Grace se 'geheim'
2012-01-28 23:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
MARIZANNE KOK IN JOHANNESBURG
Hy het nooit paniekerig geraak wanneer die geluksgodin hom in die steek gelaat het nie, nooit ophou glo dat hy die nodige houe in sy arsenaal het om die laaste man staande te word nie – en nooit vir homself gesê sy kans is daarmee heen nie.
In twee weke het die 23-jarige Branden Grace ál sy beste eienskappe op die gholfbaan uitgestal, om te verseker dat sy naam nog lank in die geheue van Suid-Afrikaanse én Europese gholf sal weergalm.
En vir die paar tekortkominge wat hom dalk op ’n ander dag van sy indrukwekkende seges in die Joburg Ope en Volvo-toernooi van kampioene kon weerhou, het Grace ook ’n oplossing gehad: ’n “geheime wapen” in die vorm van ’n joggie wat al groot sukses op die internasionale verhoog behaal het.
Die jong Buffelsbaaier se sak word sedert die begin van Desember deur ’n man met die naam Zach Rasego gedra. Rasego het Gary Player se sak gedra toe hy die Senior Britse Ope in 1997 gewen het – en hy het in 2010 saam met Louis Oosthuizen gestap toe dié Suid-Kapenaar in die Britse Ope in St. Andrews geseëvier het.
Wat is die kans dat Rasego reeds besig is om Suid-Afrika se volgende major-kampioen te slyp?
Grace kon sy dankbaarheid vir die ouer man se hulp tydens sy seges in Johannesburg en George nie wegsteek nie, en hy het geen geheim van sy bewondering vir Rasego gemaak nie.
Met bitter goeie rede ook – sedert Rasego sy sak aan die begin van Desember begin dra het, het die 23-jarige sy Europese spelerskaart by die kwalifiseringskool gewen, die eerste twee Europese titels gewen en gespeel soos ’n man wat nie meer in homself twyfel nie.
“Zach moet beslis krediet kry,” het Grace ná die Joburg Ope gesê. “Elke keer wat ek gefrustreerd was met ’n slegte hou, ’n ongelukkige wip van die bal of onvermoë op die setperk, het hy my gehelp – óf met ’n paar kalm woorde, óf deur my te herinner om te fokus op die lyn en spoed van die setperke, óf sommer net met ’n gesprek of kwinkslag oor iets anders as gholf.
Hy het die vermoë om al die regte dinge te sê en my kalm te hou: “Ons het ’n goeie verhouding opgebou, en hy was baie ondersteunend. Ek hoop ons kan nog lank saamwerk.”
Die ontstaan van Grace en Rasego se werksverhouding was skynbaar in die sterre geskryf.
Nadat Louis Oosthuizen verlede jaar besluit het om nóg ’n ervare joggie, Wynand Stander, aan te stel, was Rasego vir ’n paar maande werkloos, maar filosofies daaroor: “Ek wag vir die regte sak,” het hy by die BMG Classic in November gesê.
In Grace het hy nou ’n speler gevind wat oop vir sy raad en inspirasie is, soos Oosthuizen as ’n grasgroen 22-jarige was toe Rasego sy sak geneem het.
Die uiteinde was vyf Sonskynreeks-seges, twee Europese oorwinnings en ’n major.
So hoe lyk die toekoms vir die suksesvolste gholfduo van die jaar tot dusver? Vir Grace lê die wêreld oop. En Rasego lyk na net die regte man om die pad saam met hom te stap.
Nóg ’n juweel uit die Els-stigting
Branden Grace se oorwinning verlede Sondag in die Volvo-toernooi van kampioene beteken dat ál die Europese toernooie wat tot dusver vanjaar beslis is, deur voormalige lede van die Ernie Els & Fancourt-stigting gewen is.
Grace, wat in 2006 deur Els se stigting vir belowende jong spelers onder hande geneem is, het die week vóór sy Volvo-sege ook in die Joburg Ope geseëvier.
Sewe dae voor dít, in Oos-Londen, het Louis Oosthuizen die Afrika Ope gewen. Oosthuizen was van 2000 tot 2002 ’n EEF-lid.
“Ek was teleurgesteld om in die uitspeelstryd (van die Volvo-toernooi) te verloor, maar ek moet sê ek was baie bly vir Branden Grace,” het Els, wat saam met Grace en Retief Goosen in Sondag se valbylstryd was, op sy webblad gesê.
“Dis vir my wonderlik om ons jong ouens so goed te sien vaar en te weet ons (die stigting) het hulle gehelp om op hierdie pad te kom. Dis natuurlik ’n wonderlike begin aan die jaar vir die stigting – ek kon nie vir meer vra nie. En hierdie vertonings sal beslis ons huidige lede motiveer om hard te werk en groot te droom.”