SA wedstryde is beknoei, sê Fifa
2012-12-16 03:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die uitvoerende bestuur van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) vergader vandag om die wêreldbeheerliggaam van sokker, Fifa, se verslag oor wedstrydknoeiery tydens Bafana Bafana-wedstryde in 2010 te bespreek.
Luidens dié verslag van Fifa is daar “oortuigende” bewyse van knoeiery tydens Bafana se vriendskaplike opwarmwedstryde ter voorbereiding van 2010 se Wêreldbeker-toernooi.
Safa wou geen inligting bekend maak oor watter wedstryde van Bafana ondersoek is nie, maar volgens inligting was Suid-Afrika se kragmetings met Guatemala en Colombia onder verdenking.
Bafana het Guatemala in 2010 met 5-0 geklop en met 2-1 oor Colombia geseëvier.
In die wedstryd teen Gautemala het die skeidsregter, Ibrahim Chaibou van Niger, drie strafskoppe toegeken, waarvan twee verdag was. Al drie die doele in die wedstryd tussen Suid-Afrika en Colombia is vanaf strafskoppe aangeteken.
Fifa se ondersoek na internasionale wedstrydknoeiery is gelei deur sy hoof van sekuriteit, Chris Eaton.
Dit het alle vriendskaplike wedstryde ter voorbereiding van 2010 se Wêreldbeker behels.
Luidens Eaton se verslag het ’n vals sokker-ontwikkelingsmaatskappy, Football 4U, as ’n front vir ’n Asiatiese dobbelsindikaat gewerk.
Die hoof van dié sindikaat is die nou veroordeelde knoeier Wilson Raj Perumal. Perumal en Football 4U het Safa geïnfiltreer onder die dekmantel dat hulle wou help om skeidsregters te ontwikkel.
Talle Safa-amptenare word glo geïmpliseer.
“Ons sal optree teen enigiemand wat wederregtelik opgetree het. Ons sal wys dat Safa nie enige korrupsie duld nie,” het Robin Petersen, uitvoerende beampte van Safa, gister gesê.