Sending Londen
2012-01-07 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
In ’n prysenswaardige poging om die yslike gaping tussen die Suid-Afrikaanse en die internasionale atletiekseisoen in Olimpiese Jaar 2012 te verklein, vind die eerste SA “ope” kampioenskappe op 4 en 5 Mei in Pretoria plaas.
Volgens Frik Vermaak, hoof-uitvoerende beampte van Atletiek Suid-Afrika (ASA), sal buitelandse deelnemers op dié byeenkoms ook medaljes kan wen – anders as by die “gewone” SA kampioenskappe, waar net Suid-Afrikaners met medaljes beloon word.
“Daar is reeds lankal ’n behoefte dat buitelanders, en veral atlete van ons Afrika-buurstate, in Suid-Afrika op gelyke grondslag met hul SA broers en susters deelneem,” sê Vermaak aan Rapport.
“Dit skep eintlik ’n verleentheid om by die ‘gewone’ SA kampioenskappe byvoorbeeld ’n goue medalje aan ’n SA atleet te gee wat tweede of selfs derde in ’n item eindig. Die SA kampioenskappe sal vanjaar ’n geslote byeenkoms vir plaaslike atlete wees, terwyl enigeen ter wêreld aan die ope-kampioenskappe kan deelneem – én as kampioene gekroon word indien hulle wen.”
Volgens Vermaak sal atlete by die “gewone” SA kampioenskappe – wat vanjaar op 13 en 14 April in Port Elizabeth plaasvind – steeds vir hul provinsies deelneem. By die ope-kampioenskappe sal atlete egter in hul klubkleure as individue deelneem.
“Niemand sal gedwing word om aan die Pretoria-byeenkoms deel te neem nie.
“Dit hang net van ons atlete self af of hulle daar wil slyp.
“Hoewel die ‘gewone’ SA kampioenskappe nie weer vanjaar, soos voorheen, ’n proef sal wees waar atlete wat daar vir die Olimpiese Spele kwalifiseer outomaties in die SA span na Londen sal wees nie, verwag ons steeds dat ons Olimpiese kandidate in die Baai sal deelneem,” sê Vermaak.
Vir jare onder die nou-vergane Leonard Chuene-regime is die SA seisoen met die nasionale kampioenskappe in April afgesluit – en was die gaping tussen die plaaslike en internasionale seisoen enorm.
Vanjaar vind die laaste Geelbladsye-byeenkoms ’n week ná SA’s plaas en twee weke daarna is die SA studente-kampioenskappe op die UJ-baan in Johannesburg, gevolg deur die nuwe ope-kampioenskappe ’n week later.
Die ope-byeenkoms vind plaas skaars ’n week voordat die internasionale seisoen op 11 Mei met die Diamantliga-byeenkoms in Doha afskop. Die tweede Diamantliga is ’n week later in Shanghai.
Op ’n Rapport-vraag of dit nie ’n goeie plan sou wees om reeds by óf die ‘gewone’ SA’s óf die ope (óf albei) in Olimpiese Jaar moontlike SA Olimpiese aflosspanne saam te laat deelneem om hulle in spanverband vir die Spele te slyp, sê Vermaak: “Nee, ons wil nie aan die tradisie torring dat jy vir jou provinsie by SA’s deelneem nie.
“Ons beskou nietemin ons aflosspanne as sterk medalje-kandidate by die Spele – en ons belowe ons sal hulle genoeg slypkans saam gee voor die eerste skoot in Londen klap.”
Die SA mans-4x400-span het verlede jaar in Suid-Korea ’n verrassende silwermedalje by die wêreldkampioenskappe gewen.
Die gevoel bestaan steeds dat ánder SA aflosspanne nét so goed op groot internasionale byeenkomste sal vaar indien hulle meer slypkans saam kry. Só ’n kans sal hom wél van 27 tot 30 Junie voordoen, wanneer die Afrika-kampioenskappe in Benin plaasvind.
Vraag: Gaan SA Olimpiese kandidate hul gesondheid en/of fiksheid op die weegskaal plaas in só ’n ?landjie, só kort voordat die eerste Olimpiese skoot begin Augustus in Londen klap?