SA gholf pronk
2012-01-21 22:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die Suid-Afrikaanse aanslag in die Volvo-toernooi vir kampioene staan rotsvas, nadat vyf van die land se agt verteenwoordigers ’n uitdagende dag by die Fancourt Links-baan gister met ’n kans op glorie afgesluit het.
’n Nat en triestige Suid-Kaapse dag het tot ’n einde gekom met ’n erg beknopte telbord, wat dertien spelers binne 6 houe van die voortou insluit. Waar albei die eerste dae geëindig het met die voorloper 4 houe voor die res, is daar nou twee spelers in die gesamentlike voortou: George se goue gholfseun, Branden Grace (wat teruggesak het met ’n ronde van 75, 3 houe meer as baansyfer) en die eersteronde-voorloper, die Belg Nicolas Colsaerts (69).
Die duo is op ’n telling van 209 houe (10 minder as baansyfer), en is ’n enkele hou voor die Suid-Afrikaners Charl Schwartzel (68) en Retief Goosen (70).
Die Europese Ryderbeker-kaptein, José Maria Olazabal, is ’n verdere hou terug ná ’n 72, Louis Oosthuizen (72) en Padraig Harrington (70) deel die sesde plek op -7 en Ernie Els (71) is in die agtste plek op -6.
Grace het gister drie houe oor die eerste sewe putjies ingeboet, ná ’n paar ongelukkige wippe van die bal en ’n verkeerde keuse of twee hom duur te staan gekom het.
Sake het verder skeefgeloop ná die draaislag. ’n Voëltjie by die elfde het hom wel weer ’n bietjie asem gegee, maar hy het ’n dubbele brouhou by die twaalfde putjie aangeteken om terug te sak na -9, op die presiese oomblik dat Schwartzel en Goosen met voëltjies na dieselfde telling geskuif het.
Schwartzel, wat in verlede week se Joburg Ope en die eerste dae van die Volvo-toernooi ver van sy beste was, het die res van die veld gister herinner waarom hy ’n major-kampioen is met ’n beste-van-die-dag-ronde van 68 (-5). Die hoogtepunt van sy ronde was ’n arend by die syfer-5 negende, waar hy ’n sethou van twaalf sentimeter ingerol het ná twee perfekte eerste houe.
Hy, Goosen en die Engelsman Oliver Fisher was die enigste spelers wat nie gister foute oor die eerste nege putjies gemaak het nie.
Tot Grace se krediet het sy landgenote se goeie vertonings hom nie te veel ontsenu nie, en het hy die voortou by die dertiende putjie teruggeneem. Maar nóg ’n dubbele brouhou by die sewentiende – net ’n paar minute ná Colsaerts die gesamentlike voorloper geword het met ’n arend by die agttiende putjie – was ’n lelike nekslag, en het beteken dat hy ’n voëltjie by die laaste moes maak vir ’n ronde van 75 (+3) en ’n aandeel aan die oornag-voortou.
Colsaerts verdien ’n klop op die skouer vir die manier waarop hy teruggeveg het.
Hy het sy baanrekord-64 van Donderdag opgevolg met ’n tweede ronde van 76, en was ses houe agter by die halfpadmerk, maar het gister teruggestorm met ’n 69 wat vier voëltjies en ’n brouhou ingesluit het.
Sy arend by die agttiende het gevolg ná ’n yslike bofhou van byna 300 meter en ’n 8-yster tot enkele treë van die vlaggie.
Oosthuizen het gister niks skouspelagtig gedoen nie, maar ook sy foute genoegsaam beperk om steeds stewig in die wedloop te wees.
Els se dag het sleg begin, met ’n dubbele brouhou by die ysingwekkende derde putjie, maar hy het die dag afgesluit met drie voëltjies oor die laaste ses putjies.
Die groot verloorders in die derde ronde was Thomas Aiken en die Engelsman Lee Slattery, wat Vrydagaand saam tweede was.
Albei het rondes van 77 (+5) aangeteken, en is nou 6 houe agter.