Tim du Plessis

Heel SA met dit wat reg is

2012-05-05 15:21

Niks is verkeerd met Amerika wat nie geheel kan word met dit wat reg is met Amerika nie, sê oudpres. Bill Clinton in Januarie 1993 toe hy ingehuldig word as die land se eerste Demokraat in die Withuis ná drie onafgebroke Republikeinse termyne.

’n Skrale 18 maande voor daardie toespraak het Clinton se opponent, oudpres. George H.W. Bush (die koddige kêrel se pa) ’n klinkende oorwinning in die eerste Golf-oorlog oor Saddam Hoesein behaal. Amerikaanse troepe het as die goeie ouens van Operasie Desert Storm teruggekeer. Generaals Colin Powell en Norman Schwarzkopf was nasionale helde.

Op die internasionale verhoog was Bush sr. ’n kolos. Sy skitterende kampanje om Saddam uit Koeweit te verdryf was ’n militêre sukses én ’n diplomatieke triomf. Desert Storm is met VN-sanksie gedoen.

Bush was op koers vir ’n groot sege in ’92. Met die aanbreek van die verkiesing daardie jaar het die Demokrate sewe ontredderde aspirante in die veld gehad. In die media is hulle uitgelag as “die sewe dwergies”. Bill Clinton was een.

Clinton sou altyd ’n skarlaken-kandidaat wees. Al daardie vroue... Maar hy het twee deugde gehad: Hy kon kommunikeer en hy had ’n sonderlinge vermoë om ’n konneksie met gewone mense te maak.

Danksy sy politiek honger en uitgeslape raadgewers het hy iets agtergekom wat Bush nie gesnap het nie: Die ’92-verkiesing se brandpuntkwessie vir gewone Amerikaners was nie die triomf van Desert Storm nie; dit was die bytende ekonomie. James Carville, Clinton se hiper-eksentrieke strateeg, het die tydsgees destyds raakgevat met sy nou oorbekende: “It’s the economy, stupid.”

Werkloosheid en inflasie was hoër­ as in ’n lang tyd. Die tekort op die federale begroting was enorm. In die TV-debatte het Clinton die bal meesterlik opgeraap. En “gescore­”.

Toe ’n vraesteller hom en Bush vra hoe die resessie hulle “persoonlik” raak, het Clinton op sy onderlip gebyt, vorentoe gestap en vir die vraesteller gesê: Ek voel jou pyn. Sy gegorrel oor sy kamtige swaarkry kon niemand onthou nie. Maar die “voel jou pyn” baie goed.

Toe Bush antwoord, het hy geïrriteerd op sy horlosie gekyk. Hy het net soveel soos Clinton gegorrel. Maar al wat die kiesers onthou het, was die kyk op die horlosie.

Bush se veldtog is spoedig in vryval ingeslinger. Nie eens die onthullings oor Clinton se seksskandale kon Bush daaruit kry nie.

Toe dit duidelik raak die ekonomie weeg vir gewone Yanks swaarder as die roemryke sege oor Saddam, het Bush ’n laaste troefkaart probeer. “My hond Millie weet meer van buitelandse sake as dié twee jafels (bozo’s)!” het hy een aand op nasionale TV uitgeroep. (Clinton en sy spanmaat Al Gore.)

Maar die kiesers wou niks hoor van ’n knap president wat groot speel op die globale verhoog nie.

Hulle het iemand gesoek wat hul pyn kon voel.

Ek het dié storie eerstehands meegemaak. En ek dink altyd daaraan as ek wonder hoe lank dit nog gaan duur voor ons kiesers agterkom die ANC, veral onder Jacob Zuma, voel eintlik vere vir hulle.

Want wat Clinton in ’93 oor sy land gesê het, geld ewe seer vir Suid-Afrika. Niks verkeerd hier wat nie reggemaak kan word deur dit wat reg is nie.

Boaan my “reg”-lys is die onblusbare gees van gewone Suid-Afrikaners. Die vorige bedeling kon dit nie dooddruk nie. Die huidige lot probeer hard, maar hulle hou aan misluk. Soos Gauteng se e-tol-debakel pas weer gewys het.

Dis gewone mense wat die korrupte magselite in die ANC hier ore aangesit het. Al mag dit later blyk kortstondig te wees, dit bly ’n wen. Dit wys wat moontlik is.

Bush se “struggle-geskiedenis” het in minder as twee jaar geblyk min waarde te hê vir kiesers wat nie hul begrotings kon laat klop nie.

Dieselfde kan ook nog hier gebeur. Ons mense, álmal, kry swaar. En gaan aanhou swaarkry solank die ANC so vrot regeer.

Zuma se antwoord hierop, by wyse van spreke, is mos “my beeste in Nkandla weet meer van die ANC se vryheidstryd as my opponente”.

Mag wees. Maar die dag sal nog kom dat genoeg kiesers besef die ANC se struggle-geskiedenis sit nie ’n hoender in die pot nie. Op daardie dag breek Suid-Afrika se grootste oomblik van waarheid aan.

Lees Rapport se kommentaar beleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
39 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 16-27°C High level clouds. Warm. Pta: 12-22°C Afternoon clouds. Mild.
Jhb: 8-18°C Morning clouds. Mild. Bfn: 9-21°C Afternoon clouds. Mild.
Dbn: 14-23°C More sun than clouds. Mild. PE: 13-23°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Escape winter, head to Mauritius

Escape winter by spending 7 nights in Mauritius' tropical bliss from R13 215 per person sharing. Includes return flights, airport transfers and accommodation.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Storieman Omnibus 6

Storieman 6 van Leon Rousseau. Beskikbaar 30 April. Plaas jou voorafbestelling nou!

The Real Meal Revolution (boek & e-boek)

Die doel van The Real Meal Revolution is om jou lewe te verander deur jou eetgewoontes te leer wat jou in beheer plaas van jou gewig en jou gesondheid. Bestel nou!

kalahari.com se #1 topverkoperproduk

gobii se e-leser + GRATIS muurlaaier en kunsleeromhulsel nou R599, bespaar R340. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

25% op nuwe en topverkoperflieks

Kies uit gewildste titels soos Despicable Me 2, Gravity, Frozen, The Hunger Games: Catching Fire en nog baie meer. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe boekuitreikings!

Kom loer na die opwindende boeke wat ons so pas uitgepak het. Titels sluit in David & Goliath van Malcom Gladwell, The Goldfinch van Donna Tartt en nog baie meer. Koop nou!

DVD’s vir minder as R100

Kry hierdie epiese trefferflieks vir minder as R100. Titels sluit in Frozen, Despicable Me 2, About Time, The Animal Communicator en nog baie meer. Koop nou!

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!