Praat nou, of grawe eie gat
2012-01-21 14:08
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Ironies soos wat dit is, moet ’n mens tog maar met meer as die gewone verwerping kyk na Julius Malema, geskorste ANC-jeugligaleier, se bravade rondom die kwessie van die nasionalisering van myne en die onteiening van grond sonder vergoeding.
Ten spyte van die afkeurenswaardige manier waarop hy arm mense se verwagtinge oor ’n beter lewe uitbuit ten einde sy eie politieke beeld te poets hét Malema die kwessie stewig op die agenda geplaas. Sy oogmerk is glo onder meer om te verseker dat ’n besluit oor nasionalisering wat by die algemene raadsvergadering op Polokwane geneem is, uitgevoer word.
Of ons saamstem of nie, die kwessie van nasionalisering behoort die grootste onderwerp van openbare bespreking van 2012 te wees – veral weens die ANC-leierskorps se versuim om deurslaggewende leiding te gee in kwessies van kardinale belang.
Die gedagte is dat die nasionalisering van myne die regering die ruimte sal gee om die begroting te verhoog sodat maatskaplike probleme – gehalte van onderwys, gesondheidsorg, behuising en infrastruktuur – aandag kan kry.
Dis is weliswaar so dat daar binne die ANC uiteenlopende sentimente oor nasionalisering is. Benewens mense soos Malema en sy adjudant Floyd Shivambu, wat die nasionalisering van die myne as ’n natuurlike uitvloeisel van die voorskrifte van die Vryheidsmanifes beskou, is daar mense binne die ANC wat dit verwerp omdat dit nie in die langtermynbelang van ons land is nie. Daarby is dit ook lánk nie ’n uitgemaakte saak dat ingryping deur die staat werk sal skep of noodwendig tot ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike opheffing sal lei nie. Maar ’n mens kan dit ook nie ontken dat die ANC voortdurend gedruk word om aan die groot verwagtinge van sy ondersteuners te voldoen nie. Uitsluitsel oor die kwessie moet dus gekry word.
Van ongelyke samelewings gepraat: Ek lees iewers dat 53% van Suid-Afrika se rykdom in die hande van net 10% van die bevolking is. Sowat 20% van hierdie 10% kry 70% van die rykdom. Daarteenoor kry die armste 10% en 20% van die bevolking onderskeidelik 0,57% en 1,6% van die rykdom; 20% van die armstes leef van minder as R16 per dag en 35% leef onder die armoedsgrens van R2 500 per maand.
Wat dié statistieke vir ons sê, is dat ons met groter erns moet begin praat oor kwessies soos maatskaplike en ekonomiese verandering – met ander woorde: armoede, werkloosheid, behuising, onderwys...
Iewers moet en sal onvervulde beloftes en onbeantwoorde verwagtinge tog tot uitbarsting kom. In ag genome ons onlangse geskiedenis het ons ’n goeie kans dat dit op gewelddadige wyse sal geskied.
Daarvan het ons reeds baie voorbeelde gesien in protesaksie oor swak dienslewering.
Dus, of ons nou van die gedagte hou of nie, die noodsaak vir openbare diskoers oor nasionalisering, wat nou nog maar in die beginstadium is, raak ál dringender indien gewone burgers van die land – wat nié noodwendig lede van die regerende party is nie – hul mening daaroor amptelik wil stel.
Die ANC-leierskorps loop nog doekvoet om die gesprek, maar alle aanduidinge is dat dit hoog op die agenda sal wees gedurende die einde van die jaar se belangrike Mangaung-vergadering, waar onder meer ook die nuwe ANC-leiers verkies word.
Nasionalisering het sowel voor- as nadele en dis regtig van kardinale nasionale belang dat ’n besluit oor die kwessie op ingeligte wyse geneem word.
Die grootste nadeel van nasionalisering is dat dit plaaslike en buitelandse belegging ontmoedig. Daarby het die regering nóg die geld nóg die kapasiteit of kundigheid om myne oor te neem.
Ons kan gerus ook maar by ander lande lesse leer. Neem Zambië, byvoorbeeld, waar die nasionalisering van kopermyne vir die regering ’n nagmerrie geword het. En wat van ons Brics-genote (Rusland, Brasilië, Indië en China), waar die tendens juis wég van nasionalisering is?
Ons het nie die luukse om die hele kwessie op die lange baan te skuif nie. Die tyd vir indringende bespreking van die grootste politieke beleidskwessie in ’n lang tyd, is nóú.