’n Vlammetjie van hoop in donker Afrika
2010-02-06 16:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
In hierdie dae, terwyl donker wolke saampak op die wêreld-horison, terwyl oorloë en opstande oral dreig, terwyl die ganse planeet geskud word deur natuurrampe en plae, brand daar ’n vlammetjie van hoop aan die suidpunt van Afrika.
Daardie vlammetjie van hoop is aangesteek deur mense wat voorheen min gemeen gehad het met mekaar. Dit is aangesteek deur oudpres. FW de Klerk, terwyl Christo van der Rheede en Jonathan Jansen bakhand die wind staan en wegkeer het.
En so is ’n idee gebore, ’n idee waaroor vroeër gepraat is, maar min in geglo het; die idee van samewerking en uitreiking tussen Afrikaanssprekende mense.
In internet-kommentaar onderaan ’n stuk deur Tom McLachlan in Beeld verskyn vandeesweek die volgende kommentaar deur ene Abdulhalli Shittu: “Dankie, Tom, vir wat jy doen vir die taal, ek veg ook teen die rasbehepte ANC-regering vir Afrikaans en dit as bruin man!” Hierdie briefie is tekenend van ’n nuwe gesindheid wat mens deesdae waarneem.
Wanneer Afrikaanse mense mekaar eindelik ontdek – soos wat nou begin gebeur – sal hulle hopelik vir die eerste keer werklik verby die belange van hul eie etniese en kulturele klieks kan kyk. Wanneer Afrikaanse mense mekaar ontdek, wanneer hulle werklik hul oë oopmaak om mekaar raak te sien, sal hulle ook vir die eerste keer verstaan dat hulle in Afrika is, dat hulle deel is van Afrika, dat dit nie regtig op die lang duur help om te gaan wegkruip in Europa of Australië of Orania of selfs in die Staatsteater tydens ’n opvoering van Ons vir jou nie.
Daar het baie dinge vir my duidelik geword die laaste tyd. Tot nou toe was my visie so belemmer deur woede en wrokke en wroegings dat ek was soos iemand wat in ’n dowwe spieël na ’n strip show kyk. Dit het my lank geneem om te besef dat die rassisme van ons groepie ontgogelde liberaliste dikwels, as jy dit kaal uittrek, ook maar soos apartheid lyk.
Natuurlik is die regering se neo-rassisme net so erg. FW de Klerk is heeltemal reg wanneer hy sê dat die ANC ons weer volgens ras verdeel het. Om hierdie rassisme aan te vat moet mens egter oor jou eie rassisme kom, want mens kan nie die splinter uit jou naaste se oog haal terwyl jy jouself blind staar teen ’n kaalbasdanseres se koekrollerpaal nie!
Ek het nuwe waardering vir sommige van die ou waardes wat geslag ná geslag deur Afrikaanse ouers aan hul kinders oorgedra is. Ek het opnuut waardering vir iets wat ek herken as die tradisionele vindingrykheid van die Afrikaner.
Hierdie mense weet hoe om ’n wiel om te ruil. Hulle kan drade span sonder dat dit slap hang. Hulle kan plant en boer en planne maak. Selfs Zuma besef dat hy nie ver sal kom sonder die common
sense van die Boere nie.
Ek verstaan egter ook hoekom ek in ’n stadium wou bedank uit die Afrikanerdom.
Soos talle ander stamme, het Afrikaners gefrons teenoor “die ander”; teenoor enigiets wat as “volksvreemd” geteiken is, van rock ’n roll tot Rooms-Katolisisme.
Dit was ons grootste paradoks, dat so ’n hoog
s individualistiese groep mense soos die Afrikaners konformiteit wou opdwing aan die res van Suid-Afrika. Dit was die siekte van die ringkoppe.
Mag hierdie geslag sien hoe die harte van die vaders en die kinders mekaar weer vind, en mag die “Slegs blankes”-bordjies eindelik ook uit ons harte verwyder word.
Daar is nie meer wegkruipplek nie. Dit is nóú die tyd vir alle etniese groepe en kulturele groeperinge in Suid-Afrika om regtig na mekaar uit te reik, sonder vooropgestelde agendas en idees.
Ons moet dit self doen, want Mandela gaan nie vir altyd lewe nie.