Hoop, dís wat ons kinders makeer
2011-06-11 18:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek en ’n kollega praat soms oor ons land se behoeftes en die gesprek draai dikwels by die onderwys; of daar ’n manier is om terug te ploeg.
Ons hoop dan dat vandag se jeug ook onderwysers het met die eienskappe wat ons s’n gehad het.
Hulle was nie almal goed gekwalifiseerdes nie. Maar hulle, of die meeste van hulle, het omgegee. Soos die st.4-plaasskoolonderwyser wat ek later weer op hoërskool in die dorp sou raakloop.
Toe hy st. 9 begin, het ek st.7 begin.
Maar as ek aan hom dink, onthou ek die baadjie wat hy op ’n koue dag by die skool oor my skouers gehang het.
En, natuurlik, was daar dissipline – en oortreding is met waarskuwings of straf gevolg. Hulle het ons aangemoedig, die voorbeeld gestel van wat ’n mens met harde werk kan vermag; al was die geleenthede skaars, die vooruitsigte skraal. En moenie vergeet nie, dit was ’n tydperk van ongelyke salarisse en min voorregte.
Nog ’n vangnet vir ’n kind is áltyd die liefde en ondersteuning van ouers. Al was van hulle, soos myne, self nie op skool nie, was hulle nederige, gelowige mense wat vir al hul kinders “gelerendheid” wou hê. Ek salueer hulle.
Nou hoor ’n mens deesdae toenemend die land gaan brand as daar nie aandag gegee word aan die jong werkloses nie, veral die swart jeugdiges. Mnr. Zwelinzima Vavi, grootbaas van Cosatu, waarsku gereeld.
Dis ’n werklike krisis, want in dié era is daar nóg minder geleenthede as destyds – en die getalle groei.
Die oplossings is kompleks.
Barney Mthombothi, redakteur van Financial Mail, wys onder meer op die groot getal verwarde jong mense wat agtergelaat word of wat voel die demokrasie werk nie.
By hulle val mnr. Julius Malema se opswepery op vrugbare grond en hulle sien hom as die enigste hoop.
Dan sê hy, en hierin lê die kern: “Ons moet ons onderwysstelsel regruk dat dit hoop kan bring vir jong mense.”
Hoop. Dit is die woord.
Want niemand wat hoop het, is vernielsugtig nie. Verniel nie skoolgeboue, biblioteke, treine of ander eiendom nie. So iemand is meer gedrewe en reik na sukses – soos talle wat ondanks armoede en ander gebreke bo kon uitkom.
Ouers en onderwysers kan hoop help kweek. Pa en Ma moet positief bly en gelukkig is die meeste onderwysers steeds omgee-mense wat hul salaris, wat darem nou gelykgestel is, verdien.
Die staking van onderwysers bly egter ’n onding.
Dit lyk egter of Cosatu die lig begin sien. Die vakbond sou dié naweek praat oor arbeidsverhoudinge in die staatsdiens en hoe dit dienslewering raak, op versoek van die Nasionale Unie van Mynwerkers.
Laat Cosatu dan ook hoop bring vir beter onderwys en sy lid, die onderwysvakbond Sadou, beïnvloed om sy bedrywighede in skoolure te staak.
En laat elke liewe leerling in ons skole bewus word van ons land se enorme behoeftes. Asook hul plig om die diens wat die staat wel verskaf – soos skole, boeke en onderwysers – maksimaal te benut.
Hulle moet wéét hulle kan ook sukses behaal, ondanks karige bronne en geleenthede.
- Rapport