Eerder kaalvoet oor 'n berg
2012-01-21 14:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Tot nou die dag nog het ek nie geweet ’n Afrikaanse, en spesifiek Suid-Afrikaanse, kreef is nié ’n Engelse lobster nie.
Familie, maar dis al.
Onthutsend, as jy my vra. As sy haar kreef nie van haar lobster kan onderskei nie, hoe op aarde ken ’n skrywer die verskil, sê maar, tussen ’n muil en ’n donkie?
’n Afgesêde vryer het my eenkeer toegesnou: “Jy kan ’n meisie uit Bellville neem, maar Bell- ville nie uit ’n meisie nie.” Toemaar, liewe Bellvilliete, sy giftige tong was bloot simptoom van sy gebroke hart. Niks teen julle bedoel nie.
Snaaks genoeg, Bellville speel wel ’n rol in my kreef-agterstand. Die eetplek The Lobster Pot het iewers in die 1960’s in daardie omtes oopgemaak.
Die knypers en lang, plat stert op die logo het ek kleintyd aangeneem is ’n kreef. As jy egter jou skaaldiere ken, sal jy weet dis ’n lobster; nie ’n kreef nie. En tog kyk ek nou net in Pharos se Engels-Afrikaans-woordeboek en sien ’n lobster pot is ’n kreeffuik. Nugter weet!
Verlede naweek nooi ’n relatiewe vreemdeling, ’n besoeker uit Frankryk, my saam Paternoster toe. Om te gaan kreef koop. Synde ’n enkellopende vrou aanvaar ek die uitnodiging uiteraard met skamel bedekte, jubelende dank, desondanks die voortgesette waarskuwings van my bejaarde moeder om nooit in ’n vreemde man se kar te klim nie. Ons bereik wel Paternoster sonder dat ek betas of vermoor word, die vreemdeling kry sy kreef en ek ken darem al die naam van sy suster. Maar veral sien ek die lig tussen die Suidelike Halfrond se krewe en die Noordelike Halfrond se lobsters.
Amper eet ons middagete in Paternoster, maar die man aan die stuur van ons gekose plek is onhartlik, onprofessioneel en die kreef op sy spyskaart belaglik duurder as ’n katspoegie verder op die strand. Met die terugreis na Kaapstad hoor ek die kreefkopervreemdeling is ook ’n skrywer. (Veel later sou ek sien sy Take 40 Fresh Crayfish word besing as ’n “sensuele reis” deur kinderdinge, kos, liefde en seks. Die oorblywende eksemplare is so duur soos kreef.)
Die aand kook dié gewese restaurateur en literêre kenner van die tragedie opgedoen iewers tussen Eton en Cambridge die Paternosterkreef in die einste pot waarin my ouma destyds aan die Weskus kreef gaargemaak het. Wys jou net wat jy alles misloop as jy nie in vreemde karre klim nie, nè.
Maar toe die krewe uit die pot kokende water wil klim, onthou ek hoekom ek 20, 30 jaar laas kreef geëet het. Dis nie net oor die prys nie. Hulle huil in die kokende water. Daardie elegante, rooi pote al tastende oor die rand van die pot is ’n aanklag. Hoe kon ek vergeet?
Meteens voel ek siek.
Intussen gesels die gastronoom gesellig en onderhoudend voort voor die stoof, onbewus van my vinnige fisieke agteruitgang. Terwyl hy ’n suurlemoen-en-bottersousie saamflans, vertel hy krewe is aasdiere. Soos kakkerlakke. Hulle eet alles, maar is veral gek na mensvleis.
Mensvleis?
Ja, soos mense wat verdrink het, byvoorbeeld.
Ek vóél nie meer siek nie. Ek ís.
Met een hand tas ek beskaamd na die kombuisrol en met die ander probeer ek die hond weghou van my dag se kulinêre inname nou ten toon gestel op die kombuisvloer.
Vaagweg onthou ek die prikkel op die boek van die gastronoomkok, wat, saam met die pas gestorwe see-kakkerlakke, nou stil is agter die kookpot: “Making food is a kind of lovemaking. It is the beginning of a lifelong romance…”
Voordat hy met sy gaar krewe vlug, prewel hy met ingehoue Eton-skok iets van ’n misverstand: Is die Afrikanervrou, wat kwansuis kaalvoet die Drakensberg oor is, dan nie ’n robuuste spesie nie?