Dié Afrikaner nie meer vir lank met ons
2012-01-28 14:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Emeritus-professor Stephanus Nolte, eens van die departement volkekunde aan ’n suidelike universiteit, bou ’n diorama in sy garage. Hy werk met pynlike noukeurigheid, amper soos ’n pensioenaris wat maande lank opgekrimp in ’n buitekamer gestalte gee aan ’n 17de eeuse seilskip uit vuurhoutjies.
Die diorama heet “Die Afrikaner, circa 2015” en bevat elemente soos ’n (gedeeltelike) Toyota Fortuner, Hi-Tec-sandale en verskeie artefakte wat uit plaaslike takke van Cape Union Mart, Due South of Outdoor Warehouse aangekoop is. Die uitstalling spog selfs met klankgrepe wat die belangstellende via versteekte luidsprekers bereik wanneer hy sekere knoppies druk.
Vir prof. Faan, soos oudstudente en kollegas hom steeds noem wanneer hulle hom in een van die dorp se skaduryke lanings raakloop, is dit nie ’n stokperdjie nie. Hy sien dit as sy laaste groot lewenstaak en ’n werk wat waarskynlik nog ’n plek in die Suid-Afrikaanse museum aan die bopunt van Kaapstad se Kompanjiestuin sal verdien. Dit is immers daar dat die kiem van die gedagte by hom ontstaan het.
Die veelbesproke dioramas in dié museum beeld onder meer uit hoe ’n groepie Nama-mense eens gewoon het. Nadat die uitstallings op ’n tyd verguis is as koloniale oorblyfsels wat die oorspronklike volke in ’n minderwaardige lig stel, is dit onttrek, maar het later ’n skugter terugkeer gemaak te midde van verduidelikende kennisgewings.
Oor al die onnodige drama kon prof. Faan net sy kop skud. As sosiale antropoloog (weliswaar afgetree) was die dioramas vir hom bloot antropologiese tydsgrepe en het dit aan die besoeker ’n voller begrip gebied van hoe die streek se mense eens daar uitgesien het.
“Dis nodig,” het prof. Faan aan sy vrou verduidelik. “Want anders weet ons nageslag nie meer hoe dit was nie.”
Daarom dat prof. Faan met hernude ywer aan sy diorama begin werk het. Dat die skrif vir die Afrikaner aan die muur is, was lankal vir hom duidelik. Toe die studente-organisasie van die DA die afgelope week met hul plakkaat te voorskyn kom van ’n wit man en ’n swart vrou in oënskynlik intieme omhelsing, en boonop beduie het dit is die toekoms, het woorde soos “assimilado” en “mulatto” uit prof. Faan se volkekundige agtergrond skielik in neon voor hom begin flits.
Hy het besef hy sal moet wikkel, want die Afrikaner soos hy hom geken het, gaan nie meer lank met ons wees nie. Nie dat hy eng, rassisties (die gode behoed sy suidelike siel!) of selfs hartseer daaroor was nie, want dit is die verloop van die lewe. En allermins is prof. Faan besig om die Afrikanergesin as ’n geïdealiseerde en stoere eenheid voor te stel. Brutale realisme is, soos hulle in die akademie sê, die leitmotief.
In die diorama sit die opgeskote dogter byvoorbeeld nie meer aan moedersknie nie, maar in volle swart goth-gewaad en met ’n dikbek op ’n kampstoel onder ’n voorstelling van ’n bloedige Afrika-son. Sy lees Heat en suig aan ’n Brutal Fruit. Op die agtergrond hou haar broer skelm hande vas met die natuurbewaarder (manlik, dog blank) terwyl hulle ’n zol deel en voorlangs gooi Pappa ietsie in die glas terwyl Mamma die heruitsending van 7de Laan per draagbare satellietskottel kyk.
Langs Pappa lê ’n legger waarop staan: “Aandele in Chinese IT-maatskappy”. En druk ’n mens die knoppie wat sê “Liedere-skatkis van die Afrikaner”, begin die keurspel met Blinkvosperd en Kent gij dat volk, maar eindig met die heerlik hedonistiese (het prof. Faan gedink) Doosdronk van Fokofpolisiekar, Jack Parow en Die Antwoord.
Die diorama in wording is natuurlik nie sonder sy probleme nie. Die voormalige hoogleraar kon uiteraard nie ’n hele Fortuner inpas nie, maar het darem ’n redelik ongeskonde agterkant op ’n skrootwerf opgespoor. Dié is afgesaag en as deel van die toneel gemonteer.
Die ergste vir prof. Faan was egter toe hy sy driejarige rifrug moes laat uitsit en opstop om neffens oubaas in die diorama te pryk. Want as daar nou een subjektiewe swakheid in prof. Faan se borswering van akademiese gelykberegting is, is dit sy geloof dat die Afrikaner mooi na sy honde kyk.
En ’n rifrug lyk nooit beter nie as op drie wanneer hy in die spierkragtige fleur van sy lewe is.