Lizel Steenkamp: Wees eerlik oor minder provinsies
2012-01-31 10:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op

Afgevaardigdes by die ANC se beleidskongres in Junie sal die toekoms van provinsiale en plaaslike regering bespreek en die moontlikhede van ’n nuwe regeringstruktuur vir Suid-Afrika ondersoek.
Dit is geen geheim dat die ANC oorweeg om die getal provinsies te verminder of in die geheel van provinsiale regerings ontslae te raak nie. Dié voorstelle is al in 2010 by die ANC se hoofraadsvergadering in Durban gemaak en sal binnekort weer verskyn in die besprekingsdokumente wat in die aanloop tot die beleidskongres aan ANC-takke uitgereik gaan word.
Niemand stry dat provinsiale en plaaslike regerings op ’n rampspoedige glybaan is nie. Die skouspelagtige ineenstorting van Limpopo se provinsiale regering, die bedenklike finansies van dié in die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap en die feit dat meer as ’n derde van ons munisipaliteite op die rand van bankrotskap is, staaf dit.
Die oorsake van die agteruitgang en hóé om dit te stuit moet egter deeglik in oënskou geneem word.
Enige veranderings aan die huidige regeringstruktuur kan net met ’n wysiging van die Grondwet gebeur. Dit is die eerste realiteit wat die regerende party in gedagte moet hou.
Die tweede realiteit is dat die DA sulke planne hand en tand sal beveg. Die DA se strategie is om geleidelik al hoe meer provinsies by die ANC af te rokkel. Me. Helen Zille regeer reeds die Wes-Kaap en Gauteng is in die DA se visier in 2014 se algemene verkiesing. Die DA kan sy enigste magsbasis – die Wes-Kaap – verloor as die ANC aan die samestelling van die provinsies torring deur dit minder te maak (deur byvoorbeeld die Wes- en Oos-Kaap in een provinsie saam te voeg).
Maar die grootste teenkanting sal van binne die ANC self kom. Dít is die derde realiteit wat voorstanders van verandering aan die huidige regeringstruktuur nie durf onderskat nie.
Derduisende ANC-ondersteuners werk in provinsiale regeringsdepartemente as staatsamptenare. Waarheen gaan hulle ontplooi word as provinsiale regeringsdepartemente verdwyn? Selfs al word die poste op plaaslike regeringsvlak by munisipaliteite en metrostede verdubbel, sal daar werkverliese wees. Dié mense gaan vir seker nie stil-stil toekyk hoe die ANC hul poste afskaf nie. Benewens die staatsamptenare is daar die beroepspolitici met wie die ANC moet rekening hou.
Premiersposte en dié van die provinsiale kabinet (lede van die uitvoerende raad) is gesog. Benewens die mildelike vergoeding wat premiers en LUR’e verdien, gebruik beroepspolitici dié poste om hul politieke invloed en magsbasis binne die ANC te versterk. Vir die meerderheid is dit ’n leer na ’n ministerspos en die parlement, of selfs na die ANC se top-ses.
Dit is te betwyfel of dié mense hul politieke mag sommer net so gaan inboet. Die ANC moet eerlik wees oor hoekom hy oorweeg om aan die provinsies te torring. As dit is omdat dienslewering in duie stort, is die eenvoudige oplossing om kaderontplooiing te staak en mense op grond van vaardighede, en nie lojaliteit nie, aan te stel.
Die ouditeur-generaal het verlede week in sy ouditverslag oor die stand van provinsiale en nasionale regeringsdepartemente se geldsake weer gesê ’n gebrek aan vaardighede – waaronder finansiële bestuurders – is die grootste oorsaak van die verkwisting van sowat R25 miljard in die 2010-’11-boekjaar.
Minder provinsies gaan dít nie oplos nie.