Die Antwoord is geen antwoord nie
2010-02-21 10:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
’n Paar weke gelede het ek, in hierdie einste koerant, belowe dat ek nooit weer iets leliks van my mede-musikante sal sê nie.
Nou het ek by ’n paradoksale situasie gekom: ’n Afrikaanse band het onverwags die verbeelding van die ganse wêreld aangegryp.
Afrikaanse musiek is op die map.
Maar is Die Antwoord werklik die antwoord?
Tot dusver was ek skynbaar een van die min stemme van kritiek teen dit waarvoor Die Antwoord staan.
Dit plaas my in ’n geweldige moeilike posisie. Is dit skynheilig van my om Die Antwoord te beskuldig van oppervlakkige vulgariteite? Ek het self op die oomblik ’n nommer?een-MP3-treffer op Channel 24 wat sowat 90 F-woorde bevat. Ek en my generasie het Afrikaanse vloekwoorde gewild en aanvaarbaar gemaak, tot so ’n mate dat die meeste Afrikaanse koerante al bereid is om ernstige resensie-ruimte af te staan aan orkeste met name soos Fokofpolisiekar.
Sedert ek Die Antwoord die eerste keer gehoor het, het hulle tegnies geweldig verbeter. Hul bemarkingstrategie is byna onweerstaanbaar. Ondanks hul gebrek aan inhoud het hul sangtegniek, opnamestyl en algehele, kommersiële impak met rasse skrede gevorder.
Maar dit is dalk juis die probleem.
Ek glo dit steeds: Die Antwoord is, en bly, ’n bemarkingsfoefie, ’n racket, ’n flash-in-the-pan.
Ek weet van geen enkele luisteraar wat na ’n liedjie van Die Antwoord luister en dan aan hom- of haarself kan sê nie: “Nou voel ek meer in touch met myself.” Ook nie: “Dit is die taal van my hart.”
Sedert ons met die revolusie in Afrikaanse musiek begin het, droom ons van die dag dat een enkele sanger of orkes die Groot Internasionale Deurbraak maak, die Ding Doen wat maak dat die wêreld van ons kennis neem.
Die Antwoord het dit nou reggekry. Ek moet heeltemal eerlik wees as ek sê: Ek wens dit was eerder Jack Parow. Ek wens dit was eerder Karen Zoid, met ’n liedjie soos Aero- plane Jane. Bliksem, ek wens eerder mense het kennis geneem van Amanda Strydom se triomfantelike toer onlangs in die Lae Lande. Ek wens oorsese luisteraars het kennis gedra van Rocco de Villiers se “Vitamin R”-produksies, of die fantastiese rock-ballades op die nuutste aKing-album. Enige van hierdie plaaslike produkte, reg bemark, sou die regte soort aandag trek oorsee.
Met ’n rubriek soos hierdie wil ek nie ’n anti-of-pro-Die Antwoord-debat begin nie. Daardie debat is reeds aan die gang. Ek wil ook nie ’n persoonlike aanval op die mense in die band doen nie. Dit is die prerogatief van die jeug om onverskillig, onverantwoordelik, oppervlakkig en narcissisties te wees. Ek en my generasie was geensins vry van hierdie sondes nie.
Maar ek wil dit graag op rekord plaas – al is dit retrospektief en al klink dit of ek myself nou by die konserwatiewe oumense skaar wat out of touch is met tieners in die algemeen – maar ek MOET dit onomwonde stel: Die orkes Die Antwoord is nie van my kerk nie.
Ek wil nie vir hulle pa staan nie en ek distansieer my van hul nihilistiese filosofie. Ek voel ongemaklik met hul seksisme, hul gebrek aan toekomsvisie, hul dimensielose anargie en hul self-haat.
Ek veroordeel hulle nie op morele gronde, soos die kerk sou doen nie, maar ek verwerp hulle op estetiese gronde. As jy verby die skok en tinsel kyk, is hulle eenvoudig vervelig.
Was ons in Voëlvry anti-alles? Was ons nihilisties?
Nee, ons was anti-apartheid. Ons vyand het ’n naam gehad. Selfs die enkele pro-anargie-liedjie wat deur Johannes Kerkorrel geskryf is, was tong-in-die-kies en selfondermynend, want dit was getoonset op die deuntjie van ’n Kinderkrans-song.
Ek gun Die Antwoord hul tydelike sukses. Maar my geld is steeds op die musikante wat werklik iets het om te sê en dit doen met talent en integriteit.