Perfekte 10
2012-12-29 22:17
Daar is ’n legio redes waarom sport die wêreld se verbeelding bly aangryp: inspirasie, emosie, menslike drama, die weerspieëling van die onvoorspelbaarheid van die lewe...
Dit was teen dié agtergrond dat Suid-Afrikaners die afgelope jaar voor hul televisiestelle ingeskuif het om hul sporthelde se grootste oomblikke gade te slaan.
In Londen is die inspirasie gelewer deur die swemhelde Cameron van der Burgh en Chad le Clos en die goue roeiers Matthew Brittain, Sizwe Ndlovu, James Thompson en John Smith – ses jong mans wat gedurf het om groot te droom en op die grootste verhoog van almal beloon is vir hul harde werk.
Op die wêreld se voorste gholfbane het Branden Grace en Ernie Els ons vanjaar herinner dat niks in sport werklik onmoontlik is nie – iets wat Hashim Amla ook in Julie met sy spogbeurt op die Oval in Londen gedoen het, en Vernon Philander met sy meteoriese opgang in wêreldkrieket.
Grace het 2012 begin met die stille vertroue dat dit vir hom ’n waterskeidingsjaar kon wees – maar nie in sy wildste drome sou hy gedink het dat hy binne net 10 maande die eerste speler sou word wat sy eerste vier Europese titels in een jaar wen nie.
Die 24-jarige Suid-Kapenaar het altesame vyf keer gewen en met ’n yslike 237 posisies op die wêreldranglys opgeskuif tot die 34ste plek.
Sy jaar het ook ’n nuwe baanrekord van 60 op die Kingsbarns-baan in Skotland opgelewer en hy is as die Sonskynreeks se geldwenner gekroon.
Amla word in Julie die eerste Suid-Afrikaner tot dusver wat in ’n toets verby die magiese 300-kerf skuif, toe hy Engeland met ’n spogbeurt van 311 kasty.
Dít was die gróót hoogtepunt van ’n gróót jaar waarin hy in 10 toetse 1 064 lopies teen ’n gemiddeld van 70.93 aanteken en altesame vier honderdtalle behaal.
In eendagkrieket het hy boonop die mylpaal van 3 000 lopies in net sy 57ste beurt bereik – vinniger as enigiemand anders in die geskiedenis.
Van der Burgh se sterretjie wou-wou verdof in 2011, toe hy op die wêreldkampioenskappe net brons in die 50-borsslag en 100-borsslag kon wen.
Dié jong Pretorianer spring egter op 29 Julie in Londen se Olimpiese swembad weg vir die eindronde van die 100m-borsslag – en lê 58.46 sekondes later op die spiraalvormige baanskeiding as nuwe Olimpiese kampioen én wêreldrekordhouer.
Net twee dae later sorg Le Clos ook vir euforie in sy geboorteland, toe hy sy groot held Michael Phelps met vyf honderdstes van ’n sekonde klop om Olimpiese goud in die 200-vlinderslag te verower.
Drie aande later wen hy ook silwer in die 100-vlinderslag.
Le Clos verlaat Londen as ’n wêreldwye sensasie, met die swemwêreld wat hom bestempel as die volgende Phelps en tienermeisies wat oor hom swymel.
Hy sluit die jaar boonop met nog ’n hoogtepunt af toe hy in Desember op die kortbad-wêreldbyeenkoms goud in die 100-vlinderslag wen.
Asof twee goue medaljes binne die eerste vier dae van die Olimpiese Spele Suid-Afrikaners nie reeds genoeg bederf het nie, laat vier jong Pretorianers hulle op die sesde dag weer juig toe hulle goud in die liggewig-roeikompetisie vir viertalle wen.
Brittain, Ndlovu, Smith en Thompson stuur ’n yslike eindpoging van stapel om van die vierde posisie halfpad deur die eindronde verby Australië, Denemarke en Brittanje te storm vir ’n goue medalje.
Die viertal word later bekroon as die internasionale roeifederasie se beste mans-roeispan van die jaar en Suid-Afrika se sportspan van die jaar.
In April tref Els se roemryke loopbaan ’n laagtepunt, toe hy die eerste keer in 18 jaar nie vir die Amerikaanse Meesterstoernooi kwalifiseer nie – maar net drie maande later bevind hy hom terug op die kruin van die golf toe hy teen die verwagtinge in seëvier in die Britse Ope.
Els wen sy tweede Claret Jug en vierde major-titel ná Adam Scott sy greep op die kroon met brouhoue by al vier die laaste putjies verloor.
Dít, en ’n uitstekende 32 (-4) oor die laaste nege putjies, stel die Big Easy in staat om ’n agterstand van ses houe uit te wis.
Philander word in Maart die haastigste speler na 50 toetspaaltjies in 124 jaar, toe hy dié kerf in net sy sewende toets verbysteek.
In dié wedstryde trek hy ses keer vyf paaltjies in ’n beurt plat en eis twee keer 10 slagoffers in ’n toets.
Hy sluit die jaar af as die wêreld se naasbeste toetsbouler, met 67 toetspaaltjies teen ’n gemiddelde van 17.98.