'n Toekoms ander die longdrop
2010-05-15 14:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Soms blaai ek deur die “Loopbane”-bylae wat deel maak van sommige koerante. Maar nog nooit het ek ’n artikel gesien wat handel oor loodgieters nie.
Loodgieter-wees is nie ’n “kewl” loopbaan, soos advokaat, ingenieur of dokter nie. Ek weet van geen country club wat baie graag loodgieters as lede wil hê nie. Loodgieters is bloot die begrafnisondernemers van ons gesuipery en oorvretery; hulle is die ouens wat rondfoeter in die dreine tussen ons voormalige liggaamlike uitskeidings.
Ons wil ’n loodgieter net ken wanneer ons toilette nie meer spoel nie. Dan knyp ons ons oë en neuse toe en blaai benoud deur die Geel Bladsye. En die loodgieter kom, met sy bakkie vol tools en sy handlanger, en hy kom fieks alles sodat ons toilette weer werk.
Sedert my gunsteling loodgieter ’n paar jaar gelede spoorloos uit die Geel Bladsye verdwyn het, het ek myself geleer om self loodgieter-takies te verrig. Dis die enigste handy-man-vaardigheid wat ek nogal goed kan doen. Om die waarheid te sê, ek geniet dit. Daar is soms selfs ’n lewenslessie of twee te leer uit hierdie soort arbeid!
Terwyl ek die ander dag weer so mymerend voor ’n oop drein staan, skiet die gedagte my binne: die Nuwe Suid-Afrika is nogal baie soos ’n verstopte toilet.
Ja! Regtig. Wie sou nou ooit kon dink dat ’n eenvoudige loodgieter-joppie my ’n idee sou gee vir ’n Rapport-rubriek?
Hier is my filosofie. Die “slegte” ouens was aan bewind tot 1994, toe neem die “goeie” ouens oor. Maar hoe langer die “goeie” ouens aan bewind was, hoe meer het alles begin stink. Hoe dan so?
Die huidige regering se taktiek met die tamaai verstopte toilet van Suid-Afrika is baie soos die gemiddelde huisvrou in suburbia se taktiek. Die taktiek bestaan uit drie fases.
Fase Een. Hulle ontken daar is ’n probleem.
Fase Twee. Hulle erken daar is ’n probleem, maar probeer dit kosmeties regmaak (soos huisvroue wat lekkerruikgoed spuit).
Fase Drie (a): Hulle probeer die probleem uitkontrakteer na iemand anders (hulle bel ’n loodgieter), of Fase Drie (b): Hulle gee apartheid die skuld (hulle beskuldig die vorige loodgieter).
Die eenvoudige waarheid is dat nie een van hierdie taktieke ooit gaan werk nie, want dit takel nie die werklike oorsake van die probleme nie. En die werklike oorsake kan mens gewoonlik nie dadelik raaksien nie, want dis weggesteek, iewers onsigbaar ondergronds. Nege uit die tien keer is ons kabinetsministers en ander gesagsfigure te lui om self loodgieter te speel vir die dinge wat aanhoudend verkeerd loop in hul eie portefeuljes.
Regstellende aksie en kwotastelsels was van die begin af gedoem, omdat dit slegs die uiterlike simptome van ekonomiese ongelykheid probeer wegtoor het. Wat help dit byvoorbeeld jy dring aan op ’n swart Springbokspan as daar geen rugbyvelde of afrigters in die platteland of in die townships is nie? Mens kan nie sulke probleme van bo af regmaak nie, mens moet jou tyd neem en onder begin. (Dis natuurlik hoekom loodgieters aandring daarop om per uur betaal te word.)
Kan moraliteit geskep word deur die sameroep van ’n nasionale beraad? Natuurlik nie. Die korrupsie van die huidige sisteem het eers begin kop uitsteek vandat mense aangestel is op ander gronde as suiwer meriete. Dis so eenvoudig.
Die ver-regses, wat die oorsake van die probleme soms akkuraat diagnoseer, wil die wanfunksionaliteit van die nuwe Suid-Afrika weg-wens deur te probeer terugkeer na die ou, uitgediende sisteem. Maar dit is soos om spoeltoilette weer te wil vervang met longdrops!
Suid-Afrikaners moet ’n moderne, pragmatiese kommen-sens-kultuur kweek en die elementêre dinge begin reg doen. Want die alternatief is teen hierdie tyd vir almal redelik duidelik…
Een Reusagtige Groot K*k Spul.
- Rapport