Ernie skop af in Volvo
2012-01-14 23:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Vir die eerste keer in baie, baie jare hoef Ernie Els nie op sy private straler te klim vir sy eerste afspraak van die jaar nie.
Dié keer hoef hy nie eens ’n tas te pak nie – hy hoef vandeesweek net ’n kort motorrit te neem van sy huis in Heroldsbaai na die Fancourt-Linksbaan, waar hy een van die sterre in die Volvo-toernooi van kampioene sal wees.
Els is een van sewe Suid-Afrikaners in dié toernooi, waarvoor net spelers kwalifiseer wat in 2011 Europese titels gewen het, of in hul loopbane 10 of meer krone ingepalm het.
Die Big Easy is daar danksy sy sege in die Suid-Afrikaanse Ope in Desember 2010.
Dié toernooi het deel gevorm van die Europese reeks se 2011-seisoen.
“Ek kan in my eie bed slaap en kookkos by my eie huis kry. Daar is dalk twee of drie toernooie in ’n jaar waar ek so bevoorreg is – en glo my, dis ’n groot plesier,” het Els die afgelope week op sy webtuiste gesê.
“Net so ’n groot lekkerte is die Fancourt-baan, waar ek wonderlike herinneringe het, veral van die Presidentebeker in 2003 en die Suid-Afrikaanse Ope.
“Dis ’n spesiale plek en die Links is ’n wonderlike gholfbaan. Ek kan nie aan ’n beter plek dink om my seisoen te begin nie.
“En ná meer as 20 jaar in beroepsgholf raak ek steeds opgewonde oor die vooruitsig van ’n nuwe jaar op die gholfbaan.”
Retief Goosen, wat die Suid-Afrikaanse Ope gewen het deur Els in die pylvak te troef toe dit in 2006 laas by Fancourt plaasgevind het, was een van die eerste spelers wat sy uitnodiging na die Volvo-toernooi aanvaar het. Hy is daar danksy sy 14 seges in die Europese reeks.
Die ander vyf Suid-Afrikaners in die veld – Charl Schwartzel, Louis Oosthuizen, Thomas Aiken, Garth Mulroy en Hennie Otto – is daar danksy oorwinnings in Europese toernooie in 2011.
Schwartzel het koning gekraai in die Meesterstoernooi en verlede Januarie se Joburg Ope en Oosthuizen het bo uitgekom in die Afrika Ope.
Vir Aiken en Mulroy was 2011 die jaar van hul eerste Europese suksesse – Aiken s’n in Spanje en Mulroy s’n in die Alfred Dunhill-kampioenskap.
Otto het sy plek bespreek met ’n indrukwekkende vasbyt-sege in die SA Ope in Desember.