Kyk nou net hoe vlot verloop die oorgang
2012-01-14 13:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Die ding van ’n Boer,” sê mevrou Dlamini, “is dat as jy die dag ’n flukse een onder die klomp lui donners raakloop, jy aan hom moet klou. Want ’n beter tuinier as ’n flukse Boer kry jy beswaarlik. Maak net seker hy is nie te lief vir brandewyn nie.”
“Is so.” Mevrou Mabuse knik instemmend. Sy het immers al ’n stel met so ’n brandewyn-bulletjie afgetrap. “As hulle in die oggend eers so bewerig opdaag en kort-kort grinnik, moet jy maar weet die skadukolle gaan die man tot met tjailatyd bly volg. Dan drink hulle dit nog saam met Coke ook.”
Sy skink ’n tweede koppie tee en kyk uit oor die lowergroen grasperk wat strek vanaf die stoep waar hulle sit tot by die bedding waar Gert van der Merwe hurkend jag maak op halsstarrige spruitsels onkruid.
“Die Joodjies is orraait as jy een in die hande kan kry,” vervolg Mevrou Dlamini. “Slim, vat glad nie lank om ’n ding te leer nie. Maar hulle word ’n bietjie swakkerig in die skerp somerson en is sommer gou om jou op die swetterjoel bepalinge van arbeidswetgewing te wys.
“?’n Engelsman kan jy weer nie in jou huis toelaat nie, of jou jenewer kry voete. Glo ook lief vir juwele wat rondlê.”
Die twee vriendinne sug. Bediendes, dis nou maar eenmaal die vloek van die swart man in Afrika.
“Dan praat ek nie eens van die Svetlanas wat te oud geword het om by Teazers te dans, maar nie wil terug tuisland toe nie.” Mevrou Dlamini raak sommer kortasem soos sy op stryk begin kom.
“Kan nie eens Afrikaans of Engels praat nie, wat nog te sê van Sotho. Maar die taal van die liefde ken hulle alte goed, selfs bereid om op hul oudag ’n paar behoorlike heupe te groei om jou man se aandag te trek.
“Ek sê al lankal vir Simphiwe dis tyd dat hulle die ontugwet nou deur die parlement kry sodat die mans kan leer om hul hande tuis te hou. En ek dink nie dis reg dat ’n wit vrou voor in ’n kar langs ’n swart man sit nie.
“Eintlik moet hulle maar net terug na die Oekraïne toe. Hier gaan hulle net moeilikheid maak,” sy.
“Wat praat jy alles, mevrou Ntsebenza is juis nou besig om te skei nadat sy haar man en sy sleg vriende betrap het waar hulle verlede maand snoeperye van ene Saartjie – Afrikaans, kan jy dit glo! – se lyf in die garage gesit en eet het. Wou dit nie te openlik maak en soesji bestel nie, toe maak hulle sommer visvingers skelm gaar op die gasbraaier. Nou dagvaar die Saartjie nog vir brandmerke ook. Glo aan die kar gewerk, gmf!”
“Gert!” Mevrou Mabuse het uit haar leunstoel opgestaan. “Faka lô hosepipe, paya anderkantste flowerbed, quick, quick! As die master by die huis kom, hy sal baie angry wees as daai flowers droog is.”
Sy is nogal trots op haar bemeestering van die nuwe Fanagalô. Dis makliker as wat ’n mens dink.
Niks is inderdaad onmoontlik nie. Toe sy edele Julius Malema ’n skamele agt jaar gelede, doer aan die begin van 2012, gesê het dit is tyd dat swart mense wit bediendes kry, kon selfs hý nie gedink het die oorgang gaan so vlot verloop nie. Die vrotterige arbeidsmark, volgepropte universiteite en regstellende aksie het uiteraard ’n invloed gehad. Die bepalende faktor was nietemin toe die destydse president, Jacob Zuma, later die jaar by Mangaung sy populistiese vyfjaarplan vir die verkryging van wit bediendes bekend gestel het. Die Manyi-kêrel wat hy as kommissaris-in-beheer aangestel het was net die man. Daar is darem maar niks wat ’n gillende ideoloog met ’n Robespierre-vergeldingsdrang nie gedoen kan kry nie.
“Nog ’n bietjie tee?” bied mevrou Mabuse aan. “Ja, Gert, ek weet nou nie wat sy van is nie, is inderdaad die sout van die aarde. Dis die jongetjies vir wie ’n mens versigtig moet wees. Heeltemal te groot vir hul skoene en ek sê altyd ’n mens moet nie ’n Boer vertrou wat ander goed lees as net sy Bybel nie. Gert se vrou, Martie, kom ook twee keer ’n week in vir die strykwerk en ’n beter mens kry jy nie. Het boonop diabetes, so sy steel nie eens suiker nie!”