POLLUX: Die Godzille strek spiere
2012-01-21 14:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Een van Pollux se Kaapse impimpi’s was Woensdag douvoordag vasgegespe op ’n spinning-fiets in ’n gimnasium aan die voet van Tafelberg, gereed vir ’n spinningklas van 90 minute lank. Dié binnenshuise sportsoort is blykbaar nie vir mense met pap harte en flou longe nie.
Nietemin, sy vertel sy het pas haar waterbottel en handdoek reg toe haar oog ’n bekende figuur heel agter in die klas opmerk: die agbare Godzille, premier van die Wes-Kaap! Die Godzille het stilletjies ingesluip, nie links of regs gekyk nie en doodluiters op die fiets gaan sit asof sy dit elke dag doen. (Die impimpi sê sy vermoed dit was die premier se eerste klas vanjaar, want sy het baie geblaas.)
Gerugte loop nou in die Kaap dat die premier oefen vir haar eerste Argus-fietswedren!
‘Projek Millennium’
The Citizen het Woensdag berig die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wil ’n oorlogskip aanskaf. Raai wie gaan help besluit wie kry die kontrak vir dié skip wat glo meer gaan kos as wat ons in 1999 vir die vier fregatte (as deel van die wapenaankopeprogram van R60 miljard) betaal het?
Niemand anders nie as die veroordeelde bedrieër Tony Yengeni, wat destyds net vier maande van sy tronkstraf van vier jaar uitgedien het. Hy’s gestraf oor hy van die parlement weerhou het dat hy R124?795 korting gekry het op sy luukse Daimler-Benz-voertuig.
Die goedkeuring van die projek hang af van ’n hersiening van die departement van verdediging se prioriteite, waarby Yengeni betrokke is.
Praat van wolf skaapwagter maak!
Obsessie met taal
Die jong en dinamiese voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor kuns en kultuur, die agbare me. Thandile Sunduza, het alle Suid-Afrikaners wie se moedertaal nié Engels is nie Woensdag by die parlement ingevlieg. Sien, me. Sunduza (so jonk, sy is nog ’n lid van die ANC-jeugliga), het ná die Kersvakansie ’n nuutgevonde obsessie met taal. Sy meen die ander tien inheemse tale suig aan die agterspeen terwyl Engels deur ons eie toedoen bevorder word.
“Hoekom, wanneer jy verlief is, sê jy vir jou liefie ‘my honey’ of ‘my lovie’ terwyl ons baie mooier woorde in ons eie tale vir hulle het?” wou sy by die agbare LP’s en besoekers weet.
Pollux weet nie. En sy impimpi weet ook nie, want sy gebruik troetelname in suiwer Afrikaans soos “Hasie”...
Pollux noem wel sy bruid – mev. Pollux – sy “rosie”, welwetende dié roos het heelwat dik dorings wat seer kan steek!
Blou Bulle
Pollux verstaan die Blou Bulle kry glo ’n nuwe afrigter. Van Japan.
Sy naam? Win Soon.
Gradering
Die briefskrywer Gert Cilliers sê hy verneem die graderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P) het die VSA se skuldgradering aangepas.
Glo van trippel A na dubbel K middel A.