Zuma en die voorvaders kan ons so baie leer
2012-01-14 13:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ek het die hartseerste en vreemdste Kersfees nog beleef. Ek het my ma sien sterf.
Sy was 92 jaar oud en ’n wonderlike ma, ouma en oumagrootjie. Sy het twee maande voor haar dood nog oral gewerskaf en te vinnig met haar karretjie op die plattelandse paaie gery.
Ons het geen Kersfees gevier nie, want ons het elke dag langs haar hospitaalbed deurgebring.
Ná haar dood het ons op Oujaars- en Nuwejaarsdag teruggereis. So, nie Kersfees of die Nuwejaar was ’n fees nie. Die ervaring het my hartseer, leeg en vreemd laat voel.
Toe my pa gesterf het, het ek gedink ek was gereed vir die gevoelens wat daarna sou volg. Hy was immers lank siek.
Dog, sy dood het my platgeslaan en dit het twee jaar geduur om te dit verwerk. Maar dit is duidelik ek gaan nie dieselfde pad met my ma se afsterwe loop nie. Selfs al is ek baie hartseer, is ek nie platgeslaan nie.
Ek het albei ewe lief gehad. Dit laat my dus wonder oor hoe ons (of minstens my) emosies inmekaar steek in tye van sulke fundamentele gebeurtenisse.
Ek dink wanneer iemand wat regtig na aan jou is sterf, rou jy gedeeltelik ook oor jouself omdat dié persoon talle belangrike ervarings (goed of sleg) met jou gedeel het.
Jy rou ook oor die verlies van jou jeug en miskien ook oor die feit dat daar nie meer iemand is om die herinneringe mee te deel nie.
Dus is ’n gedeelte van jou eie lewe ook dood, of minstens in die duister.
Dieselfde geld die verlies van ’n ouer, miskien des te meer omdat hulle jou maak wie jy is.
Daarom het ek simpatie met pres. Jacob Zuma wat sy voorvaders oproep en het ek nog altyd gevoel die kulturele gebruik om die voorvaders te eerbiedig raak iets baie diep in die menslike psige aan.
Ek is ook redelik jaloers op diegene wat hul bloedlyne na die vreeslose Voortrekkers kan naspoor: Mens kan krag daaruit put.
Maar die meeste mense, ek inkluis, weet nie eintlik veel van ons voorvaders nie.
So, eindelik kom dit neer op jou ouers: Húlle is die voorvaders wat die meeste vir ons beteken.
Ek besef nou hoewel ek my ma liefgehad het oor haar warmte, haar saggeaardheid en versorging, het ek altyd gevoel my pa se dryfkrag, ambisie en innerlike krag het in sy kinders neerslag gevind.
Dié eienskappe het my gevorm tot wie ek vandag is en daarom voel ek my pa het ’n baie groter invloed op my karaktervorming gehad as my ma. Dit is waarskynlik ook hoekom sy dood so ’n reuse-terugslag vir my was.
Maar ek sal graag meer wil weet oor hoe mens jou voorvaders oproep en hoe om hulle trots en gelukkig te maak.
Soos ek nou voel, dink ek dit is ’n baie belangrike ding om te doen.
Ek kan baie by Jacob Zuma leer.