Die Tier is terug
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Chinese noem 2012 die Jaar van die Draak, en die antieke Majas het dit bestempel as die Jaar van die Einde van die Wêreld.
Maar in gholf – as die vroeë tekens te vertroue is – kan 2012 dalk net die Jaar van die Tier wees. Want uiteindelik is daar weer lewe in die gholfwêreld se grootste fenomeen.
Tiger Woods is die gesamentlike voorloper ná die derde ronde van die Abu Dhabi-kampioenskap, nadat hy sy stempel gister met ’n foutlose ronde van 66 (ses houe minder as baansyfer) afgedruk het.
Die Amerikaner deel die voortou met die Engelsman Robert Rock, wat ook 66 houe gespeel het. Hulle het ’n telling van 205 (elf houe minder as syfer) en ’n voorsprong van twee houe oor vier mans, onder wie die Noord-Ier Rory McIlroy.
’n Verdere hou terug is twee Suid-Afrikaners, James Kingston en George Coetzee, ook stewig in die wedloop.
Woods het ’n wendroogte van 749 dae in Desember beëindig toe hy sy eie Chevron-uitdaagtoernooi in Kalifornië gewen het, en is op koers om dit twee seges in twee toernooie te maak.
Hy het net twee setperke nie in regulasie-houe bereik nie en was net vier keer nie op die skoonveld van die bof af nie. Dit was ’n dag wat veel beter kon wees, was dit nie vir die 30 sethoue wat Woods benodig het nie.
“Ek het goed gespeel,” het hy gesê. “Ek doen nie baie dinge reg nie, maar ek doen ook nie veel verkeerd nie. Ek is net baie bestendig, en dinge hou aan verbeter.”
* Coetzee het teen die telbord opgestorm met vyf voëltjies en ’n arend, en sy droom van ’n eerste Europese titel ná sewe bestendige maande in dié reeks staan sterk. Kingston, wat die afsnypunt in vier van sy laaste vyf toernooie gemis het, lyk ook weer na die tweemalige Europese wenner wat hy is. Hy het gedraai in 31 houe (-5) ná vyf voëltjies oor die eerste nege putjies, en dit opgevolg met ’n brouhou en voëltjie oor die tweede helfte.
Keith Horne is vyf houe agter Woods-hulle ná ’n 68.