline in die span.
Nog ’n riem onder die hart was die regering se steun. Nie ’n enkele politikus het dié keer negatiewe opmerkings oor die samestelling van die Bok-groep en -span gemaak nie.
Gee erkenning: Dit was juis die minister van sport wat die harte warm laat klop het met sy vurige uitlatings en steun. Boonop sê mnr. Fikile Mbalula volgens berigte die regering gaan nie weer voorskriftelik wees oor ’n Bok-afrigter nie. Dis mos vordering, en dis ook ’n erkenning dat talle bekwame wit en swart afrigters op dié vlak op gelyke voet met mekaar kan meeding.
Nog iets positief vir die land was die steun van Jan Alleman. Net soos wit en swart verlede jaar Bafana Bafana tydens sokker se Wêreldbeker-toernooi gesteun het, was Suid-Afrikaners van alle soorte in hul groen truie aan die Bokke se kant.
Ek dink my waarneming is korrek dat sport sedert 1995 toenemend bydra tot nasiebou, en dat die land verder daarin behoort te belê.
Dis verblydend dat veral rugby en sokker hierdie gom is, want te dikwels gee ons politiek ’n stank af wat mense eerder uitmekaar laat spat.
Vir hul bydrae tot nasiebou is dit dus gepas om De Villiers en sy Bokke te bedank vir hul spel in die massateater waar ons tydelik van ander bestaanskwellinge kon vergeet.
Ons verwerk die pyn en probeer weer ’n volgende keer.
- Rapport