So naby, tog so ver vir George
2013-01-27 00:04
George Coetzee se lang wag vir daardie ontwykende eerste sege in die Europese reeks duur voort, nadat die Engelsman Chris Wood sy hart gister in Katar met ’n merkwaardige arend by die laaste putjie gebreek het.
Wood het sy eie wendroogte in Europa in die proses gebreek, danksy ’n ronde van 69 (drie houe minder as baansyfer) en ’n totaal van 270 (-18).
Coetzee het die baan gistermiddag as die voorloper verlaat, ná ’n uitmuntende 65 wat ses voëltjies en ’n arend by die tiende putjie ingesluit het.
Met ’n totaal van 17 onder moes hy egter op hete kole in die klubhuis gaan sit en wag terwyl Sergio Garcia (in daardie stadium een hou agter met twee putjies oor) en Wood (twee agter met vier oor) hul rondes voltooi.
Toe Garcia ’n voëltjie by die agttiende aanteken om saam met Coetzee voor te loop en Wood na die laaste putjie stap met ’n agterstand van een hou, het ’n uitspeelstryd onafwendbaar gelyk – maar die Engelsman het ander idees gehad.
Hy het sy bofhou by die agttiende reg in die middel van die skoonveld geslaan, sy naderhou tot sowat drie meter van die vlaggie geslaan en die arend-sethou gesink om die titel in regulasie-spel syne te maak.
“Daar is vandag (gister) ’n enorme gewig van my skouers gelig,” het hy aan die Europese reeks se webtuiste gesê.
“Dit voel asof ek nou kan aangaan en net aanhou wen.”
Wood het die dag begin met ’n voorsprong van drie houe, maar dit sien krimp toe hy by die derde putjie twee houe laat val het.
Dit het die deur vir die res oopgemaak, en veral Coetzee se oë het begin sprankel oor sy wenkans.
Die Pretorianer het homself die afgelope drie seisoene bewys as ’n speler wat bane in laaste rondes aan die keel kan beetkry, en gister was die toestande perfek om weer so te maak.
Met sy ysterspel uitmuntend en sy setyster heel gewillig het hy die agterstand van vyf houe waarmee hy die ronde begin het, binne tien putjies uitgewis.
Ondanks al sy pogings was die triomf egter nie in sy sterre geskryf nie.
Dit was die sewende keer in net meer as agttien maande dat hy tevrede moes wees met ’n tweede of derde plek – ’n statistiek wat hom hopelik net verder sal aanvuur vir sukses wat hy vroeër of later móét behaal.
Branden Grace het ’n 71 (-1) aangeteken om sesde te eindig.
Dis die derde keer in soveel weke dat hy ’n top-10-uitslag behaal, ná ewe goeie spel in Abu Dhabi en Durban.