Atletiek: Wie laaste lag ...
2011-12-31 18:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
JANUARIE
* Suid-Afrika wen 25 medaljes by die wêreldkampioenskappe vir gestremde atlete in Christchurch, Nieu-Seeland. Hiervan is nege goud, sewe silwer en nege brons.
* Oscar Pistorius wen goue medaljes in die 200 en 400 (T44-klas); Ilse Hayes kraai koning in die 100 (T13) en verspring (F13) en Teboho Mokgalagadi seëvier in die 100 en 200 (T35).
FEBRUARIE
* LJ van Zyl herskryf die rekordboeke, toe hy Llewellyn Herbert se elf jaar-oue Suid-Afrikaanse rekord in die 400-hekkies by die Geelbladsye-byeenkoms in Pretoria tot 47.66 verbeter. Hy ontvang later R200 000 omdat hy die enigste atleet was wat ’n nuwe SA rekord tydens die Geelbladsye-reeks opgestel het. Dié tyd oorleef die hele jaar as die vinnigste ter wêreld.
* Robert Oosthuizen kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe in Suid-Korea met ’n reuse-afstand van 83.82 in die spiesgooi.
* Leonard Chuene word amptelik afgedank as president van Atletiek Suid-Afrika (ASA). Adv. Norman Arendse, wat Chuene se tugverhoor in opdrag van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) gelei het, neem dié besluit – en beveel ook aan dat hy nie toegelaat mag word om vir die volgende sewe jaar enigsins by atletiek of enige ander sportsoort wat by Saskok geaffilieer is, betrokke te raak nie.
APRIL
* Caster Semenya wen drie goue medaljes by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Durban. Sy seëvier binne 70 minute in die 800 en 1?500, en wen drie uur later ook goud in die 4x400-aflos.
* LJ van Zyl wen die 400-hekkies in 47.73.
JULIE
* Oscar Pistorius vermag die skynbaar onmoontlike toe hy die kwalifiserende A-vereiste vir die wêreldkampioenskappe in Daegu in die 400 by ’n byeenkoms in Italië oortref. Sy wentyd van 45.07 is op ses na die beste in die SA geskiedenis.
* Die 17-jarige Reinhard van Zyl, ’n graad 11-leerling van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, word die junior wêreldkampioen in spiesgooi, nadat hy ’n yslike afstand van 82.96 m by die jeug- (onder18-) wêreldkampioenskappe gooi. Morné Moolman van die Hoërskool DF Malan in Bellville, wat in die kwalifiserende ronde met die tweede beste afstand ooit deur ’n jeug-atleet (83.16) ontplof het, eindig tweede.
* Suid-Afrika eindig sesde in dié kompetisie, met twee goue, twee silwer en een bronsmedalje.
* James Evans word as voorsitter van ASA verkies, ná hy 25 uit ’n moontlike 54 stemme kry. Motlatsi Keikabile word ASA se vise-voorsitter.
AUGUSTUS
* Sunette Viljoen verbeter die Afrika- en Suid-Afrikaanse rekord in die spiesgooi tot 66.47 by die Wêreld-studentespele in Sjenzen, China. Die Suid-Afrikaanse span wen twee goue medaljes (danksy Viljoen en die 4x400-mansaflosspan), twee silwer medaljes en twee bronsmedaljes.
* Oscar Pistorius dring in die 400 deur na die halfeindronde van die Wêreldkampioenskappe, nadat hy derde in sy uitdun eindig in 45.39.
* Die wêreld staan verstom toe die wêreldrekordhouer in die 100, Usain Bolt, gediskwalifiseer word in die eindronde van dié item omdat hy te vinnig wegspring. Bolt is buite homself van woede, en kyk van die kantlyn toe hoe sy jong landgenoot Yohan Blake die wêreldtitel wen.
SEPTEMBER
* LJ van Zyl wen brons in die 400-hekkies in 48.80. Dis die eerste keer dat hy ’n medalje by ’n wêreldkampioenskap wen.
* Die SA 4x400-aflosspan wen silwer in 2:59.87. Dis net-net stadiger as die nasionale rekord van 2:59.21, wat hulle die vorige dag opgestel het. Oscar Pistorius word in die eindronde deur LJ van Zyl vervang, maar Oscar word , weens sy deelname in die eerste ronde, die eerste gestremde atleet wat ’n medalje by ’n wêreldkampioenskap wen.
* Viljoen verbeter haar eie SA rekord in die spiesgooi vir die tweede keer in 18 dae, toe sy brons verower met ’n afstand van 68.38.
* Caster Semenya wen silwer in die 800.
* Usain Bolt herstel van sy 100-teleurstelling deur die 200 in die vierde vinnigste tyd ooit (19.40) te wen.
* Die wêreldkampioenskap word op ’n hoogtepunt afgesluit toe die Jamaikaanse viertal van Bolt, Blake, Nesta Carter en Michael Frater met ’n nuwe wêreldrekord-tyd in die 4x100-aflos seëvier.