Dodelike Djokovic
2012-01-14 23:42
Hy het dit reeds een keer gedoen: die tien titels in een jaar, die sesmaand-lange onoorwinlikheid, die seisoen waarin hy twee seges weg van ’n Grand Slam was ...
So waarom, vra Novak Djokovic nou, kan hy nie vanjaar ewe goed – of selfs beter – as in 2011 wees nie?
Ja, dit was die beste seisoen van sy lewe, maar waarom moet dit die plafon van sy vermoëns wees?
“My sukses gee my rede om te glo ek kan weer wen. Waarom nie?,” het Djokovic die afgelope week aan AAP gesê, in ’n gesprek oor die verdediging van die Australiese Ope-titel wat hy verlede Januarie gewen het.
Dit was die eerste salvo in ’n jaar waarin hy ’n indrukwekkende sarsie van 41 agtereenvolgende raakskote geskiet het en in 76 wedstryde net 6 keer nie aan die wenkant was nie.
En dis ’n rekord wat die Serwiër wat eens uitgekryt is as ’n onderpresteerder nou die mees optimistiese man in wêreldtennis (dalk selfs wêreldsport) maak.
“Dit maak nie sin om enigiets anders as optimisties te wees nie.
“Ek moet in my beste eienskappe en my vermoëns glo en ek móét glo ek kan my sukses herhaal,” het hy gesê.
“En natuurlik weet ek dit gaan ongelooflik moeilik wees om te herhaal, maar jy weet nooit – eintlik is niks onmoontlik nie.”
Die eerste toets vir dié optimisme begin môre by die Australiese Ope, waar Djokovic in sommige kringe beskou word as een van ’n halfdosyn manne wat met die kroon kan wegstap, maar deur ander kenners beskou word as die énigste wat glorie kan behaal.
Op papier sou dit dwaas wees om teen enige van die wêreld se vier beste spelers te wed – Rafael Nadal en Roger Federer het albei al sukses by Melbourne se tennistrots behaal, en hoewel Andy Murray (wat net sewe dae ouer as Djokovic is) steeds nie kon deurbreek op die grootste verhoog nie, is sy vyf titels in 2011 net deur die Serwiër oortref.
Van die vier is daar net onsekerheid oor Nadal.
Die Spanjaard was sonder twyfel die heel beste speler van 2010 – die jaar waarin hy die Grand Slam voltooi het – maar was sedertdien op ’n afdraende pad.
In 2011 het hy in ál ses sy wedstryde teen Djokovic verloor. Nadat hy nie die halfeindronde van die ATP-Wêreldreeks kon haal nie, het hy erken dat hy van sy passie vir tennis verloor het.
Sy nederlaag teen die Fransman Gael Monfils in Doha twee weke gelede het niks vir die wêreld se verwagtinge van hom gedoen nie.
Hy is nou onder druk om te bewys hy is steeds die kampioen van 2010.
Federer daag in Melbourne op ná hy 2011 met ’n onoorwonne rekord van 20 wedstryde afgesluit het – en daardeur heelwat van sy selfvertroue herwin het.
Murray het die afgelope week sy bes gedoen om die wêreld te oortuig dat hy, ondanks sy major-lose status, steeds op die regte pad is.
“Ek is ’n jaar wyser en nog ’n jaar meer ervare en ek dink ek kan nog ’n paar dinge in my tennis verbeter.
“Ek kan die Australiese Ope wen as ek op my beste is,” het hy aan AAP gesê.
En ... die Brit word nou deur die legendariese Ivan Lendl afgerig.
Die buiteperde is die Fransman Jo-Wilfried Tsonga, wat verlede jaar ’n paar keer gewys het dat hy op sy allerbeste net so goed soos die vier bestes kan wees – en boonop dié jaar begin het met blink seges oor Federer en Nadal in Doha, en Tomas Berdych, wat sy talent bewys het toe hy die eindstryd van Wimbledon in 2010 behaal het.