ANC moet ná feestyd skoonmaak
2012-01-07 13:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit is vandag presies 100 jaar gelede dat die ANC, die oudste bevrydingsbeweging op ons kontinent, gestig is.
Leierskapprobleme en faksiegevegte binne die organisasie, asook ernstige tekortkominge as regerende party, het die laaste paar jaar die nuus so oorheers dat baie van ons lesers vandag hierdie dinge sal onthou eerder as om te deel in die viering van ’n merkwaardige prestasie.
Al sy huidige probleme ten spyt bly die ANC ’n skitterende baken in die geskiedenis van hierdie land. Deur al die donker dekades van apartheid en gestruktureerde en gewettigde rassisme was dit die ANC wat die vlagdraer van nie-rassigheid en demokrasie was.
Vandag is dus ook ’n geleentheid om ons te herinner aan en te laat nadink oor waarvandaan ons kom en watter stryd gevoer moes word om te kom waar ons vandag as land staan.
Die Waarheid-en-versoeningskommissie was die een geleentheid waar die land gesamentlik wou nadink, die waarheid praat oor en mekaar probeer vergewe vir die verskriklikheid van ons verlede. Die WVK het dit probeer doen deur te fokus op gevalle van growwe skendings van menseregte.
’n Punt wat ek vandag sou wou maak is dat apartheid in elke oomblik van sy praktyk ’n aanslag op die menswaardigheid van swart mense was. Jou hele lewe is daardeur bepaal; jy is op grond van jou kleur in elke aspek van jou lewe tot minderwaardigheid omskryf. Dis daarteenoor dat die bevrydingsbeweging as skitterende teendeel staan en sal lewe in die geheue van dié wat vandag vier.
Die ANC het baie om hom op te roem en te vier vandag.
Van die “four pillars of struggle” is dit veral die sukses wat hy in twee daarvan bereik het wat my beïndruk: die mobilisering van die internasionale gemeenskap teen die apartheidsregime en die binnelandse mobilisering.
In een stadium het die ANC meer diplomatieke missies as die apartheidsregering gehad. En ten spyte daarvan dat hy ’n verbode organisasie in die land was, het die ANC gaandeweg daarin geslaag om die binnelandse verset tot die deurslaggewende aanslag teen apartheid te organiseer.
Ten opsigte van dié binnelandse verset word daar dikwels gewag gemaak van die oproep om die land onregeerbaar te maak en daar word verwys na die destruktiewe effekte daarvan. Hierdie strategie het egter ook ’n verdere aspek gehad, naamlik die besetting van sosiale ruimtes deur radikaal alternatiewe denke.
Daar is besef dat anders as in lande soos Mosambiek die moontlikheid van bevryde fisieke gebiede skraal was. Daarom hierdie tweeledige taktiek van die apartheidstaat onregeerbaar maak en ruimtes van alternatiewe denke teen apartheid te ontwikkel. Dis hieruit dat die “Mass Democratic Movement” ontspring het.
’n Mens sou wou hoop dat vandag se viering ook die ANC – trotse ou beweging – tot diep nadenke oor sy pad vorentoe sal stem. Sy eie sekretaris-generaal het onlangs gewaarsku oor die ernstige krisis waarin die organisasie verkeer en senior lede praat openlik daaroor.
’n Siek en korrupte ANC is nie goed vir die land en sy mense nie.
Mag daar ná die feesvieringe goed skoongemaak word.