Kwik-silwer
2012-08-12 00:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
En toe is dit net silwer vir Caster Semenya – maar tog die versekering van Suid-Afrika se beste Olimpiese Spele sedert hertoelating tot dié skouspel.
Semenya het gisteraand in Londen tweede in die Olimpiese eindronde van die 800 meter geëindig met ’n tyd van 1 minuut en 57.23 sekondes, haar beste tyd van die 2012-seisoen.
Die 21-jarige Suid-Afrikaner het die luidste toejuiging van al die atlete by die yslike skare in die Olimpiese stadion gekry, maar dié keer kon die skare haar nie al die pad tot goud dra nie.
Haar taktiek van agter hang tot 200 meter voor die eindstreep was gisteraand nie heeltemal suksesvol nie, met die Rus Mariya Savinova wat te ver voor was om ingehaal te word.
Savinova het goud gewen in ’n tyd van 1:56.19.
Semenya het dit egter reggekry om oor die laaste 100 meter vyf teenstanders verby te steek, onder meer die tweede Rus in die wedloop, Ekaterina Poistogova, wat brons in 1:57.53 gewen het.
Die silwermedalje was weliswaar nie die goue waarvoor die land geskree het sedert Semenya Donderdagaand in die halfeindronde stem dik gemaak het met ’n 1:57.68 nie, maar sy was steeds uitgelate ná die wedloop en het die Suid-Afrikaanse vlag trots om die baan gedra.
’n Olimpiese medalje net drie jaar ná die donkerste dae van haar jong lewe – toe sy in die openbaar verneder is terwyl vrae oor haar geslag gevra is, en vir elf maande nie gehardloop het nie – is glad nie te versmaai nie.
Semenya kan nou spog dat sy op 21-jarige ouderdom reeds ’n wêreldkampioen was en silwer by sowel die Olimpiese Spele as verlede jaar se wêreldbyeenkoms gewen het.
Vir Suid-Afrika beteken haar medalje die beste Olimpiese Spele sedert 1920.
Tussen 1924 en 2008 het die land by twee geleenthede drie goue medaljes gewen, maar nooit meer as een silwer nie.
Nou is daar drie goues, twee silwer en ’n brons in die sakkie.
