Kevin en Chani kan gróót treë Doer Onder gee
2012-01-14 23:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Johannesburger Kevin Anderson en gebore Vrystater Chani Scheepers sal die reënboogvlag vandeesweek by die Australiese Ope in Melbourne dra met groot drome.
Anderson (25) en Scheepers (27) is albei in die top-40 op hul onderskeie wêreldranglyste, en is direk in die loting van die jaar se eerste Grand Slam-toernooi ingesluit.
En ... Anderson is vir die tweede keer in sy loopbaan een van die gekeurde spelers – dié keer nommer 30.
Vir dié pasgetroude kanonpoot is daar in die aanloop tot die toernooi net één doelwit: wen daardie eerste wedstryd.
Kevin kon nog nooit verby die Australiese Ope se eerste ronde vorder nie, en dit bly die enigste Slam waar hy steeds nie kon wen nie.
Hy het die afgelope week verrassend verloor teen die Fransman Adrian Mannarino, maar hy sal dit agter hom moet sit om te verhoed dat hy Februarie binnegaan sonder ’n 2012-sege agter sy naam.
Anders as Anderson, het Chani haarself al bewys by die Aussie-Ope, waar sy verlede jaar in die derde ronde was. Sy het die afgelope paar jaar ontwikkel in ’n speler wat op haar beste in die grotes vaar – sy het haarself in 2010 aangekondig toe sy die vierde ronde van die Franse Ope gehaal het, en verlede jaar ook in die Amerikaanse Ope tot die derde ronde deurgedring.
Vir Chani om haar sukses van 2011 in Melbourne te herhaal, sal van die eerste dag af op haar skerpste moet wees. Sy speel in die eerste ronde teen die tweemalige Grand Slam-wenner Svetlana Kuznetsova.