’n Regte leier en 67 minute word 67 dae
2011-07-23 16:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Wat gaan pres. Jacob Zuma se nalatenskap wees na afloop van sy termyn (wat hopelik tot een beperk gaan word)?
In dié stadium lyk dit regtig of hy ons met ’n rampokkerstaat of ’n piesangrepubliek gaan los, soos Rhoda Kadalie en Zwelinzima Vavi waarsku.
Kommentators meen ons is nou op die rand daarvan en dat Zuma se optrede in dié fase van sy termyn ons óf na die een óf na die ander kant toe kan laat val.
Dis seker net in Afrika dat, in ’n land met soveel korrupsie en misdaad, ’n staatshoof so lank wag met optrede nadat die hoogste polisieman – én meer as een kabinetsminister – in oneer beland het.
Dit is veral skreiend in die lig daarvan dat die vorige polisiehoof ook as ’n misdadiger gebrandmerk is.
’n Tyd gelede is daar ook bespiegel oor die nalatenskap van Zuma se voorganger, mnr. Thabo Mbeki. Daar is gesê sy positiefste bydrae was sy ekonomiese beleid wat die land sowat agt jaar lank op ’n sterk groeipad geplaas het. Maar as mense oor Mbeki praat, is dit nie juis daaroor nie. Dis oor sy vreemde siening van MIV/vigs en dat hy nie volgehou het met die versoening en nie-rassigheid wat oudpres. Nelson Mandela probeer bevorder het nie.
Die wapenskandaal hang ook oor Zuma en Mbeki se kop. Dis geen wonder nie dat Andrew Feinstein albei as “tarnished goods” bestempel in sy boek After the Party.
’n Vroeë nalatenskap van Zuma is dat kiesers van die minderheidsgroepe die ANC die rug toegekeer het.
Die naaste aan ’n ideale president vir ons land met sy diverse samestelling was Mandela. En sy nalatenskap leef voort.
Die SABC2-program oor sy versoeningsoptrede tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 1995 beklemtoon hoekom mense hom nou as die maatstaf beskou. Mandela het nood maklik raakgesien, soos toe hy sy Kinderfonds begin het ná sy waarneming van Kaapse straatkinders wat om ’n vuur hitte probeer soek.
Hy kon mense inspireer om ander in nood te help – iets wat ons land met sy groot ongelykhede broodnodig het.
Want, besef ek opnuut toe ek Woensdagaand ’n siek tuinier na sy huis in ’n plakkerbuurt neem, ons leef in verskillende wêrelde. Dit is in Honeydew, Johannesburg, waar daar onlangs nog hewige opstande oor dienslewering was.
Die vredeliewende en hardwerkende Godwin se leefwêreld is ’n stowwerige buurt waar jy ook tydelike opslaanplekke van plastiek aantref.
Waar mans saans laat onder motors inkruip om die een of ander fout te herstel.
Waar kinders, klein en groot, in halfdonker kolle rondskarrel, sommige nog met die skoolsak op die rug.
Waar mense ronddraal by lamppale en die huisies opmekaar staan.
Waar jy 19:00 nog langs die pad mense uit taxi’s sien klim en na blyplekke skarrel.
Dis g’n lewe nie.
Die 67 minute diens aan minderbevoorregtes wat ons jaarliks op Mandela se verjaardag lewer, is hopeloos te min.
My vraag is: Sal meer mense nie ’n ware verskil help maak (dalk selfs 67 dae van die jaar) met ’n regte leier wat almal inspireer en aanmoedig om meer te doen nie?
- Rapport