EKSKLUSIEF: Wit Buffel en Sonny Bill klim in Desember in SA deur toue vir...Ronde 2
2013-02-17 01:25
Dis amptelik – Francois Botha en Sonny Bill Williams het ooreengekom om in Desember in Suid-Afrika te boks.
Thinus Strydom, die Wit Buffel se bokspromotor, het die afgelope week eksklusief aan Rapport vertel dat hy en Williams se agent, Khoder Nasser, Woensdagoggend om 07:00 op ’n herontmoeting tussen die veteraan- en aspirant-bokser ooreengekom het.
“Nasser het my vroeg gebel en ingestem tot ’n geveg in Suid-Afrika,” het Strydom bevestig.
“Hulle het wel hierdie keer ’n paar voorwaardes, soos dat hulle drie maande voor die tyd en direk ná die geveg al wat ’n monster is vir ordentlike opkikkertoetse wil stuur. Daarmee het ons nie pyne nie.
“Ons het in beginsel op Desember ooreengekom en moet nou ’n geskikte datum met die TV-maatskappye bespreek voordat ons die finale kontrak onderteken.”
Strydom het bygevoeg dat die Wêreld-boksvereniging (WBA) se verteenwoordiger in Suid-Afrika, Stan Christodoulou, hulle dié keer gaan help om die geveg werklik die status van ’n internasionale titelgeveg te gee – “een met 12 rondes, soos dit hoort”.
Strydom betwis die geldigheid van verlede week se geveg, en meen Nasser – die man wat die skynbare WBA-onderhandelinge behartig het – het almal op ’n slinkse manier om die bos gelei.
Hoewel Strydom die hoop koester dat die WBA se internasionale titel Botha vir die meerderwaardige wêreldtitel kan laat boks, meen die Wit Buffel sy geveg teen Williams sal moontlik ook sy laaste wees.
“Ek gaan die mannetjie nog vir oulaas roer,” het Botha aan Rapport gesê.
“Maar ek raak nie jonger nie en ek wil nou meer tyd saam met my seun (Marcel “Mayhem” Botha) deurbring. Hý kan nou vir jou boks.”
Volgens Botha was dit ’n reuse-fout, waarvoor hy Nasser die skuld gee, vir Williams om nou al teen ’n gesoute bokser te veg.
“As ek geweet het ons gaan net 10 rondes boks en nie 12 nie, het ek hom in die negende uitgeslaan. As jy ’n wedloop van 2 000 meter hardloop, sprint jy mos net die laaste 100?meter. Maar toe sê hulle vir my op die 1 400-merk dis net ’n 1 500 dié.
“As hulle my vroeër gesê het, sou ek ’n ander strategie gevolg en Sonny Bill uitgeslaan het.”
Botha meen wel Williams was beter as wat hy verwag het.
“Nee, hel, in sy vorige gevegte het hy geen balans gehad nie. ’n Afkophoender. Maar dié keer het hy baie meer beheer gehad. Ek was verras, maar nie onkant betrap nie.”
Volgens Strydom wil die Kiwi einde 2016 sy rugbystewels bêre en voltyds boks.
“Hy wil in 2015 vir die All Blacks Wêreldbeker toe gaan, in 2016 vir Nieu-Seeland op die Olimpiese Spele sewesrugby speel en daarna nét boks. Ons moet nog die datums vasstel, maar Sonny Bill wil ook in Desember in George in die Premierliga-sewestoernooi speel.”