Charl jag titel nr. 3 in Joburg
2012-01-07 23:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Charl Schwartzel sal vandeesweek by die Royal Johannesburg & Kensington-gholfbaan opdaag om iets te probeer vermag wat hy nog nooit in sy reeds-luisterryke loopbaan kon doen nie: ’n driekuns aan titels in een toernooi.
Dié gebore Vaaldriehoeker, wat deesdae in Johannesburg woon, het 2010 én 2011 afgeskop met indrukwekkende seges in die Joburg Ope, en in albei die opeenvolgende seisoene daarin geslaag om die beste jaar van sy loopbaan te beleef.
Vanjaar sal hy natuurlik soortgelyke gedagtes hê, hoewel dit altyd moeilik sal wees om te verbeter op ’n jaar wat ’n eerste major-titel ingesluit het.
Maar dan het die land se voorste speler verlede jaar gewys dat “moeilik”, en selfs “onmoontlik”, vir hom blote woorde is.
Schwartzel begin sy 2012-seisoen ná ’n uitmuntende einde aan 2011, toe hy in die top-10 in ál ses sy laaste afsprake geëindig het.
Soos sy goeie vriend en mede-major-kampioen Louis Oosthuizen die afgelope week gesê het, sulke momentum verdamp nie bloot in ’n breek van drie weke nie, sodat Schwartzel om ’n klomp redes stert in die lug na Linksfield sal optrek.
Op papier sal Schwartzel se grootste teenstand van nóg ’n major-kampioen, Retief Goosen, kom.
Goosen het met tye die afgelope week in Oos-Londen vuurwarm gholf opgedis, en was in sy enigste vorige verskyning in die Joburg Ope, in 2009, onder die voorlopers ná 54 putjies.
Ander spelers wat beslis dopgehou moet word is die Spaanse Ope-kampioen, Thomas Aiken, wat uiteindelik by die Joburg Ope opdaag as ’n Europese titelhouer; die Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Hennie Otto; die Sonskynreeks se geldwenner van 2011, Garth Mulroy – en dan is daar boonop ook nog die belowende jongelinge George Coetzee, Jbe’ Kruger en Branden Grace.
Coetzee, Kruger en Grace is jonger as 26, maar het almal die laaste paar jaar naby aan ’n eerste Europese sukses gekom, en is bewese sterre in hul geboorteland.
Die internasionale aanslag is maar yl, en word aangevoer deur die Engelsmanne Robert Rock en Lee Slattery, Oostenryk se Markus Brier en die Fransman Grégory Havret.