Stil broers, ’n era is finaal verby
2010-05-01 12:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
So eenmaal elke twee, drie weke, drink ek en my skoonpa saam brandewyn. Dis ’n ernstige tradisie wat nou al sowat tien jaar bestaan.
My skoonpa en ek verskil polities. Ons agtergronde en die dinge waarin ons glo, is so ver verwyder van mekaar soos kasterolie en KWV.
Tog het ons nog nooit ’n argument gehad nie. Die rede? Ons respekteer mekaar, en ons respekteer brandewyn. Ons drink brandewyn skoon, sonder ys of gaskoeldrank, teen kamertemperatuur. Daar is slegs twee dinge waaroor ons saamstem: Ons hou nie van Malema nie, en ons cheer altwee vir die Cheetahs. Oor feitlik alle ander sake verskil ons soos jintelmanne.
Dit help natuurlik dat my skoonpa effens doof is in sy een oor. Elke keer wanneer ek iets sê wat dalk te linksgesind is vir hom, mik ek vir sy dowe oor. Dan lyk dit asof hy saamstem.
Sowat ’n week na die moord op Eugéne Terre’Blanche het my skoonpa weer kom kuier. Dit was verlede Sondagaand. Ek het vir hom ’n dop ingeskink, en ons het saam na die CarteBlanche-program oor Eugéne Terre’Blanche begin kyk.
Nou moet ek erken, vir my was Terre’Blanche nog altyd ’n nar. Ek het nooit van hom gehou nie. Ek onthou dat ek eenmaal, baie jare tevore, verby hom gestap het in Pretoria – op Kerkplein, om presies te wees – en dat ek verbaas was om te sien hoe kort hy in lewende lywe was. Kort of te nie, tydens die Ou Suid-Afrika het die imposante figuur van Terre’Blanche soos ’n feniks uitgetoring bo baie van die ander Afrikanerleiers (van wie ek net so min gehou het). Ek het hom gehaat, want hy was nie ’n rocker nie, en alles omtrent hom was retro, van sy haarstyl tot sy outfits. Hy was doodeenvoudig un-cool.
Tydens die TV-program het ek vir die eerste keer dinge besef waaraan ek nooit voorheen gedink het nie – dat daar mense om Terre’Blanche was, vriende en familie en selfs kinders – wat opreg lief vir hom was.
Ek het ook vir die eerste keer gehoor dat Terre’Blanche tydens sy lewe soms in staat was tot verstommende goedhartigheid, selfs teenoor enkele swartmense wat hy as sy vriende getel het.
Terwyl ek en my skoonpa sit en brandewyn drink het, en die aand al langer gerek het, het al die ander huismense gewag vir die Groot Diskussie om te begin. Want as daar één onderwerp was wat die jarelange brandewyn-vrede tussen my en my my skoonpa sou kon verbreek, was dit Eugéne Terre’Blanche.
Elke keer as ek verby die kombuis gestap het om te gaan piepie in die gang-toilet, het my skoonma my gewaarsku: “Moet tog niks sê vanaand wat pa kan ontstel nie.”
Op die ou end is daar niks gesê nie. Dit was die heel eerste keer ooit dat ons sit en brandewyn drink sonder om te praat. Vir die eerste keer in tien jaar was woorde oorbodig.
En tog was daar iets in die stilte tussen ons; ’n Gewaarwording van mekaar se pyn. Dis was soos iets breekbaars en fragiel wat ons nie wou aan torring nie.
Want, of mens nou van Eugéne Terre’Blanche gehou het of nie, wanneer jy gekonfronteer word met die aaklige omstandighede, die wreedheid en die absolute sinloosheid van die manier waarop hierdie man gesterf het, is daar nie regtig iets om te sê nie. Jy kan nie grappies maak nie. Jy kan nie die insident gebruik om die een of ander punt te bewys nie. Dit sou onbeskryflik goedkoop wees. Jy is magteloos. Jy kan eintlik niks sê of doen nie.
Jy kan net in stilte sit en brandewyn drink.
- Rapport