Mag bloukaas-fase gorgonzola-oomblikke vermuf
2012-02-04 14:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
As jy in jou middeljare is en jy’s ’n vrou, is jy waarskynlik in jou bloukaas-fase.
Jou geheue is effens muf en waar sagte gedagtes was, is nou net gate. Nes jou menopouse verby is, só verseker ouer vroue jou, val jou hormone weer in plek en jou gorgonzola-blapse is geskiedenis.
Mag dit so wees.
Mag dit ook so wees dat die middeljarige verstand vertederend optree en sommige dinge vir ewig delete. So wil ek, byvoorbeeld, níé onthou hoe die seun nou die dag oor die lem van sy knipmes sit en streel terwyl ek met hom en die res van die matrikulante van die Bella Vista Sekondêr in Ceres praat oor een van my kortverhale in ’n skoolbundel waarin ’n bende mans ’n vrou en haar man terroriseer nie. Die kinders sê, in die suiwerste Afrikaans, hulle het verwag die skurke gaan die vrou verkrag, maar die slot van die storie laat hulle anders dink.
Terwyl ons hieroor praat, probeer ek skrams grap oor die seun en sy mes. ’n Paar van die kinders proes. Maar nie hy nie. Hy kyk net anderpad, die mes steeds oop in sy hand. Hy is so cool as wat moontlik is vir ’n seun wat op die middaguur gedwonge op sy bas moet sit op ’n saalvloer in ’n grys skoollangbroek en -baadjie terwyl die Bolandse son wit hitte blaas.
Dié besoek is deel van die US Woordfees se leesprojek Woorde Open Wêrelde. Ek neem twee Europese kuiergaste, ’n Nederlander en ’n Spanjaard, saam. Reeds by die eerste skool, Ceres Sekondêr, is hulle verbaas oor die gedissiplineerde entoesiasme en die ontspanne nuuskierigheid van die matrikulante. Ietwat van ’n wilde stelling, maar ja, Europese kinders van hierdie ouderdom is reeds lewensverveeld.
Hulle is ook verras oor die skooluniforms. So het haar 67-jarige pa 50 jaar gelede in Spanje aangetrek vir skool, vertel Sílvia Vallejo Polo.
In Europa glo opvoeders kinders moet aantrek nes hulle wil, in die naam van vryheid en kreatiwiteit. Asof dié gesteldhede in jou klere sit en nie jou kop nie.
Toe my klein storiekonsertjie verby is, stel ek hulle voor aan Sílvia, met haar soel Mediterreense vel, en Tore van den Bos, die Nederlander met die wilde wit hare.
Die kinders – sowat 150 van hulle – klap vir hulle hande dat die dak lig, jy sou sweer dis twee besoekende popsterre. Kan Sílvia asseblief iets in Spaans sê, smeek hulle, hulle het nog nooit regte egte Spaans uit ’n rasegte Spanjaard se mond gehoor nie. Hulle klap nóg harder toe sy klaar is. Hulle straal. Later vertaal sy vir my wat sy vir hulle gesê het en ek haal haar geradbraakte Engels woordeliks aan: “Thank you for this day. I like very much look your school and this experience, and I’m from Spain. All people in South Africa think in Spain only play football, but no.”
By ons vertrek, vra ’n paar van die kinders dat ek hul skoolhemde teken. Ek protesteer. Hemptekenry is orraait teen die einde van die matriekjaar, maar hoe gaan die ma nou die duur en skitterwit hemp hier aan die begin van die skooljaar skoon kry? Nee, hulle hou vol, teken, teken.
Maar die meisie van die oomblik is sonder enige twyfel die Spaanse Sílvia. Drie sexy chicas, meisies, vra dat sy hulle groot asseblief saamneem Spanje toe. “Please, Sílvia, please!”
Een se naam is Beauty. Wat, wil sy weet, beteken haar naam in Spaans. “Guapa”, verduidelik Sílvia, of “belleza”.
En myne, hoe sê ’n mens myne? Dis Jacques. In Spaans sou hy Jaime wees. Sy moet dit summier in blou balpunt op sy binnearm skryf.
As een wêreld ’n ander wíl leer ken, gebeur dit. Ondanks taalgate.
Dít sal ek onthou. Nie die mes nie.