Moordenaars doen nie Sudoku nie
2010-05-29 16:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op

Hierdie is my laaste rubriek in hierdie hoekie van Rapport se agterplaas. Toe ek nou die dag vir my redakteur noem dat ek bietjie keelvol is vir politieke en aktuele sake bied hulle aan om my uit te skuif, selfs nog dieper die agterplaas in, na die nuwe Kaap-Rapport toe. Dis waar ek aanstaande week wegspring.
Dis beslis die regte ding op die regte tyd! Ek kan van nou af, soos Kurt en Anastasia, reisverhale en staaltjies uit my buurt vertel. My kop is rêrig moeg en suf van al die Malemas en die Moeilikhede en die Gespoeg en Gewroeg oor Volk en Taal.
Politiek, dit kom ek al meer agter, is ’n bietjie soos ’n dwelmmiddel. Anders as ander dwelmmiddels maak dit ’n mens egter nie dom en apaties nie. Dit maak jou slim, heeltemal te slim vir jou eie gesondheid, en dit maak jou aggressief, strydlustig en befoeterd.
Wanneer ek dink in politieke terme sien ek nie mense om my raak nie. Hulle is óf die “massas” óf die “proletariaat” óf “die man op straat”. (Wie de hel is “die man op straat”? Kwalifiseer ’n vrou wat ’n prêm stoot ook as “die man op straat”?)
Wanneer ek in politieke terme dink, begeef ek my in hoogs “morele” debatte met ander debatteerders, ’n stryd van idees waarin almal se menslikheid geheel en al ontken word. Was dit Bertrand Russell wat een maal geskryf het: “I love humanity, but I hate people”?
As ek dink aan die vele kere dat ek ideologiese swaarde gekruis het met my opponente skrik ek as ek besef hoe min ek van hulle weet. Wat eet Dan Roodt vir brekfis? Drink Charl-Pierre Naudé nog so baie tee? Het Steve ’n hond? Hel, ek het nie ’n clue nie.
Juis nou die dag bevind ek myself in ’n volgepakte lughawe-bussie op pad terug Kaap toe, skaars ’n halwe meter af van Cosatu se leier, ene Zwelinzima Vavi. Oor Cosatu en oor Vavi het ek nog altyd sterk positiewe én negatiewe gevoelens gehad! Ek kon nog nooit my “maaind opmaak” oor hoe ek oor dié ouens voel nie.
In my verbeelding het die persoon van Vavi, en alles wat hy simboliseer, mettertyd begin groei tot ’n monster met twee koppe: Die een die kop van ’n engel en die ander van ’n duiwel, albei ewe grotesk en onwerklik!
Ek het comrade Vavi onderlangs dopgehou. Hy het ontspanne en vriendelik gelyk, asof hy nie ’n vlieg sou skade aandoen nie. Die hele tyd was hy besig om ’n Sudoku in te vul met sy balpuntpen op ’n gevoude koerantbladsy.
Ek kon my voorstel dat hy die soort ou kon wees met wie ’n mens lekker kon gesels, die soort ou wat jy kan vra om ’n halfuur lank na jou kinders te kyk terwyl jy gou winkel toe gaan, die soort ou by wie jy ’n grassnyer of ’n koppie suiker kan gaan leen.
Dalk was dit die Sudoku wat my gerusgestel het; ek verstaan nie veel van die speletjie nie, maar ek weet instinktief dat massamoordenaars of psigopate nóóit sal Sudoku’s doen in hul vrye tyd nie.
Ek kyk deesdae met nuwe oë na Vavi as ek sy foto in die koerant sien!
Ja, dit gaan vir my lekker wees om my politieke brein bietjie af te skakel. Dalk sou dit selfs goed vir die land wees as meer mense dit doen!
En, dank die hemel, die sokkertoernooi kon nie op ’n beter tyd gekom het nie, want, hoe mal dit ook al gaan wees, red dit alle Suid-Afrikaners, ten minste tydelik, van die veel dieper en omvangryker malheid van ons obsessie met velkleur en ras!
Hymie is óf seniel óf onder die invloed, besef ek.