Is die gras groener agter die lensiegordyn?
2012-01-21 14:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Muizenberg! Hoekom Muizenberg?”
Het ek gesê ek trek Manenberg toe, of Moembaai of selfs Magersfontein, kon jy dit nog verstaan. Maar Muizenberg? Ek is meer verbaas oor ander se verbasing, maar bly kalm en vertel vir hulle al die mooi en positiewe dinge wat tot my besluit bygedra het.
Dis rustig, sonder om gevrek te wees. Dis by die see en rondom ’n groot vlei geleë. Die mense is ongekunsteld, sonder pretensie en op die oog af min gepla met wat hulle dra, ry of doen vir ’n lewe. En dis steeds relatief naby die stad. Daar is pragtige ou geboue en, vir wat dit werd is, eiendom is nie onbetaalbaar duur nie. Ons praat nou nie van die villas teen die berg nie. So, alles in ag genome is ek verbaas dat almal nie in Muizenberg wil woon nie.
“En die misdaad?”
“Ag nee wat,” stel ek hulle gerus. “My buurman is ’n Nigeriese druglord en hy het uitstekende sekuriteit. Ek koop my voorraad oor die muur teen groothandelpryse.” (Gelukkig lees my loodgieter-buurman nie Rapport nie.)
En voordat hulle vervolg met: “En wat van die wind?” sê ek vinnig: “Maar dis eintlik die wind wat ek die meeste geniet. Jy het nie ’n haardroër nodig nie en dit waai al die leë KFC-houers Constantia toe.”
En hier is ons nou. Alles is uitgepak, die matte lê, die prente hang en Billy kan soveel gate in die sandgrond grawe as wat sy hondehart begeer.
“Welkom agter die lensiegordyn,” sê ’n ou vriend wat ook in die omgewing woon. Ons kuier by die mark in Muizenberg Village, waar almal op ’n Vrydagaand uithang, en eet die heerlikste vegetariese kos.
By die ingang is daar vars groente en vrugte teen ’n uiters billike prys te koop. Mans met poniesterte en bont broeke drentel rond met ’n kind op die skouers en ’n vrou met gekoekte hare en kaal voete aan die hand. Jy kan jou ’n meer vreedsame prentjie skaars voorstel.
“Almal ken almal,” sê Robert. “Muizenberg is een groot family.”
So lyk die beloofde land dan. Die plek waar ek uiteindelik my eie spinasie gaan plant, miskien selfs my eerste brood bak en wie weet, dalk brei ek nog vir Billy ’n trui ook. Omring deur positiewe energie en mense wat nog vir mekaar en die omgewing omgee.
Kort voor lank is hierdie geknoopte rugspiere en spastiese kolon iets van die verlede. Vriende sal met verwondering na my kyk en vir mekaar fluister: “Ek kan nie glo dis dieselfde mens nie. Sy raak nooit meer opgewerk oor niks nie en was maande laas by ’n uitverkoping.”
Hierdie Bellingan/Swart-humeur sal ter ruste gelê word, saam met die ongeduld en die onvermoë om te begryp hoekom daar soveel idiote in die wêreld geplaas is net om haar te irriteer.
Op ’n pragtige, sonnige en, ja, effens winderige oggend stap ek en Billy langs die vlei. Daar is eendjies op die dam (en ’n hondjie wat hulle wil vang), maar ook hy moet leer om alle lewe te respekteer. Ongelukkig bederf die magdom gemors wat in die vlakwater lê die pragtige omgewing rondom ons.
Doer in die verte kom vier munisipale dames aangedrentel. Stadiger kan ’n mens wragtag nie stap nie, dan val jy om. Elkeen met ’n lang soort stok met ’n skerp punt wat hulle gebruik om so elke 20 meter ’n verdwaalde papiertjie mee vas te pen.
Ek verneem of hulle Engels magtig is en vra waar presies hulle moet skoonmaak. Oral, antwoord die een, maar nie op plekke wat hul lewe in gevaar stel nie en beduie na die vlei.
Die walletjie is so laag my worshond is in en uit die water, maar hierdie dames waag geen kanse nie.
Intussen het ’n man by ons aangesluit, duidelik ook ’n besorgde inwoner, vermoed ek. Maar soos die dames wegstap, klim hy omtrent in my keel af omdat ek hulle nie eers komplimenteer met die wonderlike werk wat hulle doen vóórdat ek hulle kritiseer nie. En hoekom tel ek nie self die vullis op as dit my so baie pla nie?
Die res van die gesprek laat ek aan jul verbeelding oor, maar een ding kan ek julle belowe: Ek en hy gaan nie gou saam om ’n pot lensiesop sit nie.