POLLUX: D-dag vir Bheki Cele
2012-01-28 14:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Pollux lees genl. Bheki Cele, geskorste nasionale polisiehoof, sal van 13 Februarie af moet verduidelik oor die twee omstrede huurkontrakte vir polisiehoofkantore.
Cele, wat deur die openbare beskermer ondersoek is ná sy beweerde betrokkenheid by die kontrakte, verdien al sedert Oktober sy R100 000 plus per maand sit-sit so.
Pollux se pruik het byna afgeval toe hy lees die kommissie kan twee jaar sit om die waarheid uit te pluis. Dis onaanvaarbaar. Dit móét ’n drukfout wees... dalk is dit twee maande...
Sy eie skuld
Die media is die afgelope week geblameer dat hulle stres veroorsaak vir die familie van Jackie Selebi, ons ander eerste “polisieman”. Ene Jabu skryf toe in The Citizen, en Pollux stem saam: “Hou op om die media te blameer. Hy’t dit self veroorsaak, die dief!”
Dam of Damme
Onse LP’s in die Praathuis is ook maar net mens en kan nie help om gaga te raak oor TV-bekendes nie.
So was dit toe ook die afgelope week toe e.tv se Amerikaanse weerman kom inloer het by die omgewingskomitee se openbare verhore oor die wysigingswetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Eers het mnr. Gareth Morgan, DA-LP, vir mnr. Derek van Dam, hoofmetereoloog by e.tv, gevra: “Ag wat, jy is nou hier, wat uhm... is jou (kug-kug) mening oor ‘erge weertoestande’” En toe wil me. Dikeledi Tsotetsi, ANC-LP, weet: “Uhm, ag wat, jy is nou hier, hoekom word orkane altyd na vroue genoem?”
Soos Pollux verstaan, is daar grondwetlike vraagtekens oor dié wetgewing, maar as ons wetgewers sterre in die oë kry oor weervoorspellers, wat kan mens sê?
Gelukkig was niemand so laf om Van Dam oor die stand van damme uit te vra nie...
Hulle sorg vir hulself
The Zimbabwian berig LP’s in Mugabe-land glimlag nou wittand nadat hul uitstaande toelaes van 15?000 Amerikaanse dollar (sowat R117 000) elk betaal is in ’n maand wat tradisioneel maar broekskeur verloop. ’n Totaal gelykstaande aan R23,4 miljoen is uitbetaal, wat die publiek en staatsamptenare warm onder die kraag het.
Hulle het die LP’s van selfsugtigheid beskuldig omdat hulle gedreig het om alle regeringsake tot stilstand te dwing as hulle nie hul geld kry nie. Intussen dreig staatsamptenare (wat maar $540, of R4?200 per maand kry) om te staak. Hulle meen die regering is onsensitief deur die LP’s te betaal en hul salarisonderhandelings uit te stel.
Hoe dan ook, hulle is politici, en altyd, soos hier, eerste in die ry...
Die Italianers
Hoe word drankies op Italiaanse skepe gedrink? On the rocks!
Wat is die vinnigste manier om van ’n Italiaanse skip af te kom? Volg die kaptein.
Blou Bulle
Pollux verstaan die Blou Bulle kry glo ’n nuwe afrigter. Van Japan.
Sy naam? Win Soon.
Gradering
Die briefskrywer Gert Cilliers sê hy verneem die graderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) het die VSA se skuldgradering aangepas.
Glo van trippel A na dubbel K middel A.