Droom van Spele vervaag vir hokkie
2011-12-31 18:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
JANUARIE
* Die SA vroue-hokkiespan skop hul jaar af, deur Azerbeidjan met 4-0 te klop in ’n reeks van vyf toetse. Die Proteas teken 13 doele aan en staan 4 af.
* Die vroue speel die eerste 6 van 9 toetse teen China in Johannesburg, en wen vyf daarvan, met ’n doelverskil van 12-4.
FEBRUARIE
* Die vroue reis na Bloemfontein vir drie toetse teen China en vier teen België. Hulle wen twee van die kragmetings teen China en ál vier teen die Belge.
JUNIE
* Marsha Marescia en haar spanmaats se voorbereiding vir die Kampioene-uitdaagtoernooi sluit vier verloor- toetse teen Spanje en Nederland in.
* Die Proteas skop hul Kampioene-toernooi, waarin hulle die eindstryd moet haal om Saskok se Olimpiese kriteria te bevredig, met ’n gelykop-uitslag van 2-2 teen Skotland af. Hulle volg dit op deur Japan met 5-1 af te slag en kwalifiseer vir die kwarteindronde met ’n gelykop-uitslag van 5-5 teen die VSA.
* Pietie Coetzee teken ’n driekuns in die eerste helfte teen die VSA aan, om die wêreldrekord vir meeste internasionale doele te verbeter tot 221.
* Suid-Afrika verloor sy aanspraak op die titel, toe hy in ekstra tyd van die kwarteindstryd teen Spanje ’n doel afstaan en met 2-3 verloor.
* In hul volgende wedstryd reken die Proteas met 2-0 met Indië af. Hulle eindig vyfde ná ’n sege met 2-1 oor Ierland. Coetzee sluit die toernooi af met 225 doele in 227 internasionale wedstryde.
JULIE
* Die Proteas bly in Europa vir ’n marathon-sessie van agt toetse in nege dae. Hulle deel ’n reeks teen België ná ’n sege, ’n gelykop-uitslag en ’n nederlaag; verloor die toetse teen die wêreld se voorste span, Nederland, met 0-5 en 1-5 – en verloor twee van drie stryde teen Skotland.
AUGUSTUS
* Die interprovinsiale hokkie-toernooi vir senior mans vind in Randburg plaas, met Kwazulu-Natal Raiders op jag vir ’n derde titel in ’n ry.
* Die Raiders klop Gauteng-Noord met 4-3 in ’n senutergende halfeindstryd wat ekstra tyd én nege strafdoele insluit. Die WP klop Suid-Gauteng met 3-2 in die ander halfeindstryd.
* Raiders behaal ’n driekuns aan titels; klop WP met 3-1.
* ’n Week later, in die interprovinsiale toernooi vir vroue in Bloemfontein, weerhou die WP Suid-Gauteng van ’n driekuns aan titels, deur die eindstryd met 4-3 te wen.
SEPTEMBER
* Die mans en vroue word as Afrika-kampioene gekroon ná suksesvolle Afrikabeker-veldtogte. Marsha Marescia se span teken 24 doele in vier wedstryde aan, sonder om een af te staan. Die mans se algehele telling ná vier wedstryde is 17-2.
NOVEMBER
* Die SA vroue-span verloor ’n toets teen Duitsland met 3-4.
* ’n Opwindende eerste toets teen Nederland eindig 5-5 ná ’n terugvegpoging deur die Suid-Afrikaners. ’n Dag later verneder die Nederlanders hulle 5-1.
* Suid-Afrika speel gasheer vir die Kampioene-uitdaagtoernooi vir mans, waarin die tuisspan minstens die eindstryd moet haal om Saskok tevrede te stel.
* Austin Smith en sy spanmaats bespreek hul plek in die halfeindronde van dié kompetisie, deur Japan met 3-2 te klop.
* Hul drome word in die halfeindronde verpletter, toe hulle met 2-4 teen die agtmalige Olimpiese kampioen, Indië verloor.
DESEMBER
* Die SA vroue haal die eindstryd van ’n viernasiesreeks teen die wêreldkampioen Argentinië, Ierland en Indië ná seges oor laasgenoemde teenstanders, maar verloor met 0-2.
* Pietie Coetzee word in vroue-hokkie se “Wêreldspan” – die All Stars – ingesluit.