Ons moet helde gedurig koester
2012-02-18 14:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Daar het ’n paar dinge die laaste paar dae gebeur wat my laat nadink het oor die konsep van helde en hoe dit binne ons samelewing en demokrasie neerslag vind.
Daar was die aankondiging dat oudpres. Nelson Mandela, wat sekerlik een van die wêreld se bekendste helde is en suksesvol oor alle verdelingslyne gaan, se gesig op ons banknote gedruk gaan word.
’n Mens hoop terselfdertyd ook dat dit nie beteken allerhande ander “leiers” gaan ook nou hul verskyning op ons geldeenheid maak nie.
Die meeste mense sal saamstem dat dit goed en reg is dat ’n man soos Madiba, wat so ’n unieke rol in ons hedendaagse geskiedenis speel wat betref sy leierskap, visie en moed, op hierdie wyse vereer word.
Ons kan almal iets leer uit Madiba se voorbeeld, uit sy stille waardigheid, sy weiering om bitterheid te laat seëvier, sy leierskap.
Die tweede kwessie wat uitstaan, is die aanduiding dat die regbank opnuut bedreig word en pres. Jacob Zuma die magte van die konstitusionele hof heroorweeg.
Dan was daar die aanbeveling (dog nog nie die finale woord nie) dat Julius Malema, die twyfelagtige held van die ANC-jeugliga – en duidelik ook van sommige hooggeplaaste ANC-lede – se skorsing uit die party bekragtig word.
Wat sê dit van ons dat daar groot dele van die gemeenskap is wat nog dié man, met sy vurige uitsprake en soms onbehoorlike openbare gedrag, as held vir ons wil voorhou?
Wat sê dit vir ons van leierskap as Zuma, die man wat in die voetspore van Mandela probeer loop, oënskynlik niks in sy pad laat staan om ’n tweede termyn as president te verseker nie?
Dis dieselfde man onder wie se presidentskap selfverryking en korrupsie op alle vlakke ongekende hoogtes bereik het, en onder wie se oë ’n kultuur van angstige kripvretery heers, so asof elkeen wil seker maak dat hy genoeg kry voordat dit dalk opraak.
Dis dieselfde man wat die onafhanklikheid van die regbank, een van die sterkste pilare van ons demokrasie, bedreig.
Ek onthou watter gedoente dit destyds was toe Zuma (nog in die Mbeki-regering) aangewys is as die man wat die morele herbewapeningsveldtog gaan lei. Die hemele weet, ons het dit so nodig in ’n samelewing wat tans lyk asof hy die morele kompas nie net verkeerd ingestel het nie, maar dit iewers verloor het.
Ek wil dus daarvoor pleit dat bevordering van goeie morele waardes op alle vlakke van die samelewing weer prioriteit geniet en dat dit vanuit die ANC-regering gedryf word op ’n manier waarop ons gewone burgers die verskil kan sien en voel.
Dan wonder ek sommer ook oor die ANC wat so brag oor die leierskapsopleiding wat hulle glo deurlopend doen. Indien wel, stel dié leiers of leiers-in-wording aan ons voor, asseblief. Wys ons die nuwe geslag Mandelas, Beyers Naudé’s, Cissie Gools, die dr. Abduraghmans, Suzmans, Tutu’s.
Dis dié mense, asook die ontelbare naamlose en toekomstige helde in ons gemeenskappe, wat ons ter wille van die toekoms moet koester, en wie se leierskap en prestasies ons gedurig moet vier.
Binne die konteks van die ontwikkeling en viering van helde dink ek dit is nodig dat ons van tyd tot tyd herinner word aan ons pynlike verlede en die wyse waarop ons die skeidingslyne van kleur oorkom het.
Ons kan ons koppe omhoog hou in die wete dat lyding deel was van die proses om sterk leierskap te vorm ten einde te kom by die plek waar ons vandag is.
Ons is immers almal deel van ’n groter geskiedenis. Dis dié geskiedenis wat mense soos Julius Malema (wat dit nie noodwendig self ervaar het nie, maar geleer het uit die mondelinge geskiedenis van diegene wat dit wél ervaar het) aan die gang hou (en soms uitbuit).
Dit maak nie saak wat ons politieke affiliasie of ideologiese oortuiging is nie. As ’n volk word ons saamgebind deur die verwesenliking van ’n droom oor ’n nuwe Suid-Afrika en die groot belofte van politieke en ekonomiese bevryding, ’n lewende demokrasie, werk en ordentlike behuising.
Ek glo dat die hulde wat ons aan helde bring een manier is om ons trots in die nuwe demokrasie te herstel en geloof in die konsep van ’n reënboognasie te bewerkstellig.
Die res sal vanself volg.