Kleurlinge, ‘ja, baas’ en ‘slegs wittes’
2011-01-22 15:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Jong, wit laaitie in Jeffreysbaai het my kort ná Kersfees, waar ek die Rapport Touchees-rugbytoernooi bygewoon het, eers geskok laat lag en toe later laat nadink.
Ek het die 11-, 12-jarige seun gevra om die besonderhede van ’n dogtertjie wat ek afgeneem het by haar ouers te gaan kry.
Later kom hy uitasem terug en toe hy my nie dadelik raaksien nie, vra hy kliphard: “Waar is die Kleurlingman met die kamera?”
Miskien het dit omstanders ongemaklik laat voel, ek weet nie. Maar dit het my onkant betrap: Is dít nog die naam wat wit ouers aan hul kinders voorhou vir mense soos ek?
Ek hoop nie so nie, want ter wille van menseverhoudinge in ons land is dit nodig dat dié soort kwetsende aanspreekvorm in die asblik beland. Plus, ons moet by ons kinders respek kweek vir die “ander soort”.
Die meeste bruin mense wat ek ken verkies om nie as “Kleurlinge” aangespreek te word nie. Eintlik wil ons net Suid-Afrikaners wees, hoewel werklikhede soms vereis dat jy die kleurverwysing (wit, bruin, swart) moet gebruik.
Maar dis nie die enigste voorval wat my oor die Oos-Kaapse mense laat wonder het nie.
Op pad terug Port Elizabeth toe ry ons deur die pragtige Gamtoosvallei wat na Hankey en Patensie toe loop. In die winkel by Hankey hoor my metgesel hoe die werker vir die wit eienaar “ja, baas” nadat hy haar gevra het om iets te doen.
Ongelukkig vertel sy my eers daarvan toe ons ’n ent weg is. Ek sou graag by die man wou weet of dit op sy aandrang was en of die mense net nie van dié slegte, argaïese gewoonte ontslae kan raak nie.
Was dit laasgenoemde, sou ek hom mooi gevra het om met die opvoedingstaak te help, dit pas immers nie in ’n era waarin ons poog om alle mense se waardigheid te herstel nie.
Dié twee voorvalle laat my toe dink aan die slegte ou dae, toe my ouers vir die wit laaitie, al was hy nog in sy doeke, “kleinbaas” moes sê. Sodra hy egter sy mondjie kon oopmaak, was die vrypas daar om volwassenes aan te spreek as Koos, Josef of Jakob. Hieroor sou ’n mens ’n boek kon skryf. Maar dit is deel van die verlede, en ’n mens wil eerder daarvan vergeet.
Nie dat dit altyd maklik is nie. Donderdag lees ek in Beeld oor die rasherrie nadat ’n bruin gesin verlede maand by die Klub Lekkerrus-vakansieoord buite Naboomspruit (Limpopo) toegang geweier is.
Wat de hel, wil ’n mens byna vra. Het die eienaars die afgelope 20 jaar in bunkers weggekruip? Bruin en swart verslaggewers is glo ook toegang geweier, terwyl ’n wit fotograaf dadelik kon aansoek doen by “die klub”. Ene ds. Gert Coetzer wou blykbaar nie sê of hulle wit, bruin of swart lede het nie, volgens Beeld.
Ek wil ds. Coetzee nie sommer veroordeel nie, daarom nooi ek hom om ’n briefie aan Rapport te skryf en die kwessie op te klaar. Of dalk moet die dominee my nooi om self te kom sien dat daar nie rassisme is nie. Ek sal graag kom, maar die agbare dominee moet weet ek gaan my swartste familie opsoek en saambring sodat hulle ook lekker kan kom rus.