Retief loop voor; Rory 1 agter in VSA
2010-08-07 21:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
marizanne.kok@sport24.co.za
En steeds duur Suid-Afrikaanse gholf se droomseisoen voort.
Ná sewe maande waarin vier Suid-Afrikaners tussen hulle sewe internasionale seges behaal het, is daar nog geen teken dat die land se voorstes lus is om hul gesamentlike voet van die pedaal te haal nie. Inteendeel.
Hierdie naweek is dit die kans van Retief Goosen en Rory Sabbatini om glorie te jaag, nadat hulle goed begin het in hul onderskeie toernooie in die VSA.
Goosen was by die halfpadmerk van die WGC-Bridgestone-toernooi die voorloper ná skitter-rondes van 67 en 66, terwyl Sabbatini ondanks ’n nukkerige setyster ’n enkele hou agter was ná twee rondes van die Turning Stone-toernooi in New York.
Goosen het Vrydagoggend by die Firestone-buiteklub in Ohio ses voëltjies en twee brouhoue aangeteken. Die hoogtepunt van sy ronde was by die vierde putjie, waar hy van 25 treë links van die setperk ’n onverwagse voëltjie aangeteken het.
Daarna was daar geen keer aan hom nie.
“Ek is tevrede met die ronde. Ek het nie in die verlede so goed gevaar op hierdie baan nie, so dis lekker om ’n slag vir twee rondes goed te speel en te sien wat dit sal verg om oor die naweek só aan te hou,” het Goosen aan pgatour.com gesê.
* Sabbatini is sterk in die prentjie in New York, nadat uitstekende langer spel ’n paar swak houe op die setperke geneutraliseer het. Hy het Vrydag gaan slaap met sy telling reeds 9 houe minder as syfer, ondanks die feit dat daar 60 sethoue (30 op elke dag) in sy totaal van 135 was. Hy het byna 90% van setperke in regulasie-houe bereik – meer as enige ander speler in die toernooi.
* Intussen lyk dit ál waarskynliker dat Phil Mickelson hierdie week se PGA-kampioenskap as die wêreld se amptelike beste speler sal begin. Hy was ná 36 putjies by Firestone ’n enkele hou agter Goosen, nadat hy Vrydag ses voëltjies aangeteken het vir ’n ronde van 66.
Terselfdertyd het Tiger Woods, vir wie Mickelson vanaand as nommer 1 kan onttroon, nóg ’n slegte dag gehad.
By die halfpadmerk was Tiger 13 houe agter Goosen ná rondes van 74 en 72. Hy het oor die eerste 36 putjies 11 brouhoue aangeteken. As Mickelson by Firestone onder die top-4 eindig en Tiger buite die voorste 44, sal Woods vir die eerste keer in meer as vyf jaar nie bo-aan die ranglys wees nie.
- Rapport