Dáái groen baadjie nou in Oosthuizen se visier
2012-01-07 23:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
In daardie klein klubhuisie by die Albertinia-gholfbaan staan reeds ’n replika van die Britse Ope-trofee.
Dié kleinood simboliseer steeds die grootste dag in Louis Oosthuizen se loopbaan en is ’n herinnering dat hy die talent het om met trots op die grootste verhoog in gholf te pronk.
En uiteindelik het dié Suid-Kaapse gholfster sy status as major-kampioen sodanig omhels dat hy nou begin vorentoe kyk na die verowering van méér grotes, waarmee hy die internasionale joernaliste wat sy groot triomf steeds as ’n ongeluk beskou ’n groot vet toffie kan wys.
Doelwit nommer een vir 2012, het Oosthuizen die afgelope week hier by die Afrika Ope gesê, is die Meesterstoernooi – daardie glansryke gebeurtenis waarvoor Augusta elke April tot stilstand kom, waar Oosthuizen se goeie vriend Charl Schwartzel die wêreld nege maande gelede verstom het en waarvan Oosthuizen sélf al droom sedert hy net ’n kannetjie op Albertinia se sand-en-olie-setperke was.
Hy kon egter nog nooit die afsnypunt daar oorleef nie – iets wat hy bitter graag vanjaar wil verander.
“Ek is mal oor Augusta, maar ek was nog nooit sielkundig reg ingestel daar nie,” het die 29-jarige Suid-Kapenaar die afgelope week erken.
“Maar die begin van my seisoen in Amerika is spesifiek beplan om my skerp vir Augusta te kry.
“Ek gaan vanjaar baie meer daar speel, want ek wil bitter graag sien hoe ek vaar wanneer ek op my beste is, eerder as terugdink aan 2011, toe ek nie baie goed gespeel het nie en teleurgestel het.”
Oosthuizen sal sy Amerikaanse veldtog in Februarie in die Accenture-putjiespeltoernooi afskop en verder vir Augusta skaaf in die Honda Classic en Cadillac-toernooi.
“Aan die einde van die dag gaan alles daaroor om op jou beste te wees vir die major-toernooie en die wêreldgholfreeks-toernooie, en my skedule is met die oog daarop opgestel.
“Hopelik kan ek dié keer by Augusta opdaag met ’n bietjie meer vuur,” het hy gesê.
Aan vuur het die 29-jarige die afgelope paar maande geen tekort gehad nie.
Hy het die groot teleurstelling van die PGA-reeks – waar hy maar 148ste in die FedExbeker-reeks was – agter hom gesit, deur in ses van sy laaste sewe toernooie in 2011 in die top-10 te eindig.
In elk van daardie afsprake het hy die wêreld met minstens een uitsonderlike ronde herinner aan sy aansienlike talent vir lae tellings en bestendige gholf.
Vrydag hier het hy dit ook in die Afrika Ope gedoen met ’n 62, sy laagste ronde-telling sedert die Hongkong Ope in November 2008.
Oosthuizen sal vandeesweek se Joburg Ope misloop, aangesien sy vrou Nel-Maré hul tweede kind – hulle weet nie of dit ’n boetie of sussie vir die 2-jarige Jana is nie – aan die einde van die maand verwag.
Hy sal wel aanstaande week in die Volvo-kampioenskap by Fancourt in George speel, omdat dit net ’n hanetree van sy huis in Albertinia is, maar daarna tyd saam met sy gesin spandeer tot hy na die VSA vertrek vir die putjiespel-toernooi.